Danville-skool baken van hoop, bemagtiging vir gemeenskap

(Foto: verskaf)

Eden Akademie, geleë in die weste van Pretoria, is nie sommer net ʼn doodgewone skool nie.

Die skool poog om ʼn bron van bemagtiging en hoop te wees vir die gemeenskap wat kinders op ʼn akademiese, geestelike en emosionele vlak wil laat groei.

Die Eden Akademie het in Januarie sy deure geopen en bied ʼn unieke skoolervaring vir minderbevoorregte gr. R- en gr. 1-leerders van die Danville- en Elandspoort-omgewing.

Dit is vir Melandri Sneygans, hoof van die skool, ʼn riem onder die hart om te sien hoe die leerders ten spyte van hulle huislike omstandighede floreer en nuwe hoogtes bereik.

Daar is tans 15 leerders in die skool se gr. 1-klas, hoewel hulle altesaam 24 kinders kan inneem.

“Eden Akademie is nie net ʼn skool nie. Dit is ʼn gemeenskapsnetwerk waar kinders nie net ontwikkel word nie, maar ouers ook bemagtig word om verantwoordelikheid vir hul kinders se skoolervaring te neem,” sê Melandri.

Die idee vir die skool het ʼn paar jaar gelede met die ontstaan van ʼn  kleuterskool, Groei Goggas-ontwikkelingsentrum, begin.

Daar is tans ʼn tekort aan Afrikaanse skole in die omgewing, en die skole wat uiteindelik oorweeg kan word, bied nie altyd die hulpmiddels wat die kinders broodnodig het nie.

Baie van die kinders in die skool kom uit ʼn onstabiele huishouding. Eden Akademie en Groei Goggas se kurrikulums is daarop geskoei om aan elke kind se unieke behoeftes te voldoen.

“Die kinders het ander soort behoeftes. Ons kurrikulum is daarop gebou dat hulle sekere dinge self ontdek, of dit nou is deur tyd in die klas deur te bring of buite te speel,” verduidelik Melandri.

“Ons het ook personeel wat spesifiek hier is om kinders wie se konsentrasievlakke bietjie daal, buitentoe te vat en op ʼn ander manier met hulle te werk.”

Melandri het aanvanklik betrokke geraak toe sy gevra is om die kurrikulum vir Groei Goggas te ontwikkel.

Die saak het egter mettertyd haar al hoe nader aan die hart begin lê, en toe die geleentheid opduik om verder betrokke te raak by die laerskool in ʼn bestuurshoedanigheid, het sy nie geskroom om die uitdaging met albei hande aan te gryp nie.

Daar is sowat 60 kinders op die perseel, met sowat sewe personeellede wat aan die stuur van sake is.

Hoewel die perseel reeds goed ingerig is om die kinders en hulle behoeftes te akkommodeer, is die skool in die proses om ʼn nuwe, groter skool te laat bou.

“Ons het geseënde hande wat altyd bereid is om te help. Ons het byvoorbeeld organisasies wat help met goed soos spraak- en arbeidsterapie.”

Die skool werk ook nou saam met maatskaplike werkers om die kinders se welsyn en veiligheid te waarborg.

Die ouers word op alle vlakke by die skool betrek, en wanneer hulle sukkel om ʼn bydrae tot skoolfonds te maak, is daar geleenthede om by die skool te werk en betrokke te raak om daardie geld in te vorder.

(Foto: verskaf)

Daar is ook hulpmiddels beskikbaar om die gesinne te help indien hulle sou swaarkry. Daar is ook inisiatiewe by die skool om seker te maak elke leerder kan ʼn verjaardagpartytjie by die skool hou, asook om voorsiening te maak dat die leerders skooluniforms en basiese benodigdhede ontvang.

Daar is ook ʼn spesiale hulpmiddel wat aan kinders voorsien word om wanvoeding, wat gereeld onder die kinders heers, te probeer oplos.

“Buiten ons wat die kinders akademies ondersteun, is hier ʼn boks waar ouers briefies kan ingooi indien hulle erge nood by die huis ervaar. Ons bespreek dit dan en kyk hoe en waar ons kan help. As ons nie kan help nie, verwys ons hulle na ʼn plek toe wat kan.

“Ons kinders dra die las van hul huishoudings. Wanneer hulle hier aankom, speel hulle nie soos ander kinders nie; hulle is bekommerd oor dinge soos die yskas wat nie werk nie en die krag wat nie aan is nie.

“Dit is heerlik om te sien wanneer hulle uiteindelik weer soos kinders begin praat, droom en in ʼn verbeeldingswêreld inklim.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Grassie ·

Sommige mense doen die werk van engele. Ek glo die Skepper sal hulle beloon vir hul werk, op Sy manier.

Republikein in die Wes Kaap ·

Tragies dat openbare Afrikaanse skole in daai geweste al uitgesterf het. Ons kinders daar word nou in Engels geskool.

Willem ·

Dit is mense wat graag gee maar niks wil ontvang. Mense deur die Here gestuur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.