Die lewe begin eers ná sestig. Dis die nuwe 45

Carla van der Spuy (middel) saam met haar uitgewer, Zalman S Davis, en Poppedonsie-illustreerder Martie van Niekerk by die bekendstelling van haar eerste kinderboek “Poppedonsie”. (Foto: Verskaf)

Ouderdom is net ʼn getal, maar soms kan die idee dat jy vyftig of sestig geword het, jou baie angstig maak. In 2013 het twee vroue in België, Hélène Van Herck en Ann Lemmens, besluit om ‘n aanlyngemeenskap vir vroue bo vyftig te begin. Albei was self bo vyftig met jare se media-ervaring. Hul doelwit was om die verkeerde beeld wat in die samelewing bestaan oor vroue bo vyftig, stelselmatig te verander.

Hélène en Ann publiseer stories van vroue bo vyftig se lewe, werk en passies op hul aanlynnetwerk Wifty. Vandag is Wifty die grootste aanlyngemeenskap vir vyftigplussers in België.

Tanya de Vente-Bijker het met ʼn paar vroue in Suid-Afrika gesels wat besluit het b

asta met ouderdom, hulle verander van koers, pak nuwe avonture aan en leef nog voluit. Hier is hul stories.

 ʼn Liefde vir entrepreneurskap

Sharon Westcott (53) het vir baie lank in die korporatiewe wêreld gewerk. Sy het met finansies gewerk en sê sy het nog altyd ʼn passie vir entrepreneurs gehad.

“In Desember 2019 het ek uit die korporatiewe wêreld bedank en besluit ek gaan nou my eie ding doen.”

Natuurlik kon sy nie weet wat in 2020 op ons gewag het nie, maar vandag het sy drie verskillende goed wat sy doen. Eerstens is sy ʼn virtuele assistent vir kleinsakeondernemings en eenmanbesighede. Omdat sy nog altyd ʼn passie gehad het vir entrepreneurs wil sy juis kleinbesighede help.

“Baie van hulle het ʼn goeie produk of diens, maar sukkel om hul administratiewe werk te doen en fakture uit te stuur. Nou doen ek dit vir hulle en dit gee hulle kans om net op die werk te fokus.”

Sy sê die tweede deel van haar nuwe loopbaan het haar deur die grendeltyd gedra.

“Ons koop en verkoop meubels. Ons koop ouer meubels, maak dit reg en mooier voordat ons dit weer verkoop.”

Die derde ding wat sy doen, is om te hekel.

“Ek het sowat vyf jaar terug my hekelwerk begin verkoop om vir my kind universiteitsgeld in te samel, ek het nooit gedink dit sal werk nie en toe gebeur dit.”

Sy vertel hekel is ‘n passie wat sy nou omskakel na ʼn inkomste. Sy het aanvanklik net verkoop aan vriende en ʼn breër netwerk, maar nou verskaf sy al hekelwerk aan twee aanlynwinkels. Boonop is dit vir haar baie terapeuties om te hekel en sy lag as sy vertel haar man sal soms vir haar vra het jy nie iets om te hekel nie.
Sy sê dit is vir haar baie lekker om nou haar eie ding te doen en om te sien hoe haar kinders as entrepreneurs gewoeker het en deur die grendeltyd gekom het die afgelope jaar.

“Dit is belangrik om jou passie te volg. Aan die begin is dit baie moeilik om jou eie baas te wees. Ek wil nie ryk word nie, ek wil net graag ʼn inkomste hê, maar ʼn mens moet deurdruk.”

Geïnspireer deur haar liefde vir reis

Renée Pellissier se hondebeskuit. (Foto: Verskaf)

Renée Pellissier (68) se nuwe werk is gebore uit haar passie vir naaldwerk en reis. Sy maak eko-vase en lapsakke en bak hondebeskuit.

Renée het vir lank as ʼn verpleegster in ʼn intensiewesorgeenheid gewerk waarna sy vir tien jaar ʼn matrone was voor sy vir nog tien jaar op passasierskepe gaan verpleeg het.

“Ek het op 65 afgetree en woon nou in Stilbaai. Ek het ʼn passie om die wêreld te verken en te toer, maar om dit te doen het jy ʼn inkomste nodig.”

Renée vertel sy het altyd haar eie Kersgeskenke vir familie gemaak en so ’n jaar of wat terug het haar suster vir haar gevra hoekom maak sy nie die geskenke om te verkoop nie. Die inspirasie vir die eko-vaas kom juis van haar reise af. Sy het ʼn voorbeeld van so vaas in Barcelona, Spanje gesien en besluit om dit self te maak. Een van haar ander produkte het sy op die eiland St. Martin gesien.

Die eko-vaas is van lap gemaak en pas om ʼn plastiekbottel. Dit is perfek om jou blomme in te sit.

“Ek het selfs kliënte wat uit Engeland en Ierland bestel en omdat dit so maklik verpak kan ek dit maklik stuur.”

Sy verkoop ook by besighede in Stilbaai en ten tyde van ons onderhoud is sy besig om voor te berei om op Stilbaai se Kersmark (15-18 Desember in die gemeenskapsaal) te verkoop.

Buiten die naaldwerk, maak en verkoop sy ook hondebeskuit. Sy het ná haar aftrede begin om vir haar eie hond hondebeskuit te bak.

“Ek bak een keer ʼn maand ʼn baksel vir haar. Toe dink ek, hoekom bak ek nie sommer baie meer en verkoop dit nie? My niggie het ʼn mooi etiket ontwerp vir die verpakking, want ʼn ding moet mooi lyk, en dit werk! Ek het reeds genoeg geld ingesamel vir een vliegtuigkaartjie vir my eerste post-Covid oorsese toer,” vertel sy trots.

Renée sê jy moet ʼn passie in die lewe hê, en een van haar passies is naaldwerk. Die lekkerste is dat naaldwerk iets is wat sy baie geniet en sy sê terwyl sy so sit en werk, kry sy baie keer antwoorde op vrae wat sy het.

“Die lewe begin eers ná sestig. Dis die nuwe 45.

“Onthou, dis maklik om goed te maak,” sê sy. “Maar om dit te verkoop, moet jy moeite en tyd insit.”

Sy droom daarvan dat haar besigheid só groei dat sy nog ʼn naaldwerkmasjien kan koop en iemand kan aanstel en sodoende iemand kan bemagtig deur vir haar/hulle werk te gee.

Van joernalis na skrywer van misdaadboeke

Carla was vir baie jare ʼn joernalis voordat sy op 60 haar heel eerste misdaadboek gepubliseer het. (Foto: Verskaf)

Carla van der Spuy (69) was vir baie jare ʼn joernalis voordat sy op 60 haar heel eerste misdaadboek gepubliseer het.

“Ek het my hele lewe lank artikels en stories geskryf, maar nooit daaraan gedink om ʼn boek te skryf nie.”

Sy sê sy dink sy was so besig met stories, kinders grootmaak, heen en weer ry vir skool en haar kinders deur universiteit kry, dat sy net nooit daaraan gedink het om ʼn boek te skryf nie. Totdat ʼn uitgewer haar op ʼn dag genader het en gevra het of sy nie ʼn boek wil skryf nie. Volgende jaar verskyn haar negende misdaadboek. Sy kan self nie glo sy het al soveel misdaadboeke geskryf nie.

“Dit is ʼn baie intensiewe werk met baie navorsing en onderhoude met veroordeelde misdadigers en gerehabiliteerde misdadigers,” vertel sy. Maar Carla sê vandat sy ouma geword het, is dit asof sy nou meer die sagter kant van die lewe raaksien.

“Ek het sommer spontaan kinderstories begin skryf, eers net vir my kleindogter. Maar die stories is nou so pas uitgegee in ʼn boek, Poppedonsie“.

Sy gee ook al vir jare akwa-aërobiese oefeninge (aquarobics) by haar plaaslike swembad en neem so nou en dan boonop troufoto’s. En nog is dit nie die einde nie, want sy is nou besig met ʼn kursus in kaasmaak en oorweeg dit om volgende jaar meer kreatief te wees en af te skaal met die boeke skryf.

Dit is interessant dat sy ʼn netwerk van vriendinne het wat glad nie stilsit nie. Sy vertel haar een vriendin het ná sestig begin skilder en haar skilderye word nou in China verkoop. ʼn Ander vriendin het begin om as versorger te werk vir ouer mense wat versorging nodig het. 

Wenke vir jou

Die hoofredes hoekom mense van loopbaan verander ná vyftig, is om stres te verminder, iets nuuts te leer en hul passies te volg en soms bloot omdat hulle moeg is vir die gejaag van die rotresies.

Maar hoe nou gemaak as jy ook die sprong wil maak? Jy is dalk sestig, maar jou vlam is beslis nie geblus nie. Volgens die kenners is daar ʼn paar belangrike aspekte wat jy ingedagte moet hou.

  • Vind jou passie, want passie is petrol. Indien jy onseker is oor wat jou passie is, maak tyd om daaroor te dink. Vat ‘n stuk papier en skryf neer wat jou beste ervarings in jou professionele loopbaan was, wat jy die meeste geniet het en wat jou talente is.
  • Brei jou netwerk uit. Deel jou stories met jou geliefdes en begin dan met netwerk. Leer ken vriende van vriende, oudkollegas, ou klasmaats, jou bure, jou gemeenskap. Stap vir stap begin jy jou besigheid bemark.
  • Besluit of jy enige addisionele opleiding moet doen. Dalk moet jy ‘n kursus in sosiale media gaan doen sodat jy jou nuwe besigheid op die internet kan bemark.

Bronne en nuttige webwerwe om te besoek: www.Forbes.com, www.wifty.be, www.sixtyandme.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.