Die newe-effek van Covid-19

(Argieffoto: Yuki Iwamura, AP)

Deur Annami Simon

Die gevreesde koronavirus is hier en my kos en ander benodigdhede is op. Sonder dat ek wou, het ’n vae angs my vanoggend bekruip. Moet ek nie maar gaan voorraad koop nie? Moet ek nie ook maar ekstra vitamiene, verkouegoed en kiemdodende middels gaan kry nie?

Ná twee dae se vrugtelose pogings om my inkopies aanlyn te doen, het ek vanoggend besluit om tydens Pick n Pay se inkopie-uur vir pensionarisse na ’n winkelsentrum te gaan.

Hoewel ek vermoed het dat my inkopies vandag anders sou wees, het ek nie geweet dat ek sal terugry met ʼn knop in my keel en ʼn groot droefheid wat soos klippe in my hart loop lê het nie.

Hoekom? Omdat die strate en parkeerterrein leër as gewoonlik was en baie van die winkelrakke leeg? Of was dit omdat die laerskool (digby my huis) se klok vanoggend vergeefs gelui het?

Nee. Die knop in my keel is omdat dit ’n aansteeklike virus soos dié gekos het voordat mense weer vriendelik is, met mekaar begin gesels, mekaar bemoedig en help.

Die winkel was nie besig nie en die 60-jariges (en ouer) se waentjies nie oorvol nie. Maar elke onbekende persoon verby wie ek geloop het, het my gevra hoe dit gaan – sonder die gewone haastigheid of ongeduld. Daar het selfs ’n gemoedelike atmosfeer geheers, so asof ons bly was om mekaar te sien, asof ’n onsigbare hand ons na mekaar toe getrek het.

Waarom? Omdat die mens die interafhanklikheid en omgee van mekaar veel nodiger het as lewensmiddele of selfs medisyne – al het die meeste van ons tot dusver geleef asof dit nie die geval is nie.

Kort-kort het een van die personeel besorg gesê: “Here, mama, wipe your hands,” of iemand anders: “Kom ek vertel jou gou ’n grappie.” Toe daar uit die bloute toiletpapier in die leë rakke gesit is, het almal bedaard en beleefd agtermekaar ingeval – min het meer as een pak gekoop ter wille van dié wat later vandag winkel toe sal kom.

Terug by my motor het ’n motorwag my sakke help laai. Ek kon die skrik en onsekerheid op sy gesig sien en hy het ’n geselsie aangeknoop. Toe ek die paar muntstukke uit my beursie haal en vir hom gee, met die verskoning dat ek ongelukkig niks meer kontant het nie, het hy my met ’n breë glimlag geantwoord: “No, it’s too much, too much! Thank you, thank you!

Ek wonder of ek hom weer sal sien. Ek sal sy gesig onthou omdat ek vandag (vir ’n verandering) almal in die oë gekyk het en met liefde opreg belanggestel het in my medemens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Susanna

My man werk op ‘n passasierskip wat nerens mag aanmeer nie, en die meeste passasiers is bejaard. Oor die algemeen hou hulle partytjie, want dis hul “einde-van-hul-lewe” reis.

Chantel

Dit is werklik ‘n jammerte dat hierdie mense dwing tot stilstand.

Maurese

Sjoe, dit is so waar. Die lewe het so gejaagd geraak dat ons net op onsself gekonsentreer het. Ons het gereeld ander misgekyk of maar net vinnig gegroet. Die Here ontferm Hom elke dag oor ons en dit kos vir ons niks om medemenslik te wees teenoor mekaar nie.

charmaine

Maurese, waar wat jy se HY ontferm hom oor ons, maar ook straf HY ons omdat ons juis die aarde besoedel, jaag na wind of geld, ons skeep ons eie gesondheid af ek het nou so baie gese dat al die ding wat nou al oor die werled gebeur het soos die brande vir maande in Australie die springkaan plaag(kan nou nie othou waar nie) en die virus wat lande plat slaan is ook die Here se manier om ons terug na HOM te bring want nou is daar minder lugbesoedeling, diere kom terug na bome en riviere, en ons… Lees meer »

Frans

Ek is regtig bekommerd dat mense dink dat hierdie virus ‘n straf van God is omdat die mens van Sy plan afgedwaal het.Dit is nie wat die Bybel oor dit sê nie.In die Genesis skeppingsverhale lees ons dat God die mens geskep het buite die paradys en in die tuin geset het,want die tuin was ‘n veilige hawe. Die mens is uit die tuin verban omdat hy oortree en nie geluister het nie en van toe af so gaan die verhaal is sy bestaaan op aarde anders as as dit was in die tuin en is ‘die grond vervloek’. Ons… Lees meer »