Danville se liggiehuis: ‘Mense kry bitter swaar’

Die Danville liggiehuis (Foto: Pieter Oosthuizen)

Danville se liggiehuis spog hierdie Desember vir die 24ste keer met sy 150 000 Kersliggies, maar dié projek gaan oor veel meer as net ʼn mooi verskynsel in die strate van dié buurt in Pretoria.

Duisende kospakkies word aan behoeftige gesinne gegee, sodat hulle óók ʼn gesellige feestyd kan geniet.

Jacomien van der Merwe (32) vertel dat haar ma, Brenda, hierdie projek 24 jaar gelede begin het, en dat dit sedertdien al bo verwagting gegroei het.

“My ma het begin deur ʼn klein Kersvader wat uit draad gemaak is, buite die huis te sit. As daar kinders verby gestap het, het die Kersvader vir hulle gewaai. Kinders het toe later vir die Kersvader begin vra vir geskenkies. My ma het begin om vir so 200 kinders en 100 gesinne iets kleins te gee. Maar dit het al soveel gegroei oor die jare!” sê Jacomien.

“Deesdae deel ons reg deur die jaar kospakkies, klere en komberse uit. Verlede jaar het ons aan sowat 11 500 kinders elk ʼn lekkergoedpak asook ʼn geskenk gegee. Meer as 900 behoeftige gesinne het elk ʼn kospakkie vir die feesseisoen ontvang en 450 senior burgers het ook ʼn kospakkie en ʼn lekkergoedpakkie ontvang.”

Jacomien sê dit is opvallend dat baie van die kinders nie meer vra vir kos nie, maar eerder vir skryfbehoeftes en ander goed wat hulle vir skool nodig het. “Aan die begin het ons nie besef die behoefte is so groot nie! Mense is nou al só afhanklik van ons oor dié tydperk dat ons nie net die projek kan stop nie,” sê sy.

Saam met ʼn paar vriende en familielede begin Jacomien elke jaar in November om die 150 000 Kersliggies uit te sorteer en om die huis te versier. Die liggies brand saans van 19:00 tot 22:00 van 1 Desember tot 1 Januarie.

“Van 6 Desember het ons ʼn Kersvader wat met die kinders gesels en vir wie hulle ʼn briefie kan skryf,” sê Brenda.

“Party kinders het in die briefies vir vleis gevra, ander vir skoolklere en ander weer vir ʼn beertjie vir Mamma want sy kry nooit ’n ietsie vir Kersfees nie. Die projek was aanvanklik net vir hierdie omgewing bedoel, maar dit het so geweldig gegroei dat dit in na omliggende gebiede ook uitgebrei het. Mense kry bitter swaar.”

“Ek dank die Here dat daar mense met groot harte is, wat my tot dusver so mildelik gehelp het dat ek nog nooit ʼn kind moes wegwys nie omdat daar niks vir hulle was. Ons grootste probleem is altyd die ouderdomsgroep nege tot 12 jaar oud, meisies en seuns. In die verlede het ons maar van die ander ouderdomme se pakkies vir hulle gegee wanneer die geskenke opraak,” sê Brenda.

“Enigiemand is welkom om na die liggies te kom kyk en hul kinders elke aand na Kersvader te bring vir ʼn geselsie en ʼn foto.”

Vir dié projek vra Brenda en Jacomien eerder kruideniersware as kontant. “Dit is makliker om te wys waarheen die kos gaan, sodat mense kan sien dat hulle geld nie gemors word nie,” sê Jacomien. “Mense kan enige tyd na die huis toe kom om pakkies en kruideniersware af te lewer, of selfs om net te kom kyk en geniet.”

Die Danville-liggiehuis is geleë by 134 Millarstraat, Danville. Vir meer inligting oor hierdie projek besoek gerus die Faceboek-blad of stuur e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

DANKIE ·

AG julle doen fantastiese werk en nogals uit julle eie huis uit. Ons het vir ‘n paar jaar daar gaan kruideniers aflaai, dan is daardie huis gepak van die skenkings wat daardie mense SELF verpak in pakkies soos die behoeftes bepaal word. . rye mense wat in rye staan voor julle huis .. Julle sal geseen wees .. julle is harde werkers en het nog nooit iets terug verwag vir die wonderlike werk wat julle doen nie. Doen so voort, ek hoop die skenkings en donasies is hierdie jaar genoeg om nog meer mense kos en skryfbehoeftes en ander items te gee wat hulle nodig het. BAIE DANKIE!

Lydia ·

Dink net as almal wat die berrig lees en dit kan doen ‘n pakkie vir ‘n behoeftige gaan aflaai. Ek dink aan ‘n skooltas met skryfbehoeftes. ons kan dalk met ‘n klein bydrae ‘n groot verkil maak.

Troedels ·

Dis wonderlike werk wat julle doen. Mag julle geseend wees en ook ‘n wonderlike Kerstyd beleef.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.