Dié huis is nie nét ʼn huis nie

Yolandi van Schalkwyk (33) en Anne Freeke (38) het ʼn boodskap van die Here gekry dat hulle ʼn tuiste moet skep waarheen vroue en meisies kan gaan en veilig wees.

Hulle wou op dié manier ʼn positiewe invloed in hul gemeenskap uitoefen, maar het nie geweet hoe om te begin nie. Hulle het met hul pastoor gaan praat en só by ʼn ander huis van veiligheid betrokke geraak. Hulle het daar tyd saam met die vroue en meisies deurgebring en bande begin smee. Freeke se huis is later gebruik om behoeftige vroue te huisves. Hulle het dié tehuis in Centurion Just Home genoem.

Yolandi van Schalkwyk (Foto: Verskaf)

“Ons het so vyf jaar gelede begin droom en bid daaroor. Met Just Home wil ons regtig vir mense die geleentheid bied om hul potensiaal te bereik en uiteindelik selfonderhoudend te kan wees. Meisies en vroue van enige ouderdom en dinamika is welkom,” het Freeke gesê.

“Met baie meisies wat ons al ingeneem het, het ons eintlik nie die vermoë gehad om vir hulle te sorg nie, maar ons glo die Here stuur hulle oor ons pad. As die Here sê ‘neem hulle in’, dan neem ons hulle in, alles val dan daarna in plek.”

Freeke en Van Schalkwyk het op die naam Just Home besluit omdat dit beskou kan word as nét ʼn huis, maar vir iemand anders is dit nie net ʼn huis nie.

“Mense dink so dikwels dis net ʼn kamer, of dis net ʼn dít of ʼn dát, maar as elkeen net gee wat hulle het en wat hulle kan, is dit nie net ʼn huis nie. Dit kan die meisies so baie help in die lewe,” het Van Schalkwyk gesê.

“Ons wil graag die meisies help om hul voete te vind sodat hulle later op hul eie kan regkom. Ons wil nie net aan hul wesenlike behoeftes voldoen nie, maar ook vir hulle ʼn plek gee waar hulle behoort, waar hulle ʼn familie het. Ons kry soveel mooi getuienisse daaruit.”

Van Schalkwyk het gesê een van die vroue wat by Just Home ingeneem is, het later in haar eie woonstel ingetrek. Daar is ook ʼn vrou wat graag modeontwerp wil studeer, maar nooit die regte kwalifikasie kon kry nie – hulle help haar nou daarmee. ʼn Ander vrou het haar eie spysenieronderneming begin.

“Vanjaar het twee meisies ook elkeen ʼn bril gekry, te danke aan ʼn oogkundige wat sy hand uitgestrek en dit vir hulle geskenk het,” het Freek gesê.

Anne Freeke (Foto: Verskaf)

“Ons het regtig ʼn hart daarvoor om mense te help en gesinne weer bymekaar te bring, maar ons wil ook vir vroue ʼn plek gee waar hulle direkte verligting van hul omstandighede kan kry, soos as die ma byvoorbeeld van die pa af moet wegkom. Ons wil hê hulle moet hierheen kom en weer aan hul kinders aandag gee sodat die ma en kind nie geskei word nie, maar hulle ʼn gesin kan wees.”

Freeke en Van Schalkwyk het gesê Just Home se doel is nie om net ʼn plek van veiligheid te wees nie, maar eerder ʼn plek waar mense deel van ʼn familie kan word.

“Ons trek jou by ʼn groter familie in. Selfs die meisie wat al in haar eie woonstel uitgetrek het, is nog steeds deel van ons familie. Ons bou regte verhoudings en leer elkeen se hart ken. Ons wil ontgin wat die Here in hulle gesit het. Ons wil nie hê die meisies moet deur die sisteem ingetrek word en moed verloor nie. Ons help, want dit is ons hartsbegeerte,” het Freeke gesê.

Van Schalkwyk beklemtoon dat Just Home nie ʼn liefdadigheidsorganisasie is nie.

“Ons het nie liefdadigheid nodig nie, ons het mense nodig wat in die droom belê en vennootskappe aangaan. Ons wil interafhanklikheid in die gemeenskap belangriker maak, waar almal mekaar help, eerder as onafhanklikheid waar jy net aan jouself dink. Hier weet ons, en die meisies wat hier woon, dat ons nie die lewe alleen kan aanpak nie; ons móét almal hande vat.”

Vir enige navrae, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.