Diamantbruiloffees met strooijonker vir Brayshaws

Ds. Nico (83) en Henriëtta (81) Brayshaw het hul 60ste huweliksherdenking op 25 November gevier. Op die foto regs staan hul strooijonker, dr. Daan van Wyk, wat ook by Ons Tuis: Machteld Postmus woonagtig is. (Foto: Verskaf)

Wat ʼn voorreg is dit om in goeie gesondheid jou 60ste huweliksherdenking te kan vier, en hoeveel te meer besonders as jou jare lange vriend en strooijonker ook kan saamkuier omdat julle in dieselfde aftreeoord woon.

Daar is op 25 November feesgevier by Ons Tuis: Machteld Postmus-tehuis in Pretoria. Dit is hier waar ds. Nico (83), ʼn emeritus predikant van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA), en Henriëtta (81) Brayshaw hul diamantbruilof herdenk het. Die Brayshaws is op Ermelo in die eg bevestig deur prof. Schalk Botha en hulle is die trotse ouers van drie kinders en ses kleinkinders.

“Hierdie mylpaal is op ʼn voortreflike manier by die tehuis met ʼn musiekuitvoering deur Rynier Prins, ʼn koek-en-tee-geleentheid, en ʼn spesiale spabederf vir die tweetjies in hul woonstel gevier.

“Hul enigste dogter, Henriëtta Muller, het dié spesiale reëlings uit Australië vir hulle getref. Wat ekstra betekenis aan die dag verleen het, was dat hul strooijonker, dr. Daan van Wyk, ook ʼn inwoner van Ons Tuis: Machteld Postmus, dit kon meemaak,” sê Heleen van As, woordvoerder van Ons Tuis-groep.

Volgens Henriëtta is hul geheim vir ʼn gelukkige en lang huwelik om God met hul hele hart, siel en verstand lief te hê en altyd positief, nederig en opreg te wees.

“Om getroud te wees is uithou en aanhou, maar uiteindelik is dit net genade van Bo,” sê sy.

In haar suksesvolle loopbaan as maatskaplike werker het Henriëtta diep spore in verskeie gemeenskappe en organisasies getrap. Die Nederduitsch Hervormde Sustersvereniging (NHSV), wie se nasionale voorsitter sy sewe jaar lank was, se leuse “Wees ʼn seën” som Henriëtta en ds. Nico se lewe saam goed op.

“Ons Tuis se beste wense vergesel die egpaar,” sê Van As.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
madels

Oee, wow! Dis nou voorwaar baie kosbaar en nog kosbaarder dat almal nog leef. Wow wow wow!