Die mense langs die pad

Die Ciela’s van Calvinia. (Foto verskaf)

Ons kort vakansietjie daar doer in die Noorde duskant Botswana word toe hard en vinnig kortgeknip weens werkdramas in die Kaap. Ek en my vriend het skaars die tot bo-belaaide bakkie afgepak, vuurgemaak en moeë koppe op die kussing gesit toe is dit weer sulke tyd – kratte laai, tasse pak en ys terugsit in die koelbokse. Twee dae se reis op en nou weer twee dae s’n af suide toe, met die rooi duine wat amper beskuldigend vir ons in die truspieëltjie kyk.

Die bekende Amerikaanse skrywer en Nobelpryswenner, John Steinbeck, het gesê “People don’t take trips, trips take people” en ek glo hierdie toer het óns gevat.

Dié paar dae het ons beproef – na kop en lyf. Kilometer op kilometer op kilometer met ʼn stywe sarsie stampe, stote en slaggate. “Comms” met my vriend se werkmense was egter die groot turksvy weens al die minderwordende torings soos die stadsrumoer wegsak tussen die koppies en klowe. Internetontvangs het byna al die pad net in skamele Karoodruppels geval en alle uitsien-joligheid opgesuig. (Was dit nie vir die onweerswolke wat in die Kaap by die werkprojek aan die opbou was nie, sou dié stilte salig gewees het.)

Ons amper-blyplek, heel links. (Foto verskaf)

Ek dink almal ken die suksesresep vir ʼn goeie sloertoer. Daar moet daar onder ʼn boom afgetrek kan word vir die sondes in die sorgvuldig-beplande piekniekmandjie; ʼn mens moet by ʼn padstal kan afdraai, sterk koffie met lang stadige teue drink en tjoklitkoek verorber. ʼn Ander noodsaaklikheid is die musiekspeellys moet ról.

Om heeltyd op Teams-oproepe te probeer kom wat elke paar minute uitsny is soos ʼn motorband wat aanhou afblaas.

Maar, en hier kom die “maar”, so ʼn ongelooflike uitdagende reis teen tyd en tegnologie (of die gebrek daaraan) lewer onverwagte verrassings op. Soos spanwerk en selfbeheersing wat verhoed dat ʼn mens mekaar in die hare vlieg. As daar ooit ʼn toets was vir ʼn verhouding is dit so ʼn uitstappie want Frustrasie en Teleurstelling glip tussen die kratte en tasse in en sit kiertsregop en grynslag op die agtersitplek.

Daar is ʼn sêding: “prove adversity wrong”, en ek glo ons het.

Tog is dit die mense langs die pad – die vreemdelinge – wat hierdie paar ongemaklike dae onvergeetlik maak. Ek het lankal vergeet van die brandende oë van konsentreer op die pad of die stywe sitvlakke van min lyfrek. Nou onthou ek die mense wat al die hard, sag gemaak het.

Ek dink aan Willie en oom Olin se riemtelegram wat ons by die bekwame Nel’s van Upington uitgebring het vir ʼn voertuig wat die sand-en-stofpaaie met grasie kan bemeester. Ons is ingewag met groot glimlagte by die silwerskoon viertrek, spiekeries uit- en toegerus vir die bos. Ek dink aan die Calviniërs, Ian en Oubaas, wat op pad én terug uit húlle pad gegaan het om ons gemaklik te maak met ʼn snoesige slaapplek. Ek dink aan hulle mede-dorpenaars daar by Ciela’s se eetplek wat lánk reeds nadat die son gesak en die sneeu op die Hantam gevoel maar nie meer gesien kon word nie, die restaurantdeur spesiaal vir ons oopgemaak het.

ʼn Oomblik van vrede, voordat ek geweet het ons vat weer die pad. (Foto verskaf)

Ons tam lywe is gesalf en ons bedremmelde siele opgekikker met hierdie plattelanders se gasvryheid, elegante eenvoud en heerlike stories.

Van bewaarder Willem daar by ons amper-blyplek kan ek nie vergeet nie. Willem met sy diep oogletsel na ʼn motorongeluk. Sy stories van die ratse klein ratel wat soos ʼn mens op en af teen die reëlings van die kamphuisies klim en gaste bedrewe van hulle boskos beroof, was toe nié wolhaarstories nie. Die einste klein diertjie is kort na ons aankoms na vele probeerslae uitoorlê en deur veldwagters na ʼn veilige plek verskuif waar hy nie yskasdeure kan oopmaak nie…

(Foto verskaf)

Ons het nie ons romantiese wegbreek en die bitter-nodige stiltyd gehad nie, maar ons albei het met dankbaarheid in die Kaap weer kratte, tasse en (steeds) vol koelbokse uitgepak. Dankbaar dat ons die paar duisend spanningsvolle kilometers veilig afgelê het; dankbaar dat ons verhouding dit oorleef het, maar veral dankbaar vir die omgeemense langs die pad.

Ek weet egter ook nadese, al beplan jy hóé fyn, elke vakansie het sy kinkels, kronkelpaaie en katastrofes. Soos Steinbeck dan ook sê: “A journey is a person in itself; no two are alike. And all plans, safeguards, policing, and coercion are fruitless.”

Ek gaan hierdie mense langs ons pad weer opsoek. Dalk nie vandag of môre nie, maar eendag op ʼn Kalahari-reëndag.

Hoe dan anders; ons verkyker lê nog by die Nel’s op Upington.

  • Lizma is ʼn bekroonde radiojoernalis en – aanbieder en stigterslid van die Kaapse radiostasie, Smile 90.4FM. Sy het ʼn meestersgraad in joernalistiek.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.