Dié kaartjies wil hoop in mense se harte én tuine plant

Growing Paper (Foto: Verskaf)

Wat doen jy as jy ʼn geskenkkaartjie ontvang op jou verjaardag, Kersfees of enige ander spesiale dag? As dit nie iewers in ʼn skoenboks gebêre word nie, lees die meeste van ons dit een keer en gooi dit dan weg – wat nie goed is vir die omgewing nie. Maar ʼn Swartlandse maatskappy het oulike kaartjies begin maak wat ʼn oplossing vir dié probleem bied.

Growing Paper, ʼn eko-papieronderneming in Malmesbury in die Wes-Kaap, vervaardig onder meer kaartjies, boekmerke, notaboekies, confetti, besigheidskaartjie en kalenders wat uit ʼn spesiale soort papier gemaak is. Dié papier het saadjies in, so wanneer die ontvanger klaar die briefie gelees het, kan hulle dit plant, versorg en sien hoe pragtig groente, blomme en plante daaruit groei.

Growing Paper neem 40 lede van die plaaslike gemeenskap in diens en die kaartjies word met die hand uit herwinde papier gemaak.

Ná die aankondiging van die nasionale staat van inperking is Growing Paper, soos talle ander sakeondernemings, tot stilstand geruk en kon hulle nie hul werk volhou nie. Maar hulle het ʼn innoverende manier gevind om ʼn inkomste te verdien ten spyte van die ekonomiese krisis.

‘n Werker besig om “growing paper” te maak (Foto: Verskaf)

Die bestuurspan het tydens vlak 5 van isolasie met hul nuwe Sustainable Seasons-projek vorendag gekom.

“Die idee is om ʼn reeks beperkte uitgawe geskenkkaartjies, geïllustreer deur die talentvolle kunstenaar Anja Stoeckigt te skep. Elke kaartjie bevat ’n positiewe boodskap om die gemoed te lig tydens hierdie uitdagende tyd,” het Growing Paper gesê.

Growing Paper wil mense aanmoedig om hierdie kaartjies vir vriende, bure of familielede te stuur, om ’n gevoel van eensgesindheid te skep te midde van die isolasie wat ons almal tans ervaar.”

Growing Paper sê die onderneming is passievol daaroor om werkgeleenthede vir mense in nood te skep, en daarom wil hy volhard om sy werksmag tydens die krisis te ondersteun.

Verder sal ’n deel van die opbrengste van die Sustainable Seasons-projek aan die Wêreldnatuurlewefonds (WWF) se volhoubare inisiatief vir landbou geskenk word.

“Dit stem ooreen met die maatskappy se verbintenis daartoe om ’n volhoubare toekoms vir ons gemeenskap én ons planeet te skep.”

Die Sustainable Seasons-reeks van geskenkkaartjies is op die Growing Paper- webtuiste beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Martie Smartie ·

Dis ‘n ou ding hierdie mens kon jare terug al hierdie goed koop. Niks nuuts nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.