Dankbaarheid, die kers in jou donkerte

(Foto: Verskaf.)

“ ‘Jammer, geen betaling hierdie maand nie,’ kom dit saggies uit my baas se mond. Ek voel hoe my keel toetrek en my oë watering raak. Ek raak stil, draai om en verlaat sy kantoor. Al waaraan ek kan dink, is hoe om my blyplek te betaal en kos op die tafel te sit vir drie kinders. Ek is die enigste een wat hulle het en daar is nie ʼn ander inkomste nie.”

Dít is die verhaal van Susan*, ʼn enkelmoeder in haar veertigs van die Kaapse wynlande, wie se lewe soos baie ander die afgelope vyf maande uitmekaar geval het. Sy vertel verder:

“Ek het baie dae in my stort gaan wegkruip en my hart uitgehuil omdat dit nie maklik was nie. Sommige dae het ek van vieruur soggens tot middernag gewerk. My liggaam en my siel was moeg. Ek het dikwels met God baklei, ek kon nie verstaan waarom dinge, nadat dit reeds moeilik was, nou nóg meer ondraaglik moes wees nie.

Ek het allerhande planne probeer maak – werk gedoen wat mense as vernederend sou beskou soos om ander mense se klere te stryk, of gekoop en verkoop, al was die wins net R5 ná baie ure se werk – elke R5 het bygedra tot brood en melk, bietjie krag om kos gaar maak.

Een ding het ek besef: ek kan nie gaan lê en net my hande in die lug gooi nie. Nie terwyl klein ogies opkyk na my nie. Daar was net een uitweg: sak op my knieë en vra vir hulp… vir krag en genade.”

Carla Viljoen, maatskaplike werker vir Helpende Hand in die Wes-Kaap, vertel dat Susan ʼn paar weke nadat die nasionale inperking afgekondig is, by Helpende Hand om hulp aangeklop het. Viljoen kon haar help met ʼn koopbewys vir kruideniersware, asook vars voedsel en toiletware soos wat daar skenkings ingekom het. Die Solidariteit Beweging se Krisisfonds het haar ook in staat gestel om Susan se gesin verskeie kere te help.

“Susan het my met haar vasberadenheid en deursettingsvermoë geïnspireer,” sê sy.

(Foto: Verskaf.)

Susan vertel dat die belangrikste ding wat sy besef het, was om dankbaar te wees vir dit wat sy het, en nie te fokus op dít wat sy nié het nie.

“Ek weet, soms verloor ons alle selfrespek deur vir hulp te vra, dit laat jou voel of jy nie goed genoeg is nie, jou wange raak rooi van die skaamte. Dit vreet aan jou, maar wat anders kan jy doen? Dit is nie so maklik nie. Maar soms moet ons vertrou en net vir hulp vra.

“Ek kyk terug en ek kan nie glo hoe ek net deurgedruk het en nog steeds hier staan nie.  Die bekommernis is nog lank nie oor nie, elke dag is nog ʼn berg om te klim.  Maar ek besef ek mag nie opgee nie. God voorsien altyd, dalk nie altyd dit wat ons wil hê nie, maar dit wat Hy voel ons nodig het om hierdie pad nou te stap. Ek is dankbaar om nog te kan werk, ek is gesond. Ek is dankbaar vir my huis wat ek nog het om in te bly.

“Vandag besef ek dat Jesus my gewys het waartoe ek in staat is. Met die hulp van Bo en goeie herders wat oor my pad gestuur is om my hand styf vas te hou en my moed in te praat, soos Helpende Hand, het ons dit gemaak.

“Ons moet nooit moed opgee nie, al is die wolke baie donker en die lig aan die einde van die tonnel weg. Soms, as mens net bietjie anders dink en dankbaar word vir wat jy het en die mense in jou lewe, verander jou uitkyk en skyn die liggie aan die einde van die tonnel weer helder.”

Susan het intussen vir ʼn werksonderhoud gegaan en wag nou vir terugvoering. Sy hou moed en fokus op die positiewe. Helpende Hand hoef haar nie meer met kospakkies te help nie, maar kyk tog uit vir die gesin en gaan lewer vars produkte af wanneer daar groot skenkings gemaak word.

Die Wes-Kaapse tak van Helpende Hand het gedurende die inperkingstyd tussen 200 en 350 versoeke per maand vir kos ontvang. Viljoen sê dat die afgelope vyf maande vir almal in Suid-Afrika moeilik was, maar dat sy vashou aan die goeie stories, die suksesverhale van mense wat veerkragtig is in ʼn tyd van nood en iets goeds van ʼn slegte situasie maak, soos Susan.

“ ʼn Glimlag op ʼn persoon se gesig gee mens moed, ʼn klein dogtertjie wat vra, ‘Mag ek tannie ʼn drukkie gee?’, ʼn blommetjie van dankbaarheid – hierdie klein ligstraaltjies in die donker gee mens weer moed vir die volgende tree. Stories soos dié van Susan gee my moed,” sê Carla.

“Ons moet ons denkwyse verander en in onsself glo – gebruik jou uniekheid en strewe na jou doel. Net jy kan dít doen waarvoor hy geroep is.”

*Susan is ʼn skuilnaam.

  • As jy ook ʼn hoopdraer wil wees, maak ʼn skenking aan die Solidariteit Beweging se Krisisfonds. Die publiek kan skenkings maak aan die Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun by Helpendehand.co.za of by Krisisfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Annatjie ·

Stryk vernederend? my skoonpa het altyd gese al ry jy die rioolvuil lorrie doen dit goed en wees trots. Huidiglik is my seun sonder werk en kry R120 per dag dan laai hy 34 ton sakke sak vir sak vol produkte af maar hy is dankbaar vir elke sent wat hy kan verdien. Werk kan nooit vernederend wees.

Botterblommetjie ·

Ek voel ons kan meer vir mekaar doen…. As elkeen net kan besef, dit kon(kan) jy wees daardie more… dinge kan lelik skeef loop in jou “ryk” lewe ook…. begin uitreik. Daardie ou pajamas ens. begin dit skenk. Gooi “NIKS” weg nie. As jy dit oorspronklik moes koop besef as is dit uitgerek of wat ook al, as jy nie geld het nie kan jy NIKS koop nie… dus as jy iets wil weggooi, wat ook al, wat jy moes koop om oorspronklik te hê… gee dit, skenk dit… besef jy kon ook nie geld gehad het nie. Helpende hand, julle moet meer afset gebiede vir mense se “rommel” kry. een se flenter kettel is vir ‘n ander ‘n nuwe….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.