Dié Afrikaanse invloedrykes met Kokerpryse vereer

Van links na regs: Dr. Willem Botha, Merlyn van der Rheede, Kenan Davids, Carline Janse van Rensburg, Milanie Vosloo, Joanita Richter, drs. Conrad Steenkamp en Hendrik Theys, en Ria Olivier. (Foto: Suné van Heerden/Maroela Media)

ʼn Professor, oudprofessor, onderwyser, student en uitvoerende voorsitter en skrywer wat op haar gelukkigste is wanneer sy jong kinders help om te lees, is vanjaar deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) met Kokertoekennings vereer.

Die doel van die Kokertoekennings is om erkenning aan mense te gee wat besondere bydraes tot Afrikaans gemaak het. Dit word in vier kategorieë toegeken: spesiale Koker vir ʼn lewenslange bydrae tot Afrikaans, Kokers vir besondere prestasie, Jeugkokers, en spesiale toekenning vir beste onderwyser (nuwe kategorie).

“Hiermee betuig ons ons waardering vir mense wat help met die bevordering van ʼn jong, dog dinamiese inheemse taal wat ʼn wesenlike deel van die Suid-Afrikaanse gemeenskap vorm,” sê dr. Hendrik Theys, voorsitter van die ATR-direksie.

Volgens dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die ATR, is dit ook belangrik om erkenning aan mense, oud en jonk, te gee wat “wat stil-stil vir Afrikaans werk”.

“Ons mik veral op mense wat oplossings soek en op grondvlak ʼn verskil vir Afrikaans maak. Hierdie Afrikaans verbind al sy sprekers, ongeag hoe hulle die taal praat, en dit reik uit na die sprekers van ander inheemse tale in Suid-Afrika.”

Prof. Victor Nicholas Webb ontvang die toekenning vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaans. Hy het einde 2006 uitgetree as professor in taalwetenskap en sosiolinguistiek aan die Universiteit van Pretoria, en as direkteur van die Sentrum vir Navorsing in die Taalpolitiek (CentRePoL, Centre for Research in the Politics of Language). Hierdie sentrum is onder sy leiding gestig en het lank die pas vir taalpolitieke navorsing in Suid-Afrika aangegee.

Webb word as een van Suid-Afrika se bekendste taalnavorsers beskou. Dit word bevestig deur sy talle navorsingsverslae, publikasies en referate nasionaal en internasionaal, en sy betrokkenheid by talle inisiatiewe en liggame soos die Taalplan-taakgroep (Langtag) en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT).

Sy deelname het gehelp om die oorgang na ʼn nuwe politieke bedeling in die 1990’s te verstaan en te bestuur. Webb is ʼn kundige in die politiek van taal, taal en ontwikkeling, meertaligheid, taalbeplanning, taalpolitiek en taal in die onderrig.

Joanita Richter en dr. Conrad Steenkamp, (Foto: Suné van Heerden/Maroela Media)

Joanita Richter word vereer vir haar bydraes tot bemagtiging deur Afrikaans. Sy skryf al vandat sy 9 was, en het nooit gedink sy sou ooit ʼn boek skryf nie. Haar eerste en tweede boek is onderskeidelik in Januarie en Junie 2022 gepubliseer.

Joanita is betrokke by biblioteke, help leerders wat met lees en skryf sukkel, en is ook by die bestuur van verskeie skryfgroepe betrokke. In Junie 2023 het sy ʼn toekenning by Padlangs ontvang vir beste temadigter van 2022, en in Julie van dieselfde jaar het sy ook die AfriCAN Honoree-toekenning vir albei haar boeke gewen.

In die kategorie vir die beskerming van Afrikaans, is prof. Debra Meyer, ʼn aktivis vir Afrikaans, bekroon. Meyer is pas aangestel as adjunk-visekanselier van onderrig en leer aan die Sol Plaatje Universiteit. Sy dien as trustee op verskeie trusts wat Afrikaans bevorder en is boonop by etlike Afrikaansprojekte betrokke.

Meyer is passievol oor Afrikaans en Afrikaanse gemeenskappe en fasiliteer dikwels gesprekke oor Afrikaans. Sy is ʼn sprekende voorbeeld van iemand wat Afrikaans grootgeword het en tog oorsee gaan studeer het. Sy skryf graag wetenskaplike artikels in Afrikaans en probeer om die komplekse inhoud vir die gewone Afrikaanse spreker meer verstaanbaar te maak. Vir meer as 12 jaar het sy die weervoorspelling in Afrikaans op SABC 2 aangebied.

Milanie Vosloo en dr. Conrad Steenkamp. (Foto: Suné van Heerden/Maroela Media)

Milanie Vosloo, ʼn sakevrou, bekroonde skrywer en motiveringspreker, ontvang ʼn Kokertoekenning vir die bevordering van Afrikaans. Sy is sedert 1985 deel van die Afrikaanse reklamemark toe sy op 23 die Uppe Marketing-reklameagentskap begin het. Vosloo was 38 jaar lank die besturende direkteur, maar het onlangs die leisels as uitvoerende hoof oorgegee en tree nou as voorsitter op.

Uppe is van meet af in en deur Afrikaans bedryf. In 2015 het die Dagbreek Trust die maatskappy genader om Afrikaans as handelsmerk te vestig, negatiewe persepsies oor die taal te verander, en opnuut ʼn passie vir Afrikaans onder sy sprekers aan te wakker. Vosloo het dié enorme taak met entoesiasme en toegewydheid aangepak en Afrikaans.com ʼn jaar later van stapel gestuur.

Die Jeugkoker is vanjaar aan Kenan Davids toegeken vir sy betrokkenheid by ʼn diverse stel aktiwiteite ter bevordering van Afrikaans. Hy is tans ʼn derdejaaronderwysstudent aan die Opvoedkundefakulteit van die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha (Port Elizabeth) met Afrikaans Huistaal as een van sy metodiekvakke.

Kenan Davids en dr. Conrad Steenkamp. (Foto: Suné van Heerden/Maroela Media)

Davids leef sedert sy skooldae sy liefde vir Afrikaans in hart en siel uit. Hy is betrokke by die plaaslike ATKV-jeugtak waar hy by verskeie projekte ter bevordering van Afrikaans in die metropool betrokke is. In sy vrye tyd bied hy Afrikaansklasse by hoërskole in die bendegeteisterde, noordelike woonbuurte van Gqeberha aan. Hy organiseer ook ʼn kreatiewe skryfprojek waar hy leerders aanmoedig om hulle ervaring met kletsrym te gebruik om hulle eie gedigte te skryf.

Davids het self al ʼn aantal gedigte op LitNet gepubliseer en hoop om eendag ʼn digbundel die lig te laat sien. In 2022 het hy die eerste prys vir ʼn video oor Afrikaans en Nederlands met die titel “Tante-taal” in ʼn kompetisie van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) gewen.

Die spesiale toekenning vir beste onderwyser is aan Carline Janse van Rensburg, ʼn taalonderwyseres aan die International School of Cape Town in Claremont oorhandig. Haar unieke aanslag tot die onderrig van Afrikaans het die taalonderrig aan die skool herdefinieer, en ʼn passie vir die taal by studente uit diverse agtergronde aangewakker.

Carline Janse van Rensburg en dr. Conrad Steenkamp. (Foto: Suné van Heerden/Maroela Media)

As hoof van die moderne vreemde tale-departement, speel Janse van Rensburg dan ook ʼn deurslaggewende rol in die wyse waarop tweede taal aangebied word. As ʼn internasionale instelling bevorder die skool die taalvaardighede van internasionale studente. Voorheen was tale soos Frans, Spaans en Duits tipies leerders se eerste keuse. Nadat Janse van Rensburg hoof van Afrikaans geword het, het die aantal leerders wat Afrikaans as tweede taal kies jaarliks gegroei.

Haar leerders maak dikwels Afrikaanse TikTok-video’s oor hulle klasse, byvoorbeeld oor hoe hulle voorsetsels op die maat van die bekende “Cup Song” oefen of oor hoe hulle Spel-Survivor speel. Janse van Rensburg ontvang erkenning vir die kreatiwiteit waarmee sy lesse aanbied, en die diepte waarmee sy Afrikaansklasse omskep in ʼn toeganklike, genotvolle en verrykende ervaring vir almal.

Die Kokertoekennings is Saterdag tydens ‘n intieme geleentheid in die Wes-Kaap uitgedeel. Dr. Willem Botha, vorige hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), het die prys namens Webb ontvang. Merlyn van der Rheede, die ATR se noordelike projekbestuurder, het Meyer se toekenning namens haar ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.