Daai klippie in die skoen

Halrika Breytenbach. (Foto: Verskaf.)

Jeremia 33:3 – “Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.”

Deur Halrika Breytenbach

Ek het ’n gawe goue uur tot my beskikking. Manlief is vroeër tuis en doen die ryrondte vir Prinses se ballet. Ek besluit om die laatmiddag se herfsson te benut en stap na die vlei toe hier naby ons huis. Terwyl my longe dankbaar die vars lug inadem, verwonder ek my aan die rooi-en-roesbruin-skouspel wat voor my afspeel. Die laaste herfsblare van die seisoen vertoon met trots hul kaleidoskoop van kleure. Die wolke speel in spierwit spatsels, afgeëts teen die ysblou lug. My hart huppel met elke stukkie wat ek inneem van hierdie foutlose prentjie om my.

Maar iets pla. Dit moet ’n klippie in my skoen wees wat so lastig en aanhoudend op die een plek karring. Ek voel dit met elke tree. En hoe meer ek dit probeer ignoreer, hoe meer bewus is ek daarvan. Snaaks hoe so ’n piepklein dingetjie jou hele prentjie kan versteur.

Nee wag, laat ek eers stop, dink ek. Skoen is uit, goed uitgeskud. Nêrens wil die parmantige klippie sy verskyning maak nie. Skoen weer aan. Hier gaan ek. Niks gaan nou in die pad van my middagstappie staan nie.

Maar kan jy nou meer, daai lastige gedoente is steeds in my skoen. Nee wat, nou gaan ek die klippie se gekarring maar wegstap, want my tydjie loop uit voor die donker neerdaal. Ek stap my stappie. Drink die omgewing in. Maar ai, die klippie bly so ’n lastige gekarring waarvan ek heeltyd bewus is.

By die huis gekom sien ek, nee, dis toe nie ’n klippie nie. Dis die sool aan die binnekant van my een tekkie wat ’n stukkende plekkie het. Daai piepkleine puntjie van die stukkende plekkie, het so ampertjies my hele heerlikheid gekortwiek.

“Net só,” hoor ek die wyse woorde van die Heilige Gees in my hart fluister, “só maklik kan mens perspektief verloor deur ’n piepklein gekarring wat jou hele prent versteur. So maklik.”

Soms is daar iets wat jy daadwerkliks aan die gekarring kan doen. Soos om die klippie te verwyder. Dis ’n maklike, vinnige proses. Jy moet dit egter doen. Fisiek stop en doen.

Romeine 12:2 – “…maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is.”

Soms is dit ’n langer proses. Soos om ’n nuwe sool of tekkie aan te skaf, wat die gekarring tot ’n einde sal bring. Klomp faktore kan ’n rol speel wat meebring dat die skoen nie noodwendig dadelik vervang kan word. En dan is dit boonop ’n soektog om die regte skoen te kry. ’n Nuwe skoen skaaf soms wat die proses verder uitrek. Maar soms is ’n nuwe een nodig… Nuut is lekker. Maar nie altyd net maklik nie.

So is dit in die lewe. Soms moet jy iets verwyder. Die besluit maak, dit uithaal en die lyn trek. Soms is dit ’n langer proses, wat saam met skaaf en stoei gepaard gaan. Maar jy moet steeds besluit.

Soms is daar nie iets wat jy kan doen aan daardie lastige gekarring nie. En tog is daar altyd iets – die keuse om die groter prentjie raak te sien. Om ’n fokusverskuiwing te maak. Want soms is die klippie daar om ons ook te leer om te fokus op wat wérklik saakmaak, om ons ’n nuwe perspektief te gee.

En ek sit en dink so by myself: Mag die klippies in my skoene nooit die vermoë om die groter prentjie raak te sien, by my steel nie. En dit, liewe mens, is ook my gebed vir jou.

2 Korintiërs 10:5 – “Ons neem ook elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak.”

  • Halrika Breytenbach is ‘n kommunikasiekonsultant en woorde is vir haar ‘n wonder. Sy doen ook musiekbediening en is passievol daaroor dat mense hul ware identiteit in Christus moet verstaan om die volheid van menswees en hul ware skeppingsdoel te kan ontdek. Halrika is 17 jaar getroud met haar “spanmaat Faanman” en mamma vir ‘n 11-jarige prinses. Sy kan gekontak word by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.