Die lewe en dood van Eugène Marais

Eugène Marais (Foto: Verskaf)

Eugène Nielen Marais, een van Afrikaans se grootste digters, denkers en doeners, se lewe word vanjaar, 150 jaar ná sy geboorte in Januarie 1871, gevier. Die einde van sy merkwaardige lewe op 29 Maart 1936, word Maandag gedenk.

Baanbreker op verskillende gebiede

As gevolg van die onstabiliteit in die ZAR ná die Eerste Vryheidsoorlog het Marais die laaste twee jaar van sy skoolopleiding in die Paarl deurloop en nie in sy geboortedorp, Pretoria nie. Ná sy regstudies het hy in 1890 na die ZAR teruggekeer en die geleentheid gekry om as bloedjong man, op negentienjarige ouderdom,  redakteur van die Nederlandstalige weekblad Land en Volk te word. Daar het sy baanbrekerswer begin. ’n Jaar later was hy mede-eienaar van die koerant en het hy as ondersoekende joernalis dikwels met president Paul Kruger en ander hooggeplaastes in die Volksraad en ZAR koppe gestamp.

Marais het spoedig ’n hoëprofielpersoon geword. Heel bo aan die lys van faktore wat daartoe bygedra het, is ongetwyfeld die gedig “Winternag”, wat op 23 Junie 1905 in Land en Volk verskyn het en wat aan die groeiende Afrikanernasionalisme van daardie tyd gekoppel is. Dit word steeds as die voorste Afrikaanse gedig beskou.

Ná “Winternag”, wat Gustav Preller gebruik het in sy pleidooi vir Afrikaans pleks Hollands as skryftaal, het Marais nog baie geskryf – weliswaar nie veel gedigte nie, maar tog ʼn hele aantal wat feitlik volksbesit geword het. Een daarvan, “Mabalêl;”, was in die 20ste eeu aan byna enige Afrikaanse skoolkind bekend. Hy was die inderwaarheid leier en die mees produktiewe skrywer van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging.

Buite die letterkunde het hy ook presteer – hy het die eerste geval van genesing deur middel van hipnose in Suid-Afrika gedoen, en met sy termiet- en bobbejaanstudies die grondslag gelê vir die ontwikkeling van die dieregedragswetenskappe.

Dié studies het tot twee beroemde natuurwetenskaplike werke gelei, Die siel van die mier en Burgers van die berge. Hierdie werke is albei later in Engels uitgegee – ongelukkig te laat vir internasionale erkenning. The Soul of the Ape is in 1919 voltooi, maar eers ʼn halfeeu later gepubliseer. Was dit vroeër uitgegee, sou dit bekend kon geraak het as een van die baanbrekerswerke op die gebied van die etologie – die studie van die lewensgewoontes en gedrag van diere.

Fenominaal, maar feilbaar

Eugène Marais as matriekulant. (Foto: Verskaf)

Die erkenning van sy statuur as wetenskaplike het in die 1960’s, 1970’s en 1980’s momentum gekry in ’n tyd toe Suid-Afrika se kernenergieprogram by Pelindaba op dreef gekom het, die land ’n gevoel van euforie beleef het ná professor Christiaan Barnard se hartoorplanting en die werk van paleoantropoloë soos Raymond Dart, die Leakeys en Phillip V. Tobias wyd bekend geword het. Marais is as ons verwaarloosde pionier gesien, en om dié saak reg te stel, is die Eugène Marais-leerstoel in Natuurlewebestuur aan die Universiteit van Pretoria geskep en is die Eugène Marais-hospitaal in Pretoria na hom vernoem.

Een prestasie waarvan nie baie mense weet nie, is dat hy as raadgewer vir Brittanje nie net ‘n baie groot bydrae gelewer om goeie vredesvoorwaardes vir die Transvaal na die Anglo-Boere-oorlog te beding nie, maar hy het ook die Britse politici oortuig om hulle beleid van die wêreldoorheersing van ander volke te staak. Herman van Niekerk skryf in sy boek Eugène Nielen Marais: Nuwe Feite en Nuwe Insigte dat die Transvaal dus die laaste land was wat die Britte gekolonialiseer het, maar die eerste een wat hulle bykans direk daarna onder beperkte selfregering aan die Transvalers teruggegee het, deur Marais se toedoen.

Maar Marais het ook ʼn donker kant gehad. Wat die publiek nie geweet het nie, was dat Marais ʼn morfinis was. In 1895 is Marais se jong vrou Lettie aan kraamkoors oorlede. Haar babaseuntjie het oorleef. Daar kan waarheid steek in die polulêre opvatting dat dit ʼn slag was waarvan Marais nooit heeltemal herstel het nie en tot sy verslawing gelei het, skryf sy biograaf Leon Rousseau. Die morfien, later ook malaria, het sy kragte gesloop.

Op 29 Maart 1936 het Marais homself met ʼn haelgeweer op sy vriend Gustav Preller se plaas Pelindaba, buite Pretoria doodgeskiet. Daarmee het ʼn einde gekom aan die tragiese lewe van een van die briljantste Afrikaners van sy tyd.

‘Lewende eerbetoon vir ʼn begaafde man’

Lettie Beyers die liefde van Eugène Marais se lewe. (Foto: Verskaf)

Om dié groot gees te gedenk, het Herman van Niekerk vanjaar die 5de hersiene druk van sy boek Eugène Nielen Marais: Nuwe feite en nuwe insigte gepubliseer.

Die Eugène Marais Stigting het ook ʼn projek van stapel gestuur om die skooltjie en koshuisgebou waar Marais op die ouderdom van 16 gematrikuleer het, te restoureer en in te rig as die Eugène Marais Innoveringsentrum. Die skool, wat in 1868 gestig is, is een van die oudste skole in Suid-Afrika en heet vandag die Paarl Boys’ High School /Hoër Jongenskool Paarl.

Volgens Niel du Toit, voorsitter van die Eugène Marais Stigting, wil die Stigting die skooltjie in ʼn besoekpunt vir erfenistoerisme omskep deur die voorsiening van ’n interaktiewe inligtingsentrum oor die lewe, werk en tydgenote van Eugène Marais.

“Hierdie terrein is die enigste goedbewaarde geboue waar hierdie begaafde man geleef het en wat as lewende eerbetoon voortgesit kan word rondom private, onderwysgerigte programme vir innoveer en leer,” sê Du Toit.

Die Eugène Marais Stigting dra skeppend by tot die kulturele landskap deur navorsing te stimuleer en skakeling te fasiliteer op die terreine van literatuur, wetenskap en aktuele aangeleenthede binne die driehoekmodel Paarl, Waterberg, Pretoria, in voortsetting van die uitnemende, innoverende prestasies en nalatenskap van Eugène N Marais.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Merkwaardige persoon waarvan sy nagedagtenis en erfenis bewaar moet word. Sy verhale is ook boeiend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.