De Wet veg vir voortbestaan van witdoodshaai

De Wet du Toit het in Oktobermaand sowat 7 km na Dyer-eiland geswem om bewusmaking vir die witdoodshaai te skep. (Foto: Verskaf)

De Wet du Toit het as kind baie tyd in die water in en rondom Gansbaai spandeer en onlangs besef dat daar ʼn daadwerklike poging aangewend sal moet word om die witdoodshaai te beskerm. Hy het met Yolanda Wessels oor sy talle wêreldwye avonture en bewusmaking om die witdoodshaai van uitsterwing te red, gesels.

De Wet het pas van Latyns-Amerika teruggekeer waar hy vir ongeveer drie jaar gewerk het.

“Ek was by anti-stropingsveldtogte vir Sea Shepherd betrokke. Ons veldtogte en skepe het die Vaquita Marina in San Felipe teen gewelddadige stropers beskerm. Daar het ek self ervaar hoe ʼn dier in ons leeftyd gaan uitsterf. Die wêreld het te lank gewag om betrokke te raak.” De Wet sê dat, alhoewel daar miljoene spandeer is om die Vaquita Marina te red, dit reeds te laat was en die Meksikaanse regering net bloot nie genoeg gedoen het nie.

“Toe ek na Suid-Afrika teruggekeer het, het ek verneem dat die witdoodshaai nie goed vaar in die omgewing waar ek gedeeltelik grootgeword het nie. Ek het altyd soveel tyd in die see deurgebring en die witdoodshaai was altyd deel van ons denke. Dit is so ʼn fantastiese dier. Hy vereis jou respek; jy kan hom nie ignoreer nie.” De Wet het begin huiswerk doen en besef dat terwyl hy diere in ander lande probeer beskerm, daar nood op sy eie agterstoep was.

Die witdoodshaai word sedert 1991 beskerm, maar anders as renosters wat beter vaar onder beskerming, het die beskerming van die witdoodshaai weinig vir die spesie se voortbestaan gedoen. Om dit in perspektief te stel: Daar is tans 3 500 witdoodshaaie oor in die wêreld; 20 000 wit renosters; 30 000 leeus en 430 000 olifante. Dit vertel die hele prentjie.

“Wat die situasie vererger en wat mense nie besef of oor praat nie, is dat die witdoodshaai nie veilig aangehou of geteel kan word nie. Ons kan dus nie, soos met renosters, hul syfers in die natuur aanvul nie; dit is bloot onmoontlik. ʼn Ander gevaar wat haaie in die gesig staar is dat selfs al word haaie hier beskerm, hul deur die oseane swem, deur lande soos Mosambiek en Australië waar honderde kilometers se onwettige nette hulle inwag. Haaie behoort nie aan een land nie, so dit is belangrik dat ons die ander lande in ag neem wanneer ons hierdie bronne bestuur.”

De Wet is die eerste mens wat op 20 Oktober die 7,7 km na Dyer-eiland toe en terug geswem het. (Foto: Verskaf)

Alhoewel die witdoodshaai reeds ʼn beskermde spesie in Suid-Afrika is vanaf 1991, gaan ons regering in KwaZulu-Natal steeds voort om kiefnette en tromlyne te gebruik om hulle uit te dun. Statistieke toon duidelik dat derduisende witdoodshaaie uitgeroei is tydens hul beskerming, en dit sluit nie eens ander spesies soos dolfyne en seeskilpaaie in wat by die honderde sterf nie. Kiefnette is onwettig omdat die tegnologie waarop dit gebaseer is reeds uitgedateer is en dit is ʼn onaanvaarbare gebruik gegewe dat die diere wat hulle vang internasionaal beskerm word. “Die rede vir die gebruik daarvan is om mense “veilig” te hou, maar dit gaan meer oor mense se onrealistiese vrese as enigiets anders. Jaarliks verdrink daar 240 000 mense, terwyl slegs 10 mense deur haaie doodgemaak word. Die witdoodshaai word as die gevaarlikste haai in die wêreld beskou, maar net in Suid-Afrika sterf daar daagliks 80 mense aan die hande van mense (onder andere selfdood en moord). In teenstelling hiermee het die witdoodshaai 63 mense se dood wêreldwyd veroorsaak in die totale geskiedenis van die wêreld. Daar word daagliks meer mense in Suid-Afrika gedood as wat die witdoodshaai in sy algehele geskiedenis doodgemaak het, en ons noem hom die “witdoodshaai”?

De Wet pas na hy sy avontuur ter bewusmaking van die witdoodshaai voltooi het. (Foto: Verskaf)

De Wet sê met al hierdie feite in ag genome, het hy die besluit geneem om bewusmaking vir hierdie wonderlike dier te kweek. “Drie van my oud-kollegas van Meksiko het by ons veldtog aangesluit en ons het aan ʼn dokumentêr begin skiet. Hierdie was ʼn absolute spanpoging en ek wil my twee direkte spanmaats, Margaux Bonnet en Francesca Chipparoni, bedank. Sonder hulle sou ek nie hierdie veldtog kon voltooi nie. Die idee was om na Dyer-eiland toe te swem. Hulle het gedink ek is mal, so ek het die idee vir eers op ys gesit. Ek het al vantevore aan ekstreme avonture ter wille van bewusmaking deelgeneem. Ek was die eerste mens om sonder enige kos oor die See van Cortez te roei. Ek moes ʼn militêre basis en Indiane op een eiland vermy, alles terwyl ek kos op woestyneilande moes vind ná ek 40 km op ʼn slag moes roei. Ek moes oorleef van wat ook al ek in die natuur kon kry.”

ʼn Ander keer het De Wet vir ʼn maand lank op sy eie in ʼn woestyn oorleef waar hy vir water moes grawe. Hy sê hy het dit al ʼn paar maal bevraagteken of hy ʼn avontuur sou kon oorleef of nie. Een so ʼn keer waar hy gedink het hy nie gaan oorleef nie, was toe hy in Meksiko saam met moordwalvisse in die water was met slegs ʼn paar duikbrille – geen paddavoete, geen duikpak of snorkel nie. Hy moes ʼn rowwe see in ʼn gewone kajak oorsteek. Hy vertel dit was ʼn lewensveranderende ondervinding.

“Toe ons besluit om die dokumentêr te begin verfilm, het ek besluit om die uitdaging om na Dyer-eiland te swem sonder ʼn duikpak en flippers aan te pak; so primitief en na aan die natuur as moontlik. Ek het begin om my liggaam vir koue water te kondisioneer. Dus geen warm storte nie, en koue swemsessies – eers een maal per dag, toe twee maal. Ek het eendag binne ʼn kilometer geswem vanwaar ek ʼn 4,5 m-witdoodshaai uit die water sien spring het; spesifiek om myself geestelik reg te kry, want ek het geweet dit sou belangrik wees om op die dag sielkundig goed voorberei te wees. Indien daar ʼn interaksie sou wees, sou ek kalm moes bly.”

Haaigetalle het ernstig afgeneem in die stuk van die oseaan. (Argieffoto: Terry Goss/Wikimedia Commons)

Hulle was al te bewus daarvan dat haaigetalle ernstig afneem, maar hul het geweet dit behoort veiliger te wees om daarheen te swem as byvoorbeeld ʼn dekade gelede. Dit was hul hoop in elk geval, want die laaste ding in die wêreld wat hul wou hê, was negatiewe publisiteit vir haaie.

ʼn Komponent tydens die beplanning wat in ag geneem is, is die wete dat daar haaibote ongeveer 2 km van hulle af gelê het wat vis in die water gooi om haaie te lok. Daar was ʼn skool brons walvishaaie rondom hul bote tydens die swemekspedisie, so hul het geweet die water huisves op enige oomblik meer as een spesie groot haaie, maar op daardie tydstip was De Wet al sterk op sy swempoging gefokus.

De Wet sê: “Die geestelike voorbereiding was die grootste ding. Net soos ander mense, is my verbeelding ook geneig om te oordryf wanneer dit by haaie kom, maar ons moet dit oorkom, want ons het die haaie nodig. Ek het die eerste mens geword wat op 20 Oktober die 7,7 km na Dyer-eiland toe en terug geswem het. Die wêreld is ongelooflik afhanklik van die oseaan. Een uit elke twee asems van suurstof word in die oseaan vervaardig. Die walvisse, haaie en ander seediere en organismes is noodsaaklik vir ʼn gesonde oseaan. Wanneer die oseaan sterf, sterf ons. Witdoodshaaie, nes die heuningby, is ʼn kernspesie en het ʼn massiewe impak op die oseaan. Ons beskerming op papier is nie suksesvol genoeg nie. Die syfers vertel die verhaal.”

De Wet is dit eens dat die haainette en tromlyne by KwaZulu-Natal onmiddellik verwyder moet word, want daar is beter alternatiewe. “Ons gaan in ons dokumentêr daarna verwys. Ons fokus vir die volgende paar jaar is om die haainette uit die KZN-waters te kry. In die volgende segment van ons dokumentêr gaan ons na die ooskus toe waar ons na die haainette gaan kyk en met ʼn paar kenners oor die impak van die nette gaan gesels. Ons moet bewus wees dat indien ons in die see wil ingaan, ons die risiko’s moet aanvaar wat met haaie gepaardgaan. Die goeie nuus is dat die risiko baie, baie klein is in vergelyking met ander gevare. Die haaie bly egter in die oseaan; hulle hou die oseaan gesond en ons het hulle nodig.”

Die span bestaan uit vrywillige aktiviste, en mense wat wil saamwerk, is meer as welkom.

Mense kan hul ondersteun by www.thelastsharkdocumentary.com.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Biltong

Persepsie weeg swaarder as feite. Ons ervaar deesdae eerstehands hoe vinnig mense vir koue pampoen skrik. Bang vir haaie, bang vir virusse, bang vir alles wat deur die media as gevaarlik voorgehou word.

Martie Smartie

Nou wonder mens hoe tel hulle hierdie soort haai in die see.

Outspoken

Well done De Wet, hou aan met jou missie, die diere het mense nodig om vir hulle in te tree want hulle nie ‘n stem om te kan praat en ons te laat weet wat werklik aan die gang is nie.

Harley Davidson

Die man het moed,ek het al die haaie gesien by Gansbaai lyk soos walvisse, ek wou dit nie eers waag in ‘n staal hok nie.

Jacob

Net vir inligting; daar is tans ‘n geskatte 10 000 witrenosters in Afrika waarvan sowat 50% aan privaat eienaars behoort. Kruger se getalle het gedaal van sowat 18 000 in 2008 tot ongeveer 2500. Aangaande die groot wit haai; as die regering nie luister na die raad van wetenskaplikes nie en die uitroei van mariene spesies stop nie, gaan haaie en talle ander verdwyn. Nog ‘n dokumenter oor die wit haai gaan net so min vir die spesies doen as wat die Stroop dokumenter vir die renoster gedoen het. Vrae moet gevra word oor die feit dat ‘n spesie wat… Lees meer »