DAK-netwerk vereer Danny Titus en Kie

Charles Beukes het namens die familie van dr. Danny Titus, stigter van die DAK-netwerk, die toekenning ontvang. Hier oorhandig Danie van Wyk, voorsitter van die DAK-netwerk, dit aan hom (Foto: Alan Seynder)

Die kultuurman en menseregtekenner dr. Danny Titus is Saterdag (14 November 2020) postuum deur die DAK-netwerk vereer as deel van dié organisasie se jaarlikse eretoekennings aan presteerders uit die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap.

Ander bekendes wat vir hul besonderse bydraes vereer is, is die sakevrou Helene Africa, vroueregte-aktivis Lucinda Evans, rugbyman Thelo Wakefield en (ook postuum) teoloog prof. Mary-Ann van Huffel Plaatjies, asook oudpolitikus en mediapionier Cobus Dowry.

Danie van Wyk, voorsitter van die DAK-netwerk, sê die doel van die toekennings is om mense te vereer wat op verskeie vlakke in die samelewing positiewe verandering teweeggebring het. Die organisasie bring ook deur sy naam hulde aan drie geskiedkundige Khoisan-figure, wat Doman, Autshumao en Krotoa insluit.

Titus, wat die stigtersvoorsitter van die DAK-netwerk was, is in September vanjaar oorlede. Hy was voor sy aftrede in Mei die hoof van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV en voorheen uitvoerende direkteur vir kultuursake. Hy was ook ʼn kommissaris van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en Suid-Afrika se verteenwoordiger oor inheemse aangeleenthede by die Verenigde Nasies.

Africa het van ʼn eenvoudige begin in die versekeringsbedryf deur deeltydse studie en kursusse in bemarking uiteindelik gevorder tot die groepbestuurder van Old Mutual in die Wes-Kaap. Evans is die stigter van Philisa Abafazi Bethu (“maak vrouens gesond”). In 2016 is sy deur die Franse regering met die Chevalier de la Légion d’Honeur (Franse Legioen van Eer) vereer en in 2019 is Evans deur die BBC as een van die wêreld se 100 mees invloedryke vroue aangewys. Wakefield is die vorige president van die WP se rugby-unie en het ook lank in die raad van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) gedien. Hy beklee gedurende sy loopbaan verskeie posisies in die Tygerberg-unie, by die destydse Technikon Skiereiland en ná rugby-eenheid in 1992 by WP en Saru. Dit is vir sy ywer om sport in die Wes-Kaap en die land te normaliseer dat hy vereer word.

Van Huffel-Plaatjies was ʼn vrou van vele eerstes, waaronder die eerste vrouepredikant van die destydse NG Sendingkerk, eerste vrou om as volle professor aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit Stellenbosch aangestel te word en eerste vrou as Moderator van die Algemene Sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Dowry word erken vir sy baanbrekerswerk in die Afrikaanse media (radio en televisie) en vir sy latere bydrae tot die ontwikkeling van landelike gebiede as Wes-Kaapse minister van landbou.

Vorige ontvangers van dié gesogte toekennings sluit in die ontslape onderwysman en struggleleier dr. David Piedt, kunstenaars Willie Bester en Coenie Thys, entrepreneur Suzie Matthys, digter Diana Ferrus, atleet Johan Landsman en historikus prof. Henry Jatti Bredekamp.

Voor van links: Thelo Wakefield, Danie van Wyk (voorsitter van die DAK-netwerk), Ingrid Jones (gasspreker), Marlene le Roux (hoof van die Kunstekaap), Muriel Mapling (direksielid van die DAK), Heinrich Dowry (wat eerbewys namens sy oorlede pa, Cobus, ontvang het) en Jerome Topley (direksielid van die DAK). Agter van links: David Huffel (wat ‘n toekenning namens sy oorlede vrou, prof. Mary-Ann Plaatjies-Van Huffel, ontvang het), Willa Boezak (direksielid van die DAK) en Denelene Ramsden, Charles Beukes (wat namens die familie van dr. Danny Titus ‘n toekenning ontvang het), Helene Africa, Willem Fransman jnr (direksielid van die DAK) en Lucinda Evans (Foto: Alan Steynder)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johannes

Waar is die inklusiwiteit waarop daar deesdae so graag aangedring word, selfs wanneer blankes privaat partytjie hou? Ingevolge gelykheid moet dieselfde norme vir almal geld, sonder inagname van waar hulle hulle in die kleurspektrum bevind.

Andrew

Haha. Net so Johannes.