Dakloos vir ʼn goeie doel

tekkie-tax-owens-hobo-projek

‘n Skermskoot uit die video waar John en Chantelle Owens mense uitdaag om by hulle vir die ‘Let’s go Hobo’-projek aan te sluit. Foto: Tekkie Tax/Facebook.

Kan jy ʼn hele 24 uur die koue in die hartjie van die winter trotseer sonder ʼn dak oor jou kop?

Dit is die uitdaging wat die glanspaartjie John en Chantelle Owens hierdie naweek aan Pretorianers rig.

John, ʼn voormalige Meneer Suid-Afrika, sal hierdie naweek saam met Chantelle en die span van die Tekkie Tax van Saterdag 1 Julie om 10:00 tot Sondag 2 Julie om 10:00 in die parkeerterrein van Jean Crossing-winkelsentrum in Centurion deurbring en hulle nooi die publiek om dit saam met hulle te doen vir ʼn goeie doel.

“Ons wil graag deur hierdie nuwe projek help om bewusmaking vir Tekkie Tax as ʼn veldtog te skep en die planne is om dit volgende jaar na die vyf grootste stede in Suid-Afrika uit te brei. Met die Let’s go HoBo-projek wil ons ook mense se oë open vir die behoefte van mense wat elke aand in die winter op die straat moet deurbring omdat hulle eenvoudig geen ander heenkome het nie,” het Germa Hattingh, nasionale veldtogbestuurder van Tekkie Tax, gesê.

Deelnemers moet hulle komberse en ʼn roomysbak bring. Die organisasie Meals on Wheels voorsien ʼn aandete en mense wat die geleentheid meemaak, sal ook help om die aand kos aan mense met geen ander heenkome te help uitdeel.

Deelname aan die projek kos R100. Besoek Tekkie Tax se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting of om jou plek te bespreek.

  • Luister ook na die onderhoud boaan hierdie berig. Germa Hattingh verduidelik aan Esté Meyer Jansen wat presies met die Let’s go HoBo-projek beplan word en hoekom die organisasie besluit het om die projek aan te pak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.