Curro vier uitstekende matriekuitslae

Curro Hermanus. (Foto: Verskaf)

Die 1 525 leerders van Curro wat in 2020 die matriekeindeksamen afgelê het, het daarin geslaag om ʼn buitengewone slaagsyfer van 99,5% te behaal.

Verder het 85,6% van dié groep leerders vir universiteitstudies gekwalifiseer en die top-10-leerders het almal met ʼn gemiddeld van bo 90% geslaag.

Die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) het Vrydag sy matriekuitslae bekendgemaak en Curro Holdings, ʼn JSE-genoteerde onafhanklike onderwysverskaffer, se matriekuitslae word deur dié raad erken.

Al die Curro-kandidate kom uit Curro-skole en Curro Select-skole wat ʼn verbeterde CAPS-kurrikulum aanbied.

“Ons leerders se slaagsyfer van 99,5% is werklik ʼn buitengewone prestasie as ʼn mens die geweldige druk in ag neem wat hulle onder die Covid-19-pandemie gehad het. Ons matrieks van 2020 het hulself beslis oortref,” het ʼn trotse Andries Greyling, uitvoerende hoof van Curro Holdings, gesê.

“As ons Curro se 2020-uitslae met 2019 vergelyk, is dit aansienlik hoër. Dit is ook opmerklik dat meer as 70% van die leerders met ʼn C-gemiddeld en hoër geslaag het.

“Ons fokus is op die ontwikkeling van afgeronde, selfversekerde leerders wat in staat is om hul man te staan in ʼn komplekse, mededingende wêreld. Daar is geen twyfel dat die klas van 2020 sal bly uitstaan soos vanjaar nie,” het Greyling bygevoeg.

“Die hele Curro-familie wens elkeen van die klas van 2020 geluk met die deursettingsvermoë wat hulle in hierdie jaar getoon het. Hulle het werklik hul sukses verdien en ons is opgewonde om te sien wat vir elkeen van hulle voorlê,” het André Pollard, uitvoerende hoof van leerplanne by Curro Holdings, gesê.

ʼn Seepgladde sprong na aanlyn leer

Greyling meen dit was Curro se vermoë om ʼn vinnige oorgang na ’n afstandleerstrategie te maak toe skole tydens die pandemie vir die eerste keer gesluit is, wat gehelp het om 2020 se akademiese sukses te verseker.

“Die afgelope akademiese jaar het groot onsekerheid ingehou, maar nie een van die uitdagings van die jaar was groter as ’n volle skuif na die virtuele klaskamer in jou finale skooljaar nie.

“Ons onderwysers en personeel moet ook geprys word vir die professionele toewyding aan ons afstandleerstrategie. Sonder almal se toewyding en ons ouers se onwrikbare ondersteuning, sou ons eenvoudig nie hierdie vlak van akademiese sukses kon toon nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.