Dié bekendes het ook onder boelies deurgeloop

ivan-botha-leandie-lombaard-en-donnalee-roberts-teenboeliegids

Ivan Botha (links) en Donnalee Roberts (regs) saam met Leandie Bräsler tydens die bekendstelling van AfriForum se teenboeliegids. Foto: AfriForum/Twitter.

Min mense sal dit sekerlik nou ooit kon raai, maar Chris Chameleon, Donnalee Roberts en Ivan Botha het ook erg onder boelies in hul skooljare deurgeloop.

Dié drie bekendes het hul persoonlike ervaringe met boelies in ʼn teenboeliegids gedeel wat AfriForum aan die begin van nasionale kinderbeskermingsweek op 25 Mei by Laerskool Swartkop in Centurion bekendgestel het.

“Vir my was dit ook lekker om te hoor dat hierdie invloedryke bekendes ten spyte van die afknouery op skool kon uitstyg en presteer,” sê Leandie Bräsler (née Lombaard), koördineerder van leierskapsontwikkeling by AfriForum.

Die burgerregte-organisasie het in Augustus 2017 met ʼn teenboelie-bewusmakingsveldtog by laerskole afgeskop en reeds sowat 20 000 kinders met ʼn boodskap van hoop bereik.

Leandie sê die veldtog fokus daarop om ouers, onderwysers en leerders bymekaar te bring sodat hulle saam afknouery kan bekamp.

“Die idee vir die projek het ontstaan nadat my ma, wat self ʼn onderwyseres by ʼn skool in Johannesburg is, gesê het die kinders sukkel deesdae al meer met aggressie by skole.”

Sy glo ook daar is talle faktore wat daartoe bydra dat ʼn kind geboelie word, of selfs ʼn boelie word.

“Dit is hoekom ons projek nie net op die slagoffer fokus nie, maar ook ʼn positiewe boodskap wil oordra om ʼn boelie te help om te verander.”

Leandie meen iets soos Suid-Afrika se moeilike maatskaplike omstandighede en kinders se huislike omstandighede dra ook in ʼn groot mate by tot die vlaag van afknouery wat daar nou in skole gesien word.

“Ek sê altyd ʼn boelie maak seer omdat hy of sy self baie seer het.”

Leandie sê nog ʼn probleem is dat talle kinders sukkel om te onderskei tussen konflik wat gewoonlik in menseverhoudings voorkom en selfs goed en nodig is, en boeliegedrag.

“ ʼn Geboeliery is skadelike, aggressiewe gedrag wat aspris en op ʼn deurlopende wyse plaasvind. Dit is ook spesifiek gerig op ʼn leerder met minder gesag en selfvertroue as die aanvaller en laat die slagoffer later heeltemal minderwaardig voel.”

afriforum-teenboeliegids

AfriForum se teenboeliegids vir ouers, onderwysers en leerders kan gratis as ’n PDF-dokument afgelaai word. Foto: AfriForum/Twitter.

Die gids bevat raad vir ouer en onderwysers om te help bepaal of ʼn kind ʼn slagoffer van afknouery is. Dit verduidelik ook na watter tekens uitgekyk moet word as ʼn ouer vermoed sy of haar kind is dalk self ʼn boelie en gee raad oor hoe om afknouery te voorkom.

“Ons gids bevat ook ʼn bietjie regsadvies van Daniël Eloff van Hurter Spies wat ouers en onderwysers bewus sal maak van kinders se regte.”

Leandie pleit by kinders dat hulle nie hoop moet verloor as hulle slagoffers van afknouery is nie: “Ek het al gesien hoe van hierdie kinders wat geboelie is, as sterker grootmens uitdraai.

“Boelies verdwyn ongelukkig nie altyd as jy grootword nie, jy gaan dalk ook met hulle in die werkplek te doen kry. Daarom is dit só belangrik vir kinders om reeds van vroeg af die vermoë aan te leer om teen ’n boelie op te staan. Ons het ook sewe vaardighede in die gids vervat wat kinders kan aanleer om hulle teen boelies bestand te maak.”

Die gids bevat verder ook oulike aktiwiteite vir kinders wat hulle leer van empatie.

“Dit belangrik vir ʼn kind om die vermoë te hê om hom- of haarself in ʼn ander kind se omstandighede te kan plaas en só dinge uit ʼn ander hoek te kan bekyk.”

Sy reken boeliegedrag kan verder bekamp word as kinders leer om komplimente vir mekaar te gee, om hul jaloesie te beteuel en die uniekheid van elke kind te respekteer.

“Ons wil hê kinders moet die uniekheid in mekaar waardeer, want God het hulle elkeen besonders en spesiaal geskape. Ons gelukbringer Matteus word ook in hierdie boek verduidelik. Hy dra die volle wapenrusting van God en so leer ons die slagoffers, omstanders en selfs die boelies hoe om daardie wapenrusting van God te gebruik om hulle te beskerm of te weerhou van boeliegedrag.

“In Matteus 7:11 staan daar dat jy ander moet behandel soos jy self graag behandel wil word en dit is wat ons by almal wil tuisbring. Wie weet, dalk kan die ouers selfs ook iets uit hierdie gids leer wat hulle in hul eie omstandighede kan toepas.”

  • Lesers wat meer wil weet of betrokke wil raak by AfriForum se teenboelieveldtog, kan ’n e-pos stuur na [email protected].
  • AfriForum se teenboeliegids kan ook gratis as ’n PDF-dokument afgelaai word.
  • Luister ook na die podsending boaan hierdie artikel. Leandie Lombaard, AfriForum se koördineerder van leierskapsontwikkeling, het met Esté Meyer Jansen gesels oor die burgerregte-organisasie se teenboeliegids wat onlangs bekendgestel is. Sy verduidelik AfriForum wil onderwysers, ouers en leerders met die gids en die teenboelieveldtog aanmoedig om saam te staan om afknouery in skole hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Antionette Malan ·

n Boelie is n persoon met n slegte selfbeeld. Dit is nie net kinders nie. Ek het al n paar volwassenes ook teegekom wat graag boelie, mans sowel as dames. Nie net in d werkplek nie, maar ook familielede.

Hannelie ·

Net jammer die boelies lees nooit die koerant nie, want dan sou hul gesien het daar word na hulle verwys. Ek stem saam Antoinette Malan ‘n boelie het ‘n baie lae selfbeeld. En wat vir my snaaks is, het dit ervaar toe my meisiekind in die hoërskool is en nou by haar werk…..die grootste boelies is vroumense. Baie swak.

Koos ·

Wanneer die boeliegedrag plaasvind is dit ook belangrik dat die kind wat geboelie word, in die publiek vir die boelie sê dat hy ‘n boelie is. So word die boelie dan as boelie gebrandmerk en kan die gedrag gestop word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.