Dagsorg vir honde skep werk vir jonges met spesiale behoeftes

Foto: goodthingsguy.com

ʼn Dagsorgsentrum vir honde is in Bryanston op die been gebring om werkgeleenthede vir jongmense met spesiale behoeftes te skep.

Die stigter, Tamara Coumbis, het dié sentrum begin toe haar stiefseun, Julian, wat spesiale behoeftes het, gesukkel het om werk te kry ná sy studie. Julian, wat aanvanklik eers vir ʼn jaar as vrywilliger by ʼn plaaslike hondesentrum gewerk het, het dié soort werk vreeslik geniet en so is die idee vir hul eie besigheid gebore.

In ʼn onderhoud met goodthingsguy.com vertel Tamara watter positiewe uitwerking dié soort werk op Julian gehad het. Sy en haar man, Ron, het daarom verlede jaar hul eie dagsorg vir honde begin sodat Julian ʼn salaris kon verdien.

“Ons wou nie vir ander mense wag om geleenthede vir Julian te skep nie. En die beste is, nou is daar ook ander jongmense met spesiale behoeftes wat voordeel hieruit trek,” sê Tamara.

Nog ʼn tak is in Kyalami geopen en skep tans werk vir drie jongmense met spesiale behoeftes, asook twee vrywilligers.

“Die groot aantal jongmense met spesiale behoeftes kan en wíl graag werk. Dit is nie ʼn welsynsorganisasie nie maar ʼn professionele diens.”

Volgens Tamara kry hulle baie goeie terugvoer van kliënte.

“Dit is nie net ʼn werk nie, hulle is vreeslik lief vir die diere. Hierdie werk gee hulle nie net ʼn salaris nie, maar ook ʼn doel, iets wat almal soek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kobus Hattingh ·

Dit is nou n mooi storie en alle sukses vir hulle word toegewens.

ken benoni ·

Wat ‘n pragtige storie, hoop dit sal baie goed gaan met die besigheid en die jongmense! Doen so voort

Rene ·

Dis ‘n fantastiese inisiatief! Goed gedoen! Dit is baie moeilik vir jongmense om werk te kry deesdae, en soveel meer vir iemand met spesiale behoeftes. Om vir so ‘n persoon ‘n waardige werk te bied waar hy/sy werklik ‘n betekenisvolle bydrae kan lewer is seker die heel beste waarvoor hulle kan wens. Ek wens julle alle sukses toe!
Beplan julle dalk ‘n tak in Pretoria ook?

Gert Rossouw ·

Dit is wonderlik. Mag hierdie werk van krag tot krag gaan

Theresa B ·

Ag dis nou super awesome. Hoop daar word nog op ander plekke ook takke oopgemaak.

Peace ·

Baie oulik, die diere en mense word so gehelp. Die feit dat jy gestrem is of spesiale behoeftes het, beteken nie jy moet vasgemaak in ‘n stoel heeldag sit en nie jouself geniet of ‘n werkie doen of ‘n hondekind kan vat vir ‘n stappie of hom net streel en sy bakkies skoonmaak en vol maak nie. PUIK idee, wens meer mense wil dit doen. DIS FANTASTIES, maak meer sulke sentrums oop en gee alle mense menswaardigheid, en verbeter ook so die lot van DIERE!

Christelle ·

Ag fantasties. Was nou lekker om vir n slag goeie en positiewe nuus te lees…..geniet jul werk julle…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.