Deon Labuschagne goed op dreef met volgende fiksheidsuitdaging

Dr-Jerrie-Bezuidenhout-Deon-Labuschagne-en-Anne-Rajcoomar

Dr. Jerrie Bezuidenhout saam met Deon Labuschagne (middel) en Anne Rajcoomaar van die Suid-Afrikaanse Steungroep vir Depressie en Angs (SADAG). Foto: Esté Meyer Jansen.

Deon Labuschagne wat verlede jaar sy eerste 94.7-fietswedren voltooi het, het ook verlede week sy eerste 10km-wedloop klaar gemaak en sal op 19 April aan sy eerste tweekamp deelneem.

Wat maak dit alles so besonders? Labuschagne is serebraal gestremd, ʼn toestand wat sy spiere en balans affekteer en ly ook aan ʼn bipolêre versteuring, wat hom dikwels depressief en angstig maak. Sy gesondheidsprobleme het hom egter nie verhoed om hierdie jaar ʼn tweede fiksheidsuitdaging aanvaar nie – hy het besluit om teen die einde 2015 ʼn driekamp te voltooi, selfs al kan hy nog nie behoorlik swem nie.

Maroela Media het in Januarie berig oor Labuschagne se suksesvolle voltooiing van die 94.7-fietswedren. Sy psigiater, dr. Jerrie Bezuidenhout van die Vista-kliniek in Centurion, het die 27-jarige inwoner van Vanderbijlpark uitgedaag vir dié wedren nadat hy aanbeveel het dat Labuschagne met oefening begin om te help om sy depressie en angstigheid teë te werk. Bezuidenhout het saam met hom die 94.7-fietswedren voltooi.

Labuschagne het Vrydag, byna presies ʼn jaar nadat Bezuidenhout hom uitgedaag het, ʼn motiveringspraatjie by die kliniek gelewer. Hy het sy lesse uit sy voorbereiding en deelname aan die fietswedren met die gehoor gedeel. “Toe Bezuidenhout aanvanklik voorstel dat ek begin fietsry, het ek gedink: ‘Agge nee man, gee my maar eerder net nog ʼn pil vir my depressie’, maar fietsry het gehelp om my angs-vlakke af te bring en dit het my ook moed en selfvertroue gegee. Dit het my verder gehelp om helderder te dink en gesonder besluite vir myself te neem,” het Labuschagne gesê.

Volgens Labuschagne het dit hom aan die begin byna twee ure geneem om net op die fiets te kom. “Ek het gedink dis te vroeg, ek is te moeg hiervoor, maar ek het besef ek moet my oefening dag-vir-dag benader. Dae het weke geword en weke het maande geword en so het ek fikser en sterker geword. Ek het toe besef hoe belangrik selfmotivering is.”

Labuschagne is tans besig om te leer swem vir die driekamp. Voor dit was dit ook vir hom moeilik om te hardloop omdat hy sukkel met balans. “Deon het in my kantoor ingestap en gesê, ‘Ek het twee voete, ek kan maar net sowel probeer hardloop’. Dit is net weereens ʼn bewys van die jong man se deursettingsvermoë. Vista-kliniek se personeel is trots op hom en sal hom beslis bly ondersteun,” het Bezuidenhout gesê.

Die nuwe atleet het reeds sy oog op nog ʼn uitdaging – hy beplan om in 2016 sy eerste Midmarmyl te voltooi. Op ʼn vraag oor hoekom hy hierdie fiksheidsuitdagings aanpak, het Labuschagne gesê: “Ek wil my gestremdhede gebruik om mense te dien en te motiveer. Ek wil mense inspireer om gesond te wees”. Hy weet ook dat sy suksesse nie sonder sy geloof in God moontlik sou wees nie: “Geloof in God verander alles, jy kan alles doen as God by jou is.”

Lees ook meer oor Labuschagne se inspirerende storie en voorbereiding vir die driekamp op Mindful Moment.

Hier is ‘n video waar Labuschagne self meer vertel oor sy ervaring:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

Als van die beste vir jou Deon!!! Jy bewys weereens: waar ‘n wil is is ‘n weg. Ek hoop ons ander landsburgers wat altyd net bakhand staan en wag vir ander mense om hulle te dra LEER BY JOU!!! Jy is reg: Met die HERE aan jou sy kan jy op stormwaters loop soos Petrus!! Ons is trots op jou!!! Sterkte en voorspoed vir jou!!!

Nicolene ·

Baie geluk Deon, jy inspireer so baie mense met jou positiewe uitkyk op die lewe

Ruan ·

Dankie vir jou voorbeeld van dissipline en deursettingsvermoë Deon. Ek gaan klim sommer nou op die fiets vir my daaglikse trap!

Mag daar nog baie goeie vrug kom uit jou bedrywighede regoor die wêreld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.