Dapper student sonder arms vang graad

Letlhogonolo Mafela, wat sonder arms gebore is, het in April 2019 sy BCom-graad in ekonomie aan die Noordwes-Universiteit behaal. (Foto: NWU)

ʼn Vasberade student van die Noordwes-Universiteit (NWU) het vandeesweek bewys dat geen uitdaging té groot is om jou drome na te jaag nie.

Letlhogonolo Mafela (27) het pas sy BCom-graad in ekonomie aan dié universiteit behaal, ten spyte daarvan dat hy sonder arms gebore is.

Luidens inligting wat op die NWU se webtuiste gepubliseer is, was Mafela sedert ʼn jong ouderdom vasbeslote om die wêreld se uitdagings te oorkom ondanks sy fisiese gebrek. Die jongman is in die Matshepe-nedersetting in Mahikeng gebore en moes as kind leer om sy voete en mond te gebruik om onder meer te skryf, te eet en op ʼn rekenaar te werk.

“Deur sy lewe het Letlhogonolo niks minder as toewyding en vasbeslotenheid getoon om sy doelwitte te bereik nie. Hy het dit gedoen deur matriek met vlieënde vaandels te slaag en vir homself ʼn R25 000-beurs in te palm om verder te studeer,” sê die NWU.

Sowetan Live berig Mafela, wie se ouers albei werkloos is, het besluit om BCom Ekonomie te studeer omdat hy ʼn beter begrip van die sakewêreld wou kry. Hy droom daarvan om in produkontwikkeling te werk en sê hy sal graag nuwe produkte op die mark wil bring om sekere bestaande produkte wil verbeter.

Mafela werk tans as ʼn platejoggie vir die openbare skakelmaatskappy Go Infinite Holdings en het al as gasplatejoggie op Motsweding FM verskyn. Hy gebruik sy lippe om dié taak uit te voer. Boonop is hy verlede jaar in die kategorie vir beste platejoggie vir die Live Your Dreams-toekennings genomineer.

Prof. Marilyn Setlalentoa, adjunk-visekanselier: toewysbare funksies en kampusbedryf op die NWU se Mahikeng-kampus, het Mafela geloof vir sy uitsonderlike prestasie. “Letlhogonolo is ʼn inspirasie vir ons almal. Hy is die perfekte voorbeeld van wat jy kan bereik as jy in jouself glo. ʼn Gestremdheid beteken nie ʼn onvermoë nie,” het sy gesê.

Mafela sê op sy beurt hy het nog nooit sy gestremdheid gesien as ʼn rede om nié iets te doen nie. “Ironies genoeg, om met ʼn gestremdheid te leef het nog nooit vir my ʼn gebrek in die letterlike sin van die woord beteken nie,” sê hy. “Ek is nog my hele lewe lank soos ek is en ek het aanvaar en geleer om te funksioneer soos enige ander persoon sonder ʼn gestremdheid.”

Volgens die NWU word daar nog groot dinge van hierdie alumnus verwag aangesien sy vasbeslotenheid om suksesvol te wees ondanks sy fisiese tekortkoming, hom iemand maak om mee rekenskap te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Alida X ·

Wow!!! Dit wil gedoen wees
Voorwaar ‘n voorbeeld vir baie ander.
Baie geluk

Johan ·

Baie geluk! Ek glo en vertrou jy gaan nog groot hoogtes bereik. Alle sterkte vir die pad vorentoe.

Thinus ·

Wens meer mense wil die berig lees. Gestremdes in Suid Afrika is nogsteeds die persone waarteen daar die meeste gediskrimineer word. In baie gevalle doen sommige gestremdes veel beter as nie-gestremdes maar weens die stigma rondom gestremdheid word hulle nie dieselfde geleentheid gebied nie. Weet waarvan ek praat en is self gestremd en moet sukkel om kop bo water te hou. Wens daar is mense wat hul werkgewers kan aanmoedig om ook gestremdes in diens te neem wat in staat is om die werk te kan doen. ‘n Realiteit is dat enige persoon ten enige tyd gestremd kan raak!!!

Eish ·

Welgedaan! Voorbeeld vir almal wat gesond is, maar verwag ander moet vir hul voorsiening maak in die lewe! Lig my hoed op vir dié jongman.

Logika ·

Wonderlik! Wens daar was meer mense van sy staal in ons land gewees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.