Daar is lewe in ʼn pop!

lappop-deur-david-lopez-pexelscom

Elke dogtertjie moet ‘n pop hê. Foto: David Lopez/Pexels.com

Die sielkundige voordeel van ʼn pop vir ʼn kind

Die meeste van ons is geseën met die kinderlike herinnering van ʼn geliefde pop. Miskien is joune steeds veilig weggebêre vir jou dogter om eendag vir haar weer ʼn nuwe naam en ʼn nuwe lewe te gee?

Miskien het jy ook die waardevolle era van ʼn Etsy Cupid-pop as ʼn speelmaatjie, geliefde kameraad en vertroueling beleef. ʼn Maatjie, met wie jy jou grootste geheime en gunstelingoomblikke ten volle kon deel. Het jy geweet dat daar kinders is wat tot vandag toe nog nooit ʼn popbaba gehad het vir wie hul ʼn naam voor kon gee en elke aand kon vashou nie?

Daar is ʼn rede waarom ʼn kind se gesiggie ophelder wanneer hulle met hul gunstelingpop speel.
ʼn Pop leer nie net vir ʼn kind van hom-/haarself en die wêreld rondom hom/haar nie. Volgens die webtuiste MamaOT, leer ʼn kind ook kognitiewe-, fynmotoriese- en selfhelpvaardighede aan wanneer hulle popspeel. ʼn Pop kan selfs met potjielesse help, deurdat die kind die aksies van die lesse wat “Mamma vir my leer” naboots. Deur met ʼn pop te praat, oefen ʼn kind ook hul taalvaardighede.

Benewens die bogenoemde vaardighede, is daar groot sielkundige voordele. Volgens Yolandi Nissen, opvoedkundige sielkundige, is ʼn pop ʼn goedkoop, maar waardevolle middel vir ʼn kind. Yolandi meen die volgende: “Die geleentheid om te speel, is op sigself ʼn mate van terapie. Kinders gebruik spel om hul probleme en bekommernisse te verwerk. Die interaksie tussen ʼn kind en ʼn pop maak dit vir sy of haar ouers moontlik om die kind beter te verstaan. In die kind self, stimuleer dit toleransie, emosionele intelligensie en empatie wat hul verder voorberei vir situasies in die lewe. Verder verryk dit ʼn kind se metaforiese denke en uitdrukking wat verbeelding en kreatiwiteit bevorder. Hierdie vaardighede is belangrik vir probleemoplossing en die persoonlike groei van die kind.”

ʼn Pop ontwikkel ʼn kind se sosio-emosionele vaardighede, want dit leer ʼn kind hoe om sy of haar eie emosies uit te druk en te verstaan. Dit is hier waar ʼn kind ʼn vroeë sin van verantwoordelikheid en deernis vir ander ontwikkel.

Dit kan ʼn kind se veilige hawe in haglike omstandighede of tye word. Dit kan daardie “iemand” word waarna ʼn kind kan vlug as daar nie ʼn persoon is om mee te praat of ʼn persoon is wat kan luister nie. ʼn Pop kan eensaamheid verbreek, ʼn pop kan betekenis aan ʼn kind gee en tot ʼn mate kan ʼn pop ook die leë plekkie en die seer van ʼn afwesige sleutelpersoon soos ʼn vader- of moederfiguur vul. Dit kan ʼn kind geliefd laat voel en ja, natuurlik verskaf dit ook ure se pret en plesier!

Deur die oë van ʼn kind, kan ʼn pop werklik die rol van ʼn beste vriend vervul. Enige kind, en veral ʼn behoeftige kind móét ʼn pop hê. Stel jouself voor hoeveel vervulling ʼn pop, aan ʼn kind wat met ʼn leemte in die hart leef, kan bring. Solidariteit Helpende Hand se Orania-tak het ʼn projek begin waar hulle aan lede van die publiek vra om lappoppe vir minderbevoorregte kinders te maak.

Daar is twee opwindende pryse op die spel. Die eerste prys sluit ʼn week se vakansie in Orania vir ses persone in en as tweede prys kan daar ʼn naweek vir twee gewen word. Alle poppe kan gekoerier word en inskrywings is gratis. Om ʼn inskrywingsvorm te bekom, besoek gerus die volgende webtuiste, of bel Magdaleen by 053 207 0108. Die kompetisie sluit op 15 September 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.