Die kat wat poot gegooi het vir ’n wêreldwye toer

Nala het Dean Nicholson se hart met die eerste oogopslag gesteel. (Foto: 1Bike1World/Facebook)

Die dag toe Dean Nicholson, voormalige rugbyspeler vir Edinburgh, besluit het om sy werk te verruil vir ’n wêreldtoer, het hy gehoop dat dit ʼn unieke reis sal wees. Wat hy egter nie kon raai nie, is dat dit nie die reis sou wees wat dit ’n lewensveranderende ervaring gemaak het nie, maar ʼn klein (s)katlike vriendin wat hy langs die pad sou ontmoet.

Dean, ’n sweiser van Dunbar, Skotland, was moeg van sy 9 tot 5-bestaan en het besluit om op sy fiets te spring en die wêreld te sien.

Hy het in September 2018 uit Skotland vertrek op pad na Amsterdam. Sy reis het hom deur België, Griekeland, Switserland en Italië geneem voordat hy per veerboot na Kroasië is. Hierna is hy na Bosnië waar hy sy gestreepte klein reisgenoot ontmoet het.

Dean het op BBC Radio Scotland se Drivetime with John Beattie vertel: “Dit was ’n doodgewone dag. Ek was byna in Montenegro en moes teen ’n taamlike steilte uittrap toe ek die gemiaau van ’n klein katjie agter my hoor. Die ou dingetjie was besig om my teen die heuwel op te volg en ek besluit toe maar om stil te hou. Sy wou egter nie bly waar sy was nie en aanry sonder haar was nie juis ’n opsie nie. Ek het haar opgetel, in die mandjie voor my fiets gesit en gesorg dat sy gemaklik is. My plan was om haar tot in die volgende dorp te neem en uit te vind of sy met ’n mikroskyfie gemerk is.

“Asof deur die noodlot so bestem, het sy nie ’n skyfie gehad nie. Sy’t spontaan op my skouer geklim en aan die slaap geraak en ek het daar en dan besluit sy sal my reisgenoot wees en die wêreld saam met my verken.”

Dean se oorspronklike plan om Thailand so vinnig as moontlik te bereik, het hy laat vaar toe hy besef die klein katjie, wat hy intussen Nala gedoop het, was besig om sy lewe radikaal te verander.

Uit Oostenryk vertel hy: “Sy het my geleer om nie so gejaagd deur die lewe te gaan nie en om elke dag te geniet. Met haar op my fiets het ek haar behoeftes eerste gestel, met die gevolg dat ons toer heelwat stadiger verloop het – ons het meer tyd gehad om te stop en te speel… by elke woud het ek stilgehou en vertoef, en een van haar gunstelingplekke was om op die strand en sand rond te hardloop en te speel.”

Kort voor lank moes Dean vir Nala ’n troeteldier-paspoort kry en dié wollerige (s)katjie bepaal nou selfs hul reisplan. Hulle het altesaam meer as 16 000 km (10 000 myl) gereis.

“Ongelukkig kon ons nie deur Irak reis nie omdat hulle nie katte in hotelle toelaat nie.”

Nala het selfs haar eie kalender en nou ook ’n boek waarin hul avonture gekaart is. (Foto: 1Bike1World/Facebook)

Orals waar hulle gaan, trek Dean en Nala natuurlik heelwat aandag. Mense is mal oor die klein katjie wat salig sit en spin in haar reismandjie aan die voorkant van Dean se pasgemaakte fiets of op sy skouer as die pad te hobbelrig raak.

Mense keer Dean dikwels voor om Nala te sien en só het sy as’t ware al meer as een keer ’n gratis bier of twee vir haar baas losgeslaan.

Nala was reeds in 21 lande, het al in ’n kabelkar gery en selfs ’n paar kajakritte geniet.

Die twee het vinnig opspraak op sosiale media gemaak met soveel as 800 000 volgelinge op Instagram en sowat 1 000 boodskappe per dag. Hul 150 000 intekenaars op YouTube sorg vir genoeg advertensiegeld om vir fietsherstelwerk en katkos te betaal.

Nala het selfs haar eie kalender en nou ook ’n boek waarin hul avonture gekaart is.

Dean sê: “Ons gaan die winter in Griekeland spandeer en by ’n paar diereskuilings werk. Daarna, as dit lente is, ry ons deur Rusland en dan na Thailand.

“Dit is my droom om op ’n strand in Thailand te sit met ’n kokosneut in my hand. En, natuurlik, met Nala langs my.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Louise ·

Ek is mos maar n katte mens, min mense om my hou van n kat. Maar dit pla my min wat hulle se van my katte kind. Hulle baie slim diere en baie liefde vol.

Karina ·

Dit is nou ‘n mooi kosbare storie die! Wys net, Nala wou ook reis, toe kies sy haar reisgenoot. Dierbaar verby

Nozi ·

Baie oulike storie, dan MM. Wat ‘n bevooregte katjie, het al reeds 21 lande besoek, en daar wag nog lande voor om te besoek. Meer bevoorreg as ons almal. Sterkte met jul staptog en fietsrut voorentoe. Ons hoop om gou weer van Dean en Nala te lees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.