‘Dankie vir elke gebed,’ sê baba Mia se ma

Baba Mia (Foto: Facebook)

Die twee maande oue baba Mia van Polokwane is Woensdag vanuit die Mediclinic Polokwane ontslaan.

Amor Schoeman, woordvoerder van die Child Medi-organisasie, sê Mia het genoeg aangesterk om ná ongeveer ʼn maand huis toe te gaan.

Schoeman sê dit is van kritieke belang dat sy die volgende paar dae aansterk.

“Mia doen baie goed. Hulle het haar Dinsdag van die suurstof afgehaal en sy het baie mooi oor die weg gekom daarsonder. Sy weeg vandag maar 1,7 kg en moet daarom nog elke tweede dag hospitaal toe gaan, maar ons is bitter trots op haar,” sê Schoeman.

Sy het ook namens die gesin en Child Medi haar dankbaarheid teenoor weldoeners landwyd uitgespreek.

“Die ma is verheug om haar bondeltjie uiteindelik by die huis te hê – dis vir hulle ʼn groot voorreg. Ons wil dankie sê vir almal se bydraes, omgee en gebede. Dit beteken vir ons baie.”

Mia dra vir tyd en wyl steeds ʼn mediese pleister om haar beentjie wat tydens die bevalling seergekry het, en sal wanneer sy ouer as drie maande is weer ondersoek word vir ʼn moontlike operasie. Schoeman sê egter dit is in dié stadium nie seker of dit wel sal nodig wees nie.

Maroela Media het vroeër berig Mia se ma, wat anoniem wil bly, het in ʼn brief aan die Child Medi-organisasie geskryf sy is erg getraumatiseerd nadat sy op 7 Mei in vroeë kraam gegaan het. Volgens haar brief moes sy verskeie ure op ʼn houtbankie sit en wag en is sy verskeie kere deur hospitaalpersoneel gekoggel. Haar baba, klein Mia, is toe later in die wagkamer gebore en sy moes na bewering haar eie baba vang.

Die ma het ook gesê sy het in daardie stadium saam met 34 ander vroue in ʼn vertrek sonder lopende water in die hospitaal gewoon. Die ma het sowat R100 000 benodig om klein Mia na die Mediclinic Polokwane oor te plaas. Weldoeners het intussen landwyd hul harte oopgemaak en genoeg geld geskenk om vir haar hospitalisasie en versorging te betaal.

Baba Mia (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Uvonka ·

Ag jitte Moeder, sy is dan so pragtig en piepklein. Ek bid dat sy vining sal aansterk!

Malan ·

Ons is baie bly vir MIA en die baba dat dinge soveel beter gaan! Alle voorspoed mag sy net van krag tot krag gaan. Ek sien in die media daar is n ANDER geval van DOMINIQUE VAN NIEKERK (22) wat na n ongeluk van die een na die ander STAATS hospitaal geskuif is en onder haglike omstandighede moet voortbeur totdat die Dokters by MEDICLINIC VANDERBIJLPARK weer haar bene moes breek na skeef aangroei weens SWAK sorg! Haar ma ROSS staan haar by. Is daar nie iemand wat die mense kan ondersteun met “Skare befondsing” vir rehabilitasie nie ASB mense !! Ek is n ou tannie wat nie van al die goed weet nie. ASB laat ons hulle ook ondersteun! Baie Dankie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.