Demi Lee is goeie fee vir droomrok-projek

Demi Lee Moore by die bekendstelling van die Droomrok-projek in Pretoria. (Foto: Roelien Malan, Worthit Photography)

Die bekroonde Afrikaanse sangeres Demi Lee Moore het pas ’n projek saam met die liefdadigheidsorganisasie Solidariteit Helpende Hand van stapel gestuur om die goeie fee vir die land se Aspoestertjies te wees.

“Elke vrou en meisie droom daarvan om pragtig te lyk op sekere spesiale geleenthede in haar lewe. Vir baie van ons was daar ʼn rok wat jou drome laat waar word het, én jou mooiste dag net nóg mooier en beter gemaak het. Vir ander is geleenthede soos ʼn matriekafskeid egter ʼn uitdaging omdat hulle nie ’n mooi rok vir die geleentheid het of kan bekostig nie,” sê Benette Welman, projekorganiseerder van Helpende Hand se FroueVonds*.

Welman sê weens hierdie uitdaging het die FroueVonds saam met Demi Lee, wat een van hul ambassadeurs is, vandeesweek hul Droomrok-projek van stapel gestuur.

“Ons het reeds deur ons liefdadigheidswinkels, genaamd Ons Winkels, ’n goeie, betroubare en bestaanbare netwerk landwyd opgestel. Saam met die eienaars van Ons Winkels kan ons met die hulp van die publiek sorg dat behoeftige matrikulante, seuns of dogters, spesiaal voel met hul matriekafskeid of geleenthede soos troues of dinees,” sê sy.

Tans is die Droomrok-projek reeds by 18 van die Ons Winkels reg oor Suid-Afrika aan die gang. Rokke en pakke word teen ʼn minimale bedrag verhuur om koste te dek om die uitrustings te droogskoonmaak

“Vroue kan hul trourok, matriekafskeidsrok of selfs daardie dineerok aan ons skenk sodat ons ander vroue en meisies se drome daarmee kan laat waar word. Mans kan dieselfde met hul pakke doen. Ons is baie opgewonde oor die projek, al is dit nog nie duidelik of almal weens die Covid-19-pandemie vanjaar nog matriekafskeid gaan hou nie, maar ons begin solank beplan en rokke insamel vir toekomstige geleenthede. Vir ons is die rok-stoor ʼn roeping en ʼn rede om te dans! Demi Lee het ’n hart om behoeftige meisies te ondersteun en het die voorstel gemaak dat ons die Droomrok-projek op die been bring,” voeg Welman by.

Demi Lee is trots om by dié projek betrokke te wees. Sy het in 2019 haar gewilde, geblomde Afrikaans Is Groot-rok en ook haar rooi Ghoema-rok aan Helpende Hand geskenk. (Foto’s: Roelien Malan, Worthit Photography.)

Volgens Demi Lee is sy trots om by die projek betrokke te wees. Sy het in 2019 haar gewilde, geblomde Afrikaans Is Groot-rok en ook haar rooi Ghoema-rok aan Helpende Hand geskenk.

“Hierdie twee rokke het vir my so baie beteken. As hierdie rokke kon praat, sou dit vir jou presies kon sê wat daardie aande vir my beteken het en hoe dit my laat voel het. Daar is soveel meisies en vroue daarbuite wat nog nooit ’n glansgeleentheid bygewoon het, of weet hoe ’n droomrok voel nie. As jy ’n rok daar buite het wat eens jou droomaand waar gemaak het, maar wat nou nie meer gebruik word nie, wil ek jou vandag aanmoedig om dit aan die Droomrok-projek te skenk. Kom maak saam met ons drome waar,” sê Moore.

“Jy kan nou landwyd by Ons Winkels betrokke raak deur jou pak, trourok, matriekafskeidrok of selfs dineerok te skenk. Jy kan nou iemand se spesiale geleentheid in ʼn droomgeleentheid verander,” sluit Moore af.

Vir meer inligting oor die projek en hoe om betrokke te raak of aansoek te doen, besoek www.helpendehand.co.za en klik op die FroueVonds-skakel.

*FroueVonds word met opset verkeerd gespel om by die fonds se leuse, Want alles loop nie altyd reg nie, in te pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae