Die man wat meer as 2 miljoen babas gered het

James Harrison met die tweeling Seth en Ethan Murray (Foto: Australiese Rooikruis-bloeddienssentrum)

Oor 63 jaar het James Harrison, met sy seldsame bloedgroep, meer as 2 miljoen ongebore babas se lewens gered.

Dié 81-jarige Australiër het onlangs vir die laaste keer bloed geskenk. ʼn Groep ma’s en hul babas het hom by die Rooikruis-bloeddienssentrum in Sydney se stadsaal ondersteun, 63 jaar ná sy eerste skenking.

Harrison, ook bekend as “the man with the golden arm” het altesaam 1 173 plasmaskenkings gedoen. “Ek hoop iemand verbeter dié rekord!” het Harrison gesê.

Dié plasmaskenkings is omskep in Anti-D-immunoglobulien wat aan swanger vroue gegee word wie se eie bloed gevaarlik is vir hul ongebore babas.

Harrison se bloed is seldsaam, omdat hy deurgaans hoë vlakke van teenliggaampies vervaardig – wat noodsaaklik is om Anti-D-inspuitings te maak.

Volgens die Rooikruis het sy skenkings al meer as 2 miljoen Australiese ma’s gehelp om ʼn suksesvolle swangerskap te verseker.

“Ek is hier om vir jou dankie te sê, James,” het Beth Ismay, ʼn 33-jarige ma van twee, gesê. Haar sewe weke oue dogtertjie, Layla, was saam met haar. “Ek het vier Anti-D-inspuitings gekry terwyl ek swanger was met Layla. Ek weet dat sy bloedskenkings ʼn groot rol gespeel het om my baba veilig te hou,” het sy aan dpa gesê en Harrison as ʼn “wonderwerk-man” beskryf.

Ismay het ʼn negatiewe bloedgroep, terwyl haar man en Layla ʼn positiewe bloedgroep het. “Layla se lewe was in gevaar. Ek sou waarskynlik ʼn miskraam gehad het as dit nie vir sy plasma was nie.” Ismay het ook Anti-D-inspuitings ontvang tydens haar swangerskap met haar eerste kind, wat nou vier en ʼn half jaar oud is.

Harrison het as 15-jarige self met sy gesondheid gesukkel toe hy tydens ʼn groot operasie 13 liter bloed benodig het. Hy het dadelik begin bloed skenk toe hy in 1954 sy 18de verjaarsdag gevier het – dit was nog lank voor gesondheidswerkers die seldsame kombinasie van Rh-negatief en Anti-D-teenliggaampies in sy bloed ontdek het.

Robyn Barlow, koördineerder van die Rh-program, die wêreld se eerste skenkingsprogram vir Anti-D, het Harrison in 1966 as die eerste skenker vir die program gewerf. “James was reeds ʼn skenker, so dit was maklik. Dit is wonderlik. Die kuur is so eenvoudig en 50 jaar later maak ons steeds staat op persone soos James om Anti-D te vervaardig. Dit het nog nie verander nie. Ons het nog nie alternatiewe maniere gevind om die probleem op te los nie,” het Barlow verduidelik en gesê dis baie moeilik om ander skenkers soos Harrison te kry.

Harrison skenk elke twee weke tussen 500 en 800 ml bloedplasma en het slegs die sessies oorgeslaan as hy iewers gereis het waar daar nie ʼn bloedskenkingsentrum was nie.

“Dit is die einde van ʼn era. Ek skenk al 63 jaar lank. Nou moet ek iets anders kry om op ʼn Vrydag te doen!” het Harrison gesê. Weens sy ouderdom kan hy nie verder bloed skenk nie. “Ek sou nog aangehou het as hulle my toegelaat het. As hulle die stelsel verander, kan hulle my net ‘n luitjie gee.”

Ongeveer 17% van alle swanger vroue in Australië het Anti-D-inspuitings nodig, het die Rooikruis verduidelik. Selfs Harrison se eie dogter moes die inspuiting kry. Die ma se immuunstelsel beskou die baba se rooibloedselletjies as ʼn bedreiging en begin teenliggaampies vervaardig om dit te vernietig. Dit kan tot ʼn stilgeboorte of miskraam lei.

Voor die deurbraak in die 1960’s was duisende swangerskappe jaarliks in Australië onsuksesvol. Meer as 3 miljoen dosisse Anti-D is sedert 1967 uitgereik met van Harrison se plasma-teenliggaampies in almal.

Daar is tans slegs 165 sulke skenkers en pogings om ʼn sintetiese Anti-D te vervaardig, was tot dusver onsuksesvol.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

nellie els ·

Met al 4 my kinders (1976,-78, -88, -91) se geboortes het ek die inspuiting gekry. en is bevoorreg dat ek geen stil geboortes ondervind het nie. wow ek het nie geweet dit kom direk van n ander skenker nie. baie dankie aan daardie unieke persone wat soveel babas se lewens gered het

Dankbaar ·

As ‘n ontvanger van anti-D inspuitings wil ek graagte dankie sê aan ons SA skenkers.
1999 – Stil geboorte – nie bewus gewees ek moes anti-D kry nie.
2002 – springlewendige tweeling
2007 – springlewendige seun

Nogmaals dankie dat die skenkers my die plesier van ouerskap kon gee!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.