Daghospitaal maak hart oop vir behoeftiges

Centurion-Daghospitaal

Dr. Mahomed (SADA Pretoria-tak), Adri Jansen van Rensburg (ma), Jessica se sussie, Jessica Janse van Rensburg (6) was geopereer, Dr. Dave Viljoen (narkotiseur), Sr. Ina Mostert en assistant Patricia Mokgokoni

Op Donderdag 8 September het die Centurion Daghospitaal die hele dag sy teaters en geriewe gratis aangebied vir behoeftige pasiënte wat tandheelkundige prosedures nodig het.

Die kinders wat hierby gebaat het, is van gemeenskapsorganisasies in die Pretoria-omgewing, onder meer El-Shalem in Centurion vir kinders met ernstige gestremdhede, asook Smile of Joy, wat tandheelkundige hulp aan behoeftige HIV-weeskinders bied. Die meeste van dié kinders se tandheelkundige prosedures moet onder narkose gedoen word omdat dit vir hulle te traumaties sal wees om die prosedures in die tandarts stoel te ondergaan.

CDH wil graag die finansiële druk van die organisasies verlig deur kinders gratis te behandel. Die Pretoria-tak van SADA (Suid-Afrikaanse Vereniging vir Tandheelkunde) het as deel van Mondgesondheidsmaand in September, ʼn gemeenskap uitreik-aksie gehad in die vorm van ʼn “tandheelkunde-dag” saam met verskeie gemeenskapsorganisasies, waartydens kinders geïdentifiseer is vir opvolg-behandeling.

Die tandartse wat die 11 prosedures gedoen het tydens die Open Hearts-projek, is almal lede van die tak en het hul dienste gratis aangebied. Die Centurion Daghospitaal het die teater- en saalgeriewe aangebied, asook die medikasie wat nodig is vir herstel en narkose. Die narkotiseurs wat hul dienste gratis aangebied het in samewerking met die hospitaal, is Drs. Dave Viljoen en Charl Liebenberg.

Volgens Elmarie Marais, algemene bestuurder van die Centurion Daghospitaal, wil die hospitaal sy dankbaarheid vir hul suksesvolle bekendstelling betoon deur terug te gee aan die omliggende gemeenskap. “Vandag kan soveel pasiënte se lewens verander word deur ʼn dagprosedure wat hulle andersins nie kan bekostig nie. Deur die mediese wêreld se oop harte en hande, hoop ons om deur die Open Hearts-projek ʼn blywende verskil in die paar pasiënte se lewens te maak”.

Die Centurion Daghospitaal het die dag ʼn baie aangename ondervinding vir die pasiënte gemaak met geskenkpakkies, ballonne en lekker happies vir die seer kele na die tyd. “Chirurgie kan spanning veroorsaak,  maar ons vriendelike span, wat uitstekende diens lewer, verander ʼn moontlike intimiderende situasie altyd in ʼn aangename ondervinding. Ons is baie ingestel daarop om veral vir die kinders, maar ook vir die ouers, ʼn positiewe ervaring in die hospitaal te bied,” het Marais gesê.

Amori Booysen, Smile of Joy se kliniekbestuurder, is vol lof vir die hospitaal. “Smile of Joy HIV Orphans Oral Care is hartlik dankbaar vir die kostevrye behandeling van 9 van ons kwesbare weeskinders wat teaterbehandeling benodig het. Dit gaan nie net oor pynverligting nie, maar ook oor die sagtheid, liefde en opregtheid waarmee die kinders hanteer is wat ʼn groot verskil in hul lewens maak,” het Booysen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Annari ·

So lekker om iets positiefs in die nuus te lees. Dankie vir julle omgee en mag ander instansies julle voorbeeld volg – dit maak so groot verskil!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.