Deelnemers aan Kaapse fietstoer ry vir goeie doel

Die Kaapse fietstoer is die grootste tydhou-fietswedren ter wêreld en vanjaar pak verskeie deelnemers dit aan om bewusmaking te skep vir belangrike kwessies.

Twaalf orgaanontvangers, wat almal lewensreddende oorplantings ontvang het, trap saam aan die 109 km Kaapse fietstoer om bewusmaking rondom orgaanoorplanting en orgaanskenking te skep.

#TeamTransplant bestaan uit sewe nierontvangers, twee hartontvangers en drie beenmurgontvangers.

Bradley Arendse, ’n nierontvanger van Malmesbury, het slegs vier maande gelede sy nieroorplanting ontvang en is reeds deur sy dokter fiks genoeg verklaar om dié strawwe fietstoer aan te pak.

Bradley Arendse (Foto: Veskaf)

’n Weldoener van Riebeeck-Wes het selfs vir Arendse ʼn padfiets geskenk nadat die plaaslike koerant ’n storie oor hom gepubliseer het.

Melda Ruiters, ’n beenmurgontvanger van Kaapstad, het sedert haar oorplanting al ’n aantal halfmaratons voltooi. Die fietstoer sal die eerste van sy soort wees wat Ruiters aanpak.

Al die fietsryers is lede van die South African Transplant Sports Association (Satsa), ʼn organisasie wat homself beywer om orgaanontvangers aan te moedig om aktief en gesond te bly ná hul oorplantings.

“’n Mens hoef nie vir ewig ’n pasiënt te wees nie, maar kan ’n gehalte lewe ná ’n orgaanoorplanting lei. Dit is ook ’n manier om hul dankbaarheid te toon teenoor hul skenkers sonder wie se onbaatsugtige geskenk nie een van die ryers komende Saterdag vir die Kaapse fietstoer sou aantree nie,” het Hermann Steyn, voorsitter van Wes-Kaapse tak van Satsa, gesê.

Universiteit Stellenbosch (US) gaan ook aan dié fietstoer deelneem in ʼn poging om voedselnood onder behoeftige studente op US-kampusse te verlig.

Die US-span, wat bestaan uit studente, personeellede, alumni en vriende van die universiteit, samel geld vir die studentegedrewe #Move4Food-veldtog in.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van US, en ’n span van 60 fietsryers neem deel aan dié fietstoer wat Sondag plaasvind.

Prof Wim de Villiers (Foto: Stefan Els)

Studente van die US se Tygerberg-kampus wat reeds by twee geleenthede  ʼn ambisieuse fietsrit van 902 km van Vioolsdrift aan die Namibiese grens tot by Kaap Agulhus aangepak het om geld vir mede-Maties in te samel via die Nkululeko-fonds, is ook deel van die span fietsryers.

“Ons sien uit na die fietstoer. Dit is ’n fantastiese manier om deur pragtige Kaapstad te ry en ’n wonderlike groep om dit saam mee te doen,” sê Breda Reed, wat hierdie groep mediese studente lei.

“Om alles te kroon maak dit my kinderlik opgewonde om die fietsrit op ’n enkelspoedfiets aan te pak, terwyl ons nodige fondse vir medestudente insamel.”

Vir De Villiers, wat aan sy vyfde Kaapstad-fietstoer in sy hoedanigheid as rektor van die US deelneem, is Sondag se wedren ook ’n familie-aangeleentheid aangesien sy dogter Gera en seun Braam dié 109 km-rit saam met hom aanpak.

“Ek voel geëerd om deel te wees van ’n span Maties wat omgee. Ons studente het talle uitdagings op ons kampusse, maar om honger te wees, moet nie een daarvan wees nie. Dit beïnvloed nie net hul akademiese uitslae nie, maar ook hul menswaardigheid,” sê hy.

“Soos een van ons werwers onlangs gesê het: ‘Ons wil ontslae raak van hierdie hindernisse. Die berg is steeds daar, maar dit is makliker om te klim.’”

Die Kaapse fietstoer vind op 8 Maart plaas. Die toer begin by Kaapstad se stadsaal, vandaar sal fietsryers deur onder meer Constantia, Kalkbaai, Simonstad, Misty Cliffs, Chapmans Peak en Kampsbaai ry en by die Groenpunt-stadion eindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.