Die barmhartige ‘Sherlock Holmes’

Anton Oliver by tannie Sarah Pienaar in Prieska tydens ’n opvolgbesoek. Foto: Verskaf.

“Vir nagte aaneen kon ek nie slaap nie omdat ek na die vrou gesoek het. Haar dogters wou nie help nie, want hulle was bang vir verwerping” vertel Anton Oliver.

Ná maande se gesoek is Anton en die twee dogters, wat onderskeidelik op vier- en agtjarige ouderdom van hul ma geskei is, op pad Oos-Londen toe. Die twee dogters se ma, Katriena Ruiters, is in Uitenhage opgespoor. Ma en dogters is weer saam. Daar is beplan om die Sondagoggend terug te ry Kaapstad toe, maar tannie Katriena het besluit om te bly, sy gaan nie saam nie.

“Daai Saterdagaand in die gastekamer steek ek my hande uit en bid. Ek voel hoe iemand my hande vashou. Ek bid dat die ma net sal rustig raak en dat sy saam met ons sal gaan, sonder dat sy voel ons forseer haar.”

’n Week later gaan haal Anton vir tannie Katriena by die Bellville-busstop. Ná 23 jaar is ma en dogters weer herenig. Dit gaan goed met hulle, vertel Anton.

Anton Oliver is ’n 27-jarige man van Goodwood, Kaapstad, wat sedert 2018 in sy vrye tyd mense help om hul geliefdes op te spoor. Lesers mag hom onthou vir sy eerste suksesvolle soektog waartydens tannie Sarah Pienaar, ’n voorheen hawelose vrou in Goodwood, ná 13 jaar met haar familie in Prieska versoen is. Dit het wye mediadekking geniet (lees die berig op Maroela Media hier)  Dit gaan goed met tannie Sarah, vertel Anton. Sy werk en woon in haar oorlede man se huis. Sy word 60 in Maartmaand en hy hoop hy kan vir haar gaan kuier.

Sy mensliewendheid het egter nie daar gestop nie.

In ’n besige koffiewinkel in Kaapstad lê daar ’n stewige lys name voor Anton – mense wat hy alreeds help opspoor het asook mense met wie hy nog ’n pad stap. Elkeen het ’n onvergelykbare verhaal.

Helen Arendse wat ná 31 jaar weer haar broer ontmoet; Anina wat vir jare onder ’n brug in Soutrivier gewoon het en ná ses jaar weer al drie haar kinders onder een dak het; oom Dawid de Bruyn wat op ’n ashoop woon met wie Anton tans ’n pad stap om hom terug te neem Prieska toe, waar sy familie reeds vir hom wag; die 94-jarige Ragel Willemse wat haar seun wil sien voordat sy sterf. Sy naam is Adam Willemse en hy woon na bewering in Athlone op die Kaapse Vlakte; en Lerato Makume en Ricardo Jacobs…

Helen Arendse ontmoet ná 31 jaar weer haar broer. Foto: Verskaf.

Maar Anton het ook sy eie verhaal en droom…

Hy begin op 14-jarige ouderdom yskaste pak en vloere mop in ’n kafee.

“In Matriek vra een van die kafee se gereelde kliënte my of ek my CV vir haar kan aanstuur – teen daai tyd het ek al agter die till begin werk. Ná skool begin ek vir White House werk, en binne ses maande is ek van verkoopassistent na assistent-bestuurder bevorder en nog ses maande later is ek ’n winkelbestuurder.”

Twee jaar gelede het hy ’n beurs by die Stad Kaapstad gekry het. Hy hoop om sy diploma in Vlootbestuur in Meimaand te voltooi.

Intussen staan sy werk as ’n “Sherlock Holmes” nie stil nie. Hy volg daagliks wenke op oor persone wat hy nog help opspoor. Mense kontak hom vir hulp of hy ontmoet individue wat hulp benodig wanneer hy kos in Voortrekkerweg in Kaapstad uitdeel. So het hy op ’n keer ’n vrou ontmoet met ’n vier maande oue baba vir wie hy reeds ’n stootwaentjie en bababedjie geneem het.

Hy probeer weer die menswees in mense herstel deur vir hulle nuwe hoop en ’n kans in die lewe te bied – hulle moet dit net kies.

Sy eie geloofslewe het ’n wending gemaak.

“Ek was nooit regtig gelowig gewees nie, en met die hele reis (sedert 2018) is ek meer gelowig. Ek glo die Here praat met my en Hy sê wanneer ek iemand moet help en moet terugneem (huis toe). Ek het nou ’n oom wat ek op 26 Desember (2019) sou teruggevat het Prieska toe, maar tot op die 25ste Desember het die Here glad nie met my oor hom gepraat nie. Op die 25ste toe sê die oom maar hy bly – toe weet ek dit is nog nie sy tyd om terug te gaan nie. Sy suster het vir hom ’n plek gereed gemaak en wag vir hom, maar ons sal gaan wanneer die tyd reg is.”

Katriena Ruiters en haar twee dogters is ná 23 jaar weer saam. Foto: Verskaf.

Ten spyte van ’n sukkelende motor en finansiële uitdagings, veral wanneer hy in baie gevalle self sy Sherlock Holmesekskursies moet borg, kyk hy terug en erken: “Ek is ge-bless.”

Die persone met wie hy daagliks in aanmerking kom, leer hom om dankbaar te wees en waardering te hê vir wat wel joune is.

Hy is nie naïef oor die emosionele aspek wat sy jovialiteit meebring nie. Gereelde besoeke aan haweloses, die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa), die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF) en polisie is al byna roetine vir Anton.

Hy erken dit is emosioneel uitputtend.

“Ek weet nie rêrig hoe cope ’n mens daarmee nie. Ek het ’n manier om myself af te sny van iets, en dit is seker maar hoe ek cope.”

Adam Willemse, die man wat nog soek is. Foto: Verskaf.

Anton gesels nie lank oor of hy cope of nie, maar vertel eerder hoe aangrypend dit is wanneer jy sien iemand se menswees en waardigheid word weer herstel.

Dit is my passie, rêrig. As ek met mense kan werk, is ek gelukkig.”

Indien hy nou ’n pos by maatskaplike dienste (by die Stad Kaapstad) kry, sal hy dit neem, maar voeg by: “Ek kan nie nou maatskaplik gaan studeer nie.”

Wat wil hy eintlik doen?

“Ek wil Prieska toe trek. Dít is wat ek wil doen. Ek wil binne die gemeenskap woon en met die kinders gaan werk en hulle motiveer dat daar iets groter is as die drank waaraan hulle gewoond is. Daar is vyf- en sesjarige kinders wat bedel vir drankgeld. Ek wil húlle bemagtig. Nog nooit wat ek daar gekom het, het ek gesien kinders het speelgoed nie.”

Hy vertel byna verlangend oor ’n moontlike geleentheid: “ ’n Area net buite Prieska, in Groblershoop, is daar ’n ou koshuisgebou wat leeg staan.”

Hy verwys na die rolprent Klein Karoo: “Die skooltjie daarin, dit is presies wat ek wil doen. Wanneer die ouers oor naweke dronk is, kan die kinders na die koshuis toe kom en daar bly. En kinders kan deur die week soggens en smiddae ’n bord kos kom geniet. Dit is wat ek graag wil doen. Maar dit is moeilik met geen finansiële ondersteuning nie.”

“Dalk moet ek daai geloofsprong maak,” meen Anton. Dalk moet hy.

  • Indien jy met Anton Oliver wil kontak maak, stuur vir hom ’n e-pos na [email protected] of besoek sy Facebook-blad Anton Oliver of Straat Loper.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bulldog ·

Anton, ek sukkel self. Mag die Hemelse Vader vir jou kroon gee vir die werk wat jy doen. Ek glo en vertrou dat Vader jou meer vir al jou behoeftiges voorsien vir kinder koshuis.

Bullet ·

Wow Boeta, jou storie is aangrypend!
Sterkte vir die werk wat jy doen.
Blessings

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.