Dié kakebeenwa trek weer

Die gr. 7-leiers het die geleentheid gehad om die ossewa te trek voordat dit op die voertuig gelaai is. (Foto: Verskaf)

Na baie jare in ’n stoor kreun die ossewa weer voort, maar dié keer in ’n suidelike rigting.

Die hoof en beheerliggaam van Laerskool Eugène N Marais op Mookgophong, voorheen Naboomspruit, het onlangs besluit om hulle kakebeenwa aan die Voortrekkermonument te skenk.

Volgens die skoolhoof, Marina Gravett, kon hulle die wa se geskiedenis deur ’n lid van die gemeenskap naspoor. Die wa is in 1917 in die Paarl deur ’n mev. MJA Engelbrecht gekoop as ’n geskenk aan haar seun JJH Engelbrecht.

Die koste om die wa per trein na Naboomspruit te vervoer, was glo 99 pond 19 sjielings en 9 pennies. Die wa is destyds by Stark & Co aangekoop.

“Die wa is ook gebruik tydens die 150ste herdenking van die Groot Trek in 1988,” verduidelik Gravett.

Sy sê die skool se beheerliggaam het gevoel dat dit nodig is om die wa te skenk sodat meer kinders daarby kan baat vind.

“Hierdie soort erfenis behoort tog nie net aan ons nie, en dit is belangrik om dit met ander te deel.”

Al die leerlinge van Laerskool Eugène N Marais gr. 4 tot 7 het kom kyk hoe die wa lyk. (Foto: Verskaf)

Die wa het vir groot opwinding onder die kinders gesorg. Al die leerlinge van gr. 4 tot 7 het kom kyk hoe die wa lyk wat voortaan deel van die Voortrekkermonument se lewende laer sal wees.

Jaco Cilliers, bestuurder van erfenisbewaring by die Erfenisstigting, het die kinders toegespreek en hulle genooi om die Voortrekkermonument te besoek.

“Erfenisbewaring gaan nie net daaroor om ou voorwerpe mooi op te pas nie, dit is’n deel daarvan. Maar dit is net so belangrik om kinders bewus en opgewonde te maak oor hulle erfenis. Hul passie vir die verlede verseker dat museums en plekke soos die Voortrekkermonument ’n toekoms het,” sê Cilliers.

Die gr. 7-leiers het die geleentheid gehad om die ossewa te trek voordat dit op die voertuig gelaai is.

Besoek die Voortrekkermonument om te sien hoe die lewende laer se ossewaens uitbrei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Miskruier ·

Laat my nou dink aan my laerskool jare by Kameeldrift in die Moot. Daar het n kind gesterf na die wa oor hom gerol het. Snaaks hoe dit in mens se gedagte opkom na al die jare.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.