Die krisisfonds: ’n Vangnet in die tyd van Covid-19

Mariana Kriel van Helpende Hand. (Foto: Verskaf.)

“Ek het in my hele lewe nog nooit so baie gehuil soos in die afgelope paar weke nie.”

Met vars trane in haar oë vertel Mariana Kriel, streekskoördineerder van Helpende Hand in Gauteng-Noord, dat daar niks swaarder is nie as om oproep ná oproep, WhatsApp ná WhatsApp en e-pos ná e-pos te kry van mense wat om hulp smeek, maar jou eie kosstoor is leeg.

Tog gebeur die wonderwerk keer op keer – daar stop agt eentonbakkies vol vars produkte voor jou deur en jou kosstore is weer vol! Op ʼn ander dag bring ʼn kind sy eie oes patats vir jou om aan ander mense uit te deel. Net wanneer jou moed weer in jou skoene wil sak, bring Laerskool Tygerpoort meer as 1 000 kledingstukke om mense in die snerpende koue warm te hou, elkeen boonop met ʼn kosbare briefie van hoop daarby. En as die geld vir hulpverlening skraps raak, bied Solidariteit se krisisfonds uitkoms.

Tot op hede het Helpende Hand net meer as 14 581 gesinne en 996 instansies tydens die afsonderingstydperk bygestaan. “Ons probeer om sover moontlik ʼn bruggie te bou vir hoofsaaklik die middelklas, ʼn vangnet te wees totdat hulle weer op hul voete kan kom.”

Kriel vertel dat sy nou die dag ʼn versoek gekry het van ʼn gesin waar die man en vrou albei fotograwe is en hul eie onderneming het. “Hulle woon in ʼn mooi huis in ʼn gegoede buurt. Een maand voor die staat van inperking sterf hul 19-jarige seun en soos baie ander mense het die ouers nie ʼn begrafnispolis vir hul kind uitgeneem nie. Al hul reserwes is gebruik om die laaste eer aan hul seun te betoon en net daarna word daar afgekondig dat hulle nie met hul fotografie kan voortgaan nie. Geen kontantvloei, geen werk, geen kos. Dit is waar ons ingetree het.”

Was dit nie vir Solidariteit se krisisfonds nie, sou die meeste mense of instansies nie gehelp kon word nie, sê Kriel. “Die krisisfonds het gesorg dat ons by groot maat niebederfbare kos kon aankoop om uit te deel, maar ook om te berg. Ons kon ook ekstra groente sommer direk by die boere aankoop danksy die krisisfonds se bydrae, en so is ons boere ook sommer gehelp. Noudat die skenkings van produkte afgeneem het, is dit van uiterste belang dat die krisisfonds sterk genoeg is sodat ons ʼn volhoubare verskil kan maak.”

Helpende Hand probeer ook om bestaande organisasies, wat oor baie jare heen al kos aan mense in nood uitdeel, se hande te versterk. Baie van hierdie organisasies se borge het gedurende die afsonderingstyd onttrek.

Vir Kriel is daar nie tyd om laat te slaap nie. Sy probeer om teen 04:00 soggens haar e-posse te beantwoord, want die kans is goed dat sy nie deur die loop van die dag weer by haar rekenaar gaan wees nie. Om vinnig ʼn paar ton groente af te laai het deel van ʼn gewone werksdag geword, waarna alles wat ontvang is, opgeteken moet word en na die regte mense of instansies versprei word.

Helpende Hand Pretoria se vrywilligers sterk haar hande elke dag. “Ons vrywilligers is ware engele wat nie terugstaan om te help waar hulle kan nie. Of dit nou is om 54 ton kos af te laai, honderde kospakkies by gesinne te kry, of om die kosstoor uit te vee, niks is vir hulle te veel nie,” sê Kriel.

Die waardevolste les wat sy in hierdie uitdagende tyd van Covid-19 geleer het, is dat daar geen sterker krag as gemeenskapskrag is nie. “Hoewel ek baie swaarkry sien, of na al die hartseer stories oor die telefoon moet luister, het ek soveel hoop en opgewondenheid in my, want ek sien dat daar soveel mense met omgeeharte is, mense wat bereid is om dit wat hulle het, met ander te deel.”

Helpende Hand fokus op weerlose groepe, spesifiek kinders, gestremdes en bejaardes. Kriel vertel dat daar soveel kinders is wie se enigste maaltyd die bord kos by die skool was, maar weens die inperking kon hulle nie by die skool kos kry nie. Die grootste behoefte is inderdaad aan kos, maar mense nader Helpende Hand ook vir klere en badkamerbenodigdhede.

“Mense wil ook net gesels, hulle wil hoor dat hulle nie alleen is nie en wil weet dat iemand nog omgee. Ons kospakkies is nooit net ʼn pakkie kos nie, maar eerder ʼn simbool van omgee en hoop,” sê Kriel.

Ondanks al die trane en harde werk, staan sy elke oggend met nuwe moed op omdat sy weet dat God haar hiervoor geroep het, dat sy ʼn groter doel dien. “Dit gaan nie oor my nie, dit gaan oor Hom wat my geskep het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokkie ·

Jy verdien ‘n standbeeld, Mariana. Baie Baie dankie vir jou ontsettende harde werk vir ons mense wat so bitter swaar kry. Mag jy baie ryklik geseën word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.