Dakar: Die hele boksemdais was Suid-Afrikaans

Dakar

Foto: Facebook/Red-Lined Motorsport

Suid-Afrika was omtrent goed verteenwoordig in vanjaar se Dakar-tydren. Dié tydren is ʼn veeleisende uithourit wat vanjaar op 2 Januarie in Buenos Aires begin het, vanwaar die deelnemers deur Argentinië en Bolivia gery het, en op 16 Januarie in Rosario, Argentinië, eindig het.

Met ʼn Suid-Afrikaanse bestuurder, navigator, tegniese span en ʼn motor wat in Suid-Afrika gebou is, kon dié span nie anders nie as om te presteer. Die man agter die stuurwiel, Sean Reitz van Red-Lined Motorsport, meen dit het die tydren meer spesiaal gemaak. “Dit was lekker want die span waarmee ons begin het was die span wat tydens die wedren daar was. Selfs die onderdele van die motor was van Suid-Afrika.”

Verbeel jou ʼn sit in ʼn motor wat die een dag soos ʼn oond voel terwyl jy oor duine moet jaag, net om die volgende dag paaie vol sneeu aan te durf. Sean meen die weer was beslis die grootste uitdaging. “Die weer was so wisselvallig – ons het deur sneeu, reën en stof gery. Die een dag was die temperatuur 56 °C, en dit was binne die motor.”

Dié tydren bestaan uit 13 fases wat oor 14 dae voltooi moet word (die span kry een dag om te rus). Elke dag is daar ʼn sekere aantal kilometers wat die span moet ry – die totale afstand is ongeveer 9 596 km.

Sean sê hulle het omtrent swaar gekry, maar hulle het nie vir een oomblik gedink hulle gaan dit nié maak nie. “Ons het nooit aan opgee gedink nie, selfs nie eers toe ons die motor gerol het nie. Ons het dalk gevoel dit gaan ons langer vat om die eindstreep te haal, maar opgee was nooit eers ʼn oorweging nie.”

Die span het ʼn trotste oomblik beleef toe hulle ʼn fase met baie duine maklik kon kafdraf. Sean sê dit was lekker om te weet die voorbereiding en harde werk in Namibië, juis vir dié fase, was suksesvol.

Besoek Dakar se webblad vir alle uitslae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Barend ·

Iemand sê my asseblief hoe hou die span (tegnici) by by die jaers.

Waldo ·

Barend, daar is twee roetes tydens die Dakar. Die ‘Race Route’ is uiteraard die een wat die renmotors volg. Dit sluit dele op gewone, publieke paaie in, sowel as die sneldele waar hulle voluit jaag. Die tegnici gebruik die ‘Assistance Route’, wat tussen dienspunt en dienspunt strek, oor die vinnigste moontlike roete. Op Dakar staan die dienspunte as Bivouacs bekend, en dis waar daar aan die renmotors gewerk word. Tipies vertrek die renmotors vroeg in die oggend na die beginpunt van die sneltrajek. Terwyl hulle oppad is, vertrek die tegnici in hulle vragmotors en gewone padmotors op die bystandroete. Die resies is so uitgelê dat die tegnici meestal lank voor die renmotors by die volgende bivouac aankom, waar hulle dan solank als in gereedheid bring vir die renmotors se aankoms.

Waldo ·

Lekker om te sien dat hierdie ouens blootselling kry. Net vir inligting: Die ‘dele’ van ‘n ren soos hierdie is nie ‘fases’ nie. In Afrikaans noem ons hulle ‘sneldele’ of ‘trajekte’. Dakar bestaan uit 13 sneldele, wat oor 14 dae plaasvind, met ‘n rusdag min-of-meer by die halfpadmerk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.