Dié kat kom weer ná 700 km in motor se onderstel

Kooks die kat en haar eienaar, Celeste Perry. (Foto: Verskaf)

Celeste Perry van Rondebosch, Kaapstad, dink haar Birmaanse kat, ene Kooks, se onlangse avontuur sal die ideale leesstof vir kinders maak.

Verbeel jou ʼn liefdevolle, maar lomp kat wat soms sukkel om bome te klim en nog nooit verder as haar bure se tuin gedwaal het nie, oorleef ʼn 700 km-rit in die onderstel van vyf gryskoptannies se motor.

Kooks, ʼn rustige en “spesiale” kat, het Maartmaand vermis geraak nadat sy in die onderstel van haar eienaars se buurvrou, Rose Prew, se motor geklim het en gevolglik ʼn ongenooide gas op Prew en haar vriendinne se reis na St. Francisbaai geword het.

Perry vertel dat sy en haar man op 12 Maart opgemerk het dat hul vyfjarige kat vermis geraak het terwyl hulle by die werk was. Sy skerts dat Kooks heel moontlik ongelukkig was met die nuwe kos wat hulle haar gevoer het of die feit dat sy minder aandag as voorheen geniet het.

“Ons het in daardie stadium nogal laat gewerk want ons restaurant het onlangs afgebrand; so dinge was net dol. Ons het eers die Sondag besef ons het haar ʼn rukkie laas gesien.”

Kooks is volgens Perry ‘n liefdevolle en rustige kat. (Foto: Verskaf)

Perry het kort vantevore ʼn Bluetooth-opspoortoestel wat sy gratis saam met haar nuwe Samsung-foon gekry het, aan Kooks se halsband vasgemaak. Die toestel het aangedui dat Kooks in die Rondebosch-omgewing was, maar hulle kon haar nie vind nie.

“Ek het begin bekommerd raak dat sy ʼn besige pad probeer oorsteek het en sy is nie gewoond daaraan om te dwaal nie, sy is ’n regte huiskat.”

Perry het Maandagoggend via ʼn app opgemerk dat die toestel beweeg, eers na Athlone, toe Khayelitsha, die Strand en toe deur Gordonsbaai. Perry sê sy het aanvanklik gedink dat die toestel van Kooks se halsband afgeval het, maar sien toe dat dit weer van Riviersonderend, na Mosselbaai, Knysna en uiteindelik St. Francisbaai beweeg.

Sy besluit toe op om ʼn plasing op ʼn WhatsApp-groep te maak om haar plaaslike gemeenskap in kennis te stel dat iemand wat van Rondebosch na St. Francisbaai gereis het, heel moontlik haar kat per ongeluk in hul motor gelaai het.

“Ek het toe ’n oproep gekry van Rose wat gesê het sy woon net om die draai van my en het om 07:00 die oggend St. Francisbaai toe vertrek. Ons besef toe dat al die plekke wat Kooks se toestel aangedui het, ooreenstem met die roete wat Rose gery het en dat Kooks in haar kar moes wees.”

Kooks se toestel het egter ophou werk by ʼn drankwinkel in St. Francisbaai.

Kooks die kat is danksy haar Bluetooth-opspoortoestel gevind. (Foto: Verskaf)

Prew, ook ʼn diereliefhebber, was bang dat Kooks dalk in die motor vassit en het dit toe na ʼn motorwerktuigkundige in Humansdorp geneem. Hoewel Kooks nie in die motor was nie, was daar tekens van die ongenooide vierpotige se hare by die regtervoorwiel van die motor. Sy vermoed toe dat Kooks by hul gastehuis afgeklim het en sy het die gemeenskap gevra om met die soektog te help.

Ná vyf dae het Perry se man haar aangemoedig om ook self Oos-Kaap toe te gaan. “Ons was op die punt om ons restaurant se deure weer oop te maak; so dit was ʼn ongelooflik besige tyd, maar my senuwees was gedaan oor Kooks.”

Perry het die volgende dag by die gastehuis waar Prew en haar vriendinne tuis gegaan het, aangeklop en flits in hand self op ʼn soektog gegaan. “Rose en haar vriendinne het voorgestel dat ek alleen vir haar soek omdat sy moontlik oorweldig of skrikkerig sal wees as te veel mense haar naam roep. Ek stap toe naby die gastehuis en Rose se kar rond en sien dat die toestel haar beweging weer begin optel.”

Perry het kort daarna twee blink ogies in ʼn nabye straat opgemerk. “Kooks het letterlik na my aangehardloop gekom, maar skrik toe omdat die toestel ʼn geluid gemaak het en skiet toe by iemand se tuin in.”

Sy het aan die inwoners se deur geklop en verduidelik dat sy die “mal katvrou” van Kaapstad is en dat haar vermiste kat in hulle tuin wegkruip.

Perry en Kooks kort nadat hulle in vreemdelinge se erf herenig is. (Foto: Verskaf)

Die eienaar en haar kat is toe na meer as sewe dae en 700 km uiteindelik herenig in vreemdelinge van St. Francisbaai se tuin. “Ek en die gawe mense het dadelik in trane uitgebars. Wat is die kans dat ʼn kat só iets sal oorleef en weer opgespoor word?”

Kooks en Perry is die volgende dag terug Rondebosch toe. “Kooks het egter dié keer binne en nie onder die motor gery nie,” skerts sy.

Perry vertel ook dat sy oorweldig is oor die aandag wat haar geliefde kat se verhaal geniet en hoop dat dit meer mense sal aanmoedig om soortgelyke toestelle vir hul troeteldiere te gebruik. Sy benadruk ook die belangrike rol wat Prew en St. Francisbaai-inwoners gespeel het om Kooks aan haar terug te besorg. “Die St. Francisbaai-gemeenskap, veral lede van St. Francis Animal Rescue, was werklik so gaaf en hulpvaardig.”

Haar droom is om Kooks se verhaal in ʼn kinderboek te omskep en instansies soos die St. Francis Animal Rescue deur die aankope te ondersteun.

“Hier is ongelooflike diereliefhebbers in dié omgewing wat vrywillig help om diere te red, versorg en steriliseer en ek wil só graag vir hulle dankie sê en hulle ondersteun om aan te hou met hul goeie werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Linda ·

Wat ‘n mooi storie. Ek het ook al eenkeer my Yorky so gaan red uit Ravenmead, op die Kaapse Vlakte. Dit was nog voor die dae van Bluetooth en opsporingsstelsels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.