Deurbraak in navorsing oor rustelose bene

Argieffoto: Pixabay

Kenners het ʼn deurbraak gemaak in die oorsaak van die sindroom wat mense se bene veral snags rusteloos maak.

Die navorsing is bekend gemaak in die vakjoernaal The Journal of Physiology. Een uit tien mense van Europese herkoms het dié sindroom en dit blyk dat dit ook oorerflik is.

Rustelosebene-sindroom is ʼn toestand van die senuweestelsel wat veroorsaak dat ʼn mens ʼn onkeerbare behoefte het om jou bene te beweeg. Sommige pasiënte ervaar ook krampe, ʼn brandgevoel en ʼn getintel in die bene.

Meer as 80% van mense met die toestand se bene ruk of kry onbeheers “trekkings” snags en tas hulle slaap erg aan. Om te beweeg of te oefen kan verligting bring.

Tot nou toe is daar gedink om rustelose bene te hê word net veroorsaak deur gene, en meganismes van die metaboliese en sentrale senuweestelsel. Kenners het egter gevind daar is ook senuweeselle wat spesifiek die spiere in die bene teiken.

Daar is ʼn verhoogde prikkelbaarheid van die senuweeselle wat verbind is aan die spiere in die bene, wat veroorsaak dat meer seine daarheen gestuur word. Presies hoekom dit gebeur, is nog onseker. Deur die manier hoe boodskappe gestuur word tussen senuweeselle te teiken en dit te verminder tot ʼn normale vlak, kan die simptome verlaag word. Dit kan gedoen word met nuwe middels wat die ioonkanale versper wat nodig is vir kommunikasie tussen dié senuweeselle.

Die navorsing is gedoen deur die Universiteite van Gottingen, Sydney en Vanderbilt. Die volgende stap in die navorsing is om verskillende soorte medikasie se doeltreffendheid te toets.

Onlangs het ander navorsing wat in die vakjoernaal Lancet Neurology geplaas is, gewys daar is 13 gene wat verband hou met die toestand en dit is heel moontlik ook oorerflik.

Vir sommige mense raak dit so erg, volgens dié studie, dat hulle lewensgehalte daal en hulle aan angs, depressie, hoë bloeddruk en dalk ook hartsiektes kan begin ly omdat hulle nie behoorlik kan rus nie.

Ander mense kan dit in hulle arms ook ervaar en swanger vroue kan dit ook kry – tot een uit elke vyf – gedurende die laaste drie maande van swangerskap. ʼn Mens kan die sindroom op enige ouderdom ontwikkel, selfs kinders ook, maar dit is twee keer meer algemeen onder vroue.

Daar is mense wat verligting kan ervaar deur medikasie wat dopamien verhoog omdat die toestand verband kan hou met te min van dié neuro-oordraer in die brein. Die middels wat voorgeskryf word, aktiveer dan die dopamienreseptore in die brein.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Yvonne ·

Ek gebruik OXPOLA en dit werk soos n bom. Ek kan nie daar sonder nie. Geen meer rustelose bene vir my nie?

Jannie ·

Die generiese Oxpola nou beskikbaar werk baie goed. Ek drink ,125 mg teen so 4 -uur die middag. Werk uitstekend. Het Pexola gebruik vir maklik 5 jaar en was skepties oor Oxpola. Maar diè genries is baie goedkoper en net so effektief. Voorheen wou my mediesefonds nie Pexola betaal en as kronies registreer nie. Sal nou weer probeer registreer, hopenlik met die navorsing sal dit nou as n toestand aanvaar word. Nie net my verbeelding nie :-)

Elmarie ·

Ek gebruik ook Oxpola. Het op 45 eers besef dis ‘n toestand en daar is medisyne vir dit. My lewe het “oornag” verander. Ek slaap sedertdien elke aand dwarsdeur die nag tot volgende oggend. Iets wat ek nooit geken het nie. Het ook baie gewig hierdeur verloor omrede ek altyd moeg was en dan gesmag het na suiker en stimulante. Die korrekte diagnose e gebruik van Oxpola het my hele lewe ten goede verander!!!

Pensioenaris ·

Hi Yvonne,
Is dit by apteke beskikbaar sonder voorskrif? En prys asb.

Renier Lubbe ·

Oxpola is ‘n Skedule 4 medisyne en ‘n voorskrif is nodig.

Karien ·

Hi yvonne hoeveel mg is die pille. Ek sit met dieselfde probleem en niks maar niks help vir my bene nie

Rustelose Bene ·

Ek vermy koffie of Coca Cola ten minste 4 ure voor slaaptyd. Wanneer ek die reël breek, sukkel ek met rustelose bene.

Karolis ·

Ander oplossing le reg langs jou.
Vra jou maat om bietjie verbeelding te gebruik soos romantiese, sensuele streling of massering wat die senustelsel sal kalmeer. (onthou om te konsentreer daarop)

Beulah ·

Ek wou my bene al 2 uur in die oggend amputeer. My mal gemaak. ‘n vriendin sê ek moet ‘n koekie seep onder my laken by my voete insit. My man lag hom lam. Sê hy gaan nou glo die tand feetjie bestaan ook. Na 30 jaar het ek binne ‘n week normale bene!!! Geeeeeeeeen restless legs meer nie. Ja, wou ek ook nie glo nie. Dankie Karin!

Rachel ·

My hele lewe lank gesukkel met rustelose bene sindroom en krampe. Vandat ek Slow Release Magnesium drink so by 5uur in die aand slaap ek heerlik , geen rustelose bene sindroom en geen krampe.

Rudi Westraad ·

Dokters skryf al vir meer as 10 jaar ‘n dopamien agonis vir rustelose bene voor. Hoe is hierdie dan nou nuwe nuus?

Cecile Horne ·

My man is ‘n diabeet. Sedert sy 3-dubbele hartomleiding, 12 jaar gelede, gebruik hy Expola/Oxpola vir rustelose bene, maar tans help dit nie meer nie. Sy bene ruk deesdae nagdeur en soms skop hy so erg dat hy moet opstaan en rondstap. Hy kou selfs Tissue Salts 8 (magnesium) en/of Slow Mag maar niks help meer nie. Enige raad sal verwelkom word.

Pieter ·

Jy verstaan nie hoe dit voel om met rustelose bene te sukkel nie. Net as jy dit self ervaar.
Net Oxpola help vir my. Het al alles probeer as ‘n alternatief want Oxpola is so duur. Sal dalk die koekie seep probeer. Kan glad nie slaap as ek nie Oxpola gebruik nie. Sal graag wil hoor as iemand iets anders ontdek wat nie so duur is nie. Jy moet betaal vir ‘n voorskrif en dit is net vir ses maande plus die Oxpola. Dit word ‘n duur storie.

JAN ·

Baie leersame artikel en kommentare. Baie dankie.MM.
Wetenskap in goeie afrikaans.

Annrt ·

Dit Ken ek. Dis een van die ergste kondisies om te he my ouma volbloed Parkinsons. My ma rustelose bene.en al ons dogters. Dit kan jou na histories dryf

Riena ·

Gewone SINKaanvulling veral die een met selenium daarby was my redding. Dit werk binne `n dag of twee en is sekerlik die goedkoopste om eers te probeer voordat daar na skedulemedikasie gegryp word.
Daar bestaan `n groot sinktekort onder die algemene bevolking en is beslis die moeite werd om te probeer

Sustertjie ·

Die staat het nie enige van die duur medikasie beskikbaar nie, maar ek het al vir verskeie kliente vitamien B6 (piridoksien) gegee wat vir sommuges nogal gehelp het. Dit help ook vir die brand gevoel onder die voete. Elke persoon moet maar produkte probeer tot die een gevind word wat die beste verligting gee.

Anna ·

Ek het geen las van rustelose bene vandat ek suiker uitgesny het.
My ma het erg las gehad daarvan en sy het feitlik geen probleme meer vandat sy opgehou sjokolade eet het.
Probeer dit gerus – baie goedkoper as medisyne. En gesonder ook.

Sonja Ptetorius ·

Ek kry dit in my voete. Al die simptome wat julle beskryf, maar slegs in my voete. Al wat vir my help is Oxpola oor ‘n lang termyn. Dis die mees irriterendste gevoel nog! Nog iemand wat dit slegs in hulle voete kry?
.

Kabouter ·

Vit B asook Yster tekorte. Help nie jul behandel simptome en nie oorsaak.

RLS ·

Ek drink Antistax, dit werk ook en is oor die toonbank beskikbaar, maar dis ook nogal duur.

Ek kom agter as ek besig is om siek te word, dan raak die rustelose bene erger. Die volgende dag of 2 dae later het ek verkoue of sinus ontsteking.

Suki ·

Ek kan alles hierbo beaam. Dis alles voorkomend en effektief.

Wat my geweldig baie help op die presiese OOMBLIK wanneer ek wil slaap en my bene wil nie… is drie spesifieke strekoefeninge. Dit vat 6 min en werk soos ‘n bom. ONMIDDELLIK.
Mede-lyers… Doen jouself die guns en gaan google “Three stretches for restless legs”.
Dis ‘n plesier!!

yolanda koekemoer ·

Ek sukkel ook met rustelose bene en krampe in my voete. My man masseer in die aande my voete en dit help ook baie. So prober dit gerus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.