Dié ‘Good Morning Angels’-stories het die hartsnare vanjaar geroer

Bakkies Botha en Martin Bester glimlag groot nadat Jacaranda FM se luisteraars R3,6 miljoen ingesamel het vir hulp aan die boere van die Vrystaat en ander streke wat deur brande geteister is. (Foto: JacaBreakfast/Twitter)

Martin Bester, aanbieder van Breakfast with Martin Bester, die ontbytprogram op Jacaranda FM, spog altyd dat sy radiostasie se luisteraars die vrygewigste harte in die land het.

Kyk ʼn mens na die manier waarop die radiostasie saam met die Good Morning Angels (GMA)-span in ʼn besonder moeilike jaar soos 2020 steeds ʼn verskil gemaak het vir talle mense wat vir hulp by die stasie kom aanklop het, kan jy dink Bester is dalk net reg.

Maroela Media het die stasie gevra om van hulle mooiste GMA-stories met ons te deel, en die span het die volgende vier verhale uitgesonder.

Volgens Deirdre King, besturende direkteur van Jacaranda FM, was dit beslis nie ʼn maklik taak om te kies watter verhale om uit te lig nie.

“Van die steun van R5 miljoen aan die droogtegeteisterde Vrystaatse boere, tot die sowat 90 000 mense wat ons saam met DJ Jazzy D op Mandela-dag gevoed het, het ons ons doelwitte oortref. Ons is dankbaar dat ons soveel hulp kon verleen – dit was veel meer as wat ons gedink het is moontlik.

“Om goed te doen en ons luisteraars te inspireer is nie net ʼn weeklikse taak nie, maar ook deel van ons handelmerk se DNS. Ons sien uit om dit weer in 2021 opnuut te doen,” het King gesê.

Hier is die 2020-stories wat die span na aan die hart gelê het:

  1. Luisteraars skenk miljoene aan westelike Vrystaat

Boere van die Vrystaat benodig nou hulp oor ‘n langer termyn na die wegholbrande erge sake veroorsaak het. (Foto: JacaBreakfast/Twitter)

Maroela Media het berig oor die boere in die Wes-Vrystaat wat vee en weiding in die vernietigende brande in die omgewing van Hoopstad, Dealsville en Bultfontein verloor het.

Ongeveer 339 plase oor ʼn gebied van ʼn honderdduisend hektaar is deur die brande geraak.

Die oud-Springbok Bakkies Botha het die GMA-span genader om die landbou-gemeenskap te help. GMA het R50 000 geskenk om die bal aan die rol te kry vir ʼn geldinsamelingsprojek vir die landbougemeenskappe.

“Ons luisteraars het ingespring en bewys hierdie is iets waarmee hulle wil help. Ons het binne vier werkdae sowat R3,6 miljoen ingesamel en op die laaste dag van die projek daarin geslaag om ʼn totaal van R5 miljoen bymekaar te maak,” het Bester gesê.

Dit is een van die grootste geldinsamelingsprojekte wat die radiostasie nog ooit gedoen het.

“Hierdie is ʼn wonderlike storie wat wys dat as mense saamspan is ons soveel sterker en kan ons regtig verligting bring waar daar hoop nodig is,” het Botha gesê.

Botha meen ook dit is eintlik waaroor die lewe gaan: om te kan hoop skep.

  1. Matrikulant, broodwinner van Hanover Park kry beurs

Dave Arnold van Auto-X het deur die maatskappy se Willard- en Sabat-batterybeursfonds ʼn bedrag van R50 000 aan Tashreeq Doovey geskenk vir sy eerste jaar se tersiêre studie.

Tashreeq is ʼn matrikulant aan Windsor Secondary School en ook die enigste broodwinner in sy huis. Hy onderhou sy ma, stiefpa en drie jonger sibbe. Hy werk oor naweke in die spysenieringsbedryf om sy gesin se maatskaplike toelae aan te vul.

In September het sy klasmaats ingespring om hom ʼn helpende hand te gee nadat sy selfoon gesteel is. Die leerders het hom verras met ʼn splinternuwe slimfoon en matriekbaadjie.

Tashreeq se foon is gesteel toe hy flou geval het op pad terug van die skool nadat hy die vorige Sondagaand tot laat gewerk het. Hy het die Maandagoggend vroeg opgestaan om te leer vir ʼn toets en het die hele dag skoolgegaan sonder om te eet. Hoewel hy vir sy gesin sorg, is sy punte steeds uitstekend.

Die video van die weldaad het soos ʼn veldbrand versprei en Suid-Afrikaners was geïnspireer deur die skoolgemeenskap se gebaar.

Roxanne Cater, die ma van een van sy klasmaats, het ʼn BackaBuddy-fonds vir die seun begin om te help om sy gesin se uitgawes vir kruideniersware, elektrisiteit, vervoer en datakoste vir Tashreeq se skoolprojekte te dek.

Bester se ontbytprogram het saam met die GMA R10 000 tot die fonds bygedra. Ná die insetsel op die program het Auto-X besluit om nog verder help.

  1. Radiostasie, platejoggie voed duisende

Jacaranda FM se eie DJ Jazzy D en sy span besig om etes in ‘n sopkombuis in Eersterust, Pretoria voor te berei. (Foto: Kyle Cestari van KC Photography.)

DJ Jazzy D het saam met GMA daarin geslaag om R850 000 in te samel sodat hulle, saam met sopkombuise reg oor Suid-Afrika en skenkers wat ook ingespring het om die inisiatief te ondersteun, meer as 93 000 mense kan voed.

Benewens luisteraars in Gauteng kon deelnemers wêreldwyd met die klik van ʼn donasie-knoppie op die radiostasies se webwerf elkeen R67 skenk om ʼn gesin van vier te voed.

Die reaksie was oorweldigend en R572 538 is binne die eerste twee dae van die inisiatief se bekendstelling op 13 Julie ingesamel.

Lees die berig op hier Maroela Media.

  1. GMA se engele help om meisie se sist te verwyder

Sanet Basson. (Foto: Jacaranda FM)

Danksy die weldoeners van GMA is ʼn onooglike, pynlike knop aan Sanet Basson se nek verwyder en kon sy op die aand van haar matriekafskeid soos ander meisies skitter.

Die 18-jarige inwoner van die Abraham Kriel-kinderhuis op Modimolle in Limpopo sê sy was selfbewus en skaam oor die knop. Dit het gemaak dat haar matriekafskeid by Hoërskool Nylstroom soos ʼn berg voor haar lê.

Tog het sy te danke aan ʼn hele paar “goeie feë” op die groot aand in Oktober asemrowend in ʼn wynrooi-en-goud skepping gelyk.

Marlene de Villiers, bemarker by die kinderhuis, het in Junie om hulp by die GMA-projek aangeklop sodat die sist verwyder kon word.

Operation Healing Hands se netwerk van medici het na die insetsel op die radiostasie aangebied om die operasie op Sanet gratis uit te voer.

Spar se Women’s Virtual Challenge het R76 000 vir haar hospitaalkoste geskenk en GMA het ʼn bykomende R20 000 vir uitgawes bygedra.

Die sist was nie die enigste uitdaging wat Sanet al in haar lewe moes oorkom nie. Sy is as nege maande oue baba deur die welsyn in pleegsorg geplaas omdat haar ouers nie na haar kon omsien nie. Op 14-jarige ouderdom het die staat haar van haar pleegouers weggeneem en in die sorg van die kinderhuis geplaas.

De Villiers sê Sanet is ʼn wonderlike kind. Haar harde werk en akademiese prestasies het vir haar ʼn beurs besorg om bemarking in 2021 te gaan studeer.

Die Good Morning Angels is ʼn insetsel wat die afgelope nege jaar op Woensdae as deel van Jacaranda FM se ontbytprogram uitgesaai word. Die doelwit is om te help om mense se lewens reg oor Suid-Afrika te verander.

As jy ʼn versoek het, of iemand wil nomineer om deur GMA gehelp te word, kan jy ʼn e-pos aan [email protected] stuur. Onthou om jou naam en kontakbesonderhede in die e-pos in te sluit, asook die besonderhede van die persoon waarvoor jy hulp soek. Onthou om die woorde “skenking” in die onderwerpsveld in te sluit as jy hulp aan die GMA se projekte wil bied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.