Dié opleidingsentrum ‘simbool van God se sorg’

Dié spoggerige sentrum is in Menlyn, Pretoria geleë. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Solidariteit Helpende Hand se splinternuwe opleidingsenstrum vir tuisversorgers is nie net ʼn simbool van die krag van opleiding nie, maar veral ʼn geloofwaardige simbool van die Here se voortdurende voorsiening en sorg.

Só het Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand, Donderdagaand tydens die amptelike opening van dié nuwe opleidingsentrum naby Menlyn in Pretoria gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat hierdie moderne en ruim gebou, wat voorheen as die Theodora-sentrum vir gestremde persone bekendgestaan het, gratis deur die Nel-egpaar aan Helpende Hand beskikbaar gestel is om as ʼn kampus vir hul tuisversorgingopleiding te dien.

Dit is aanvanklik deur die Nel-gesin gestig om vir intellektueel en fisiek gestremde volwasse persone ʼn beskermende werkomgewing te bied, en daarmee ook die hoop om vir hul eie gestremde seun, Jannie, ʼn plek te bied waar hy ná skool kon werk.

Jannie is kort voor die Covid-19-pandemie dood, waarna sy gesin besluit het om die sentrum permanent te sluit.

Volgens Noëth wou die gesin juis nie die gebou en perseel, wat vanweë sy ligging en geriewe nagenoeg baie werd is, vir kommersiële doeleindes benut nie, maar dit eerder ʼn doel laat dien wat hul seun se nalatenskap sal laat voortleef.

Johan Nel, Jannie se broer, het voorheen aan Maroela Media gesê dat hy aan sy ouers voorgestel het dat hulle Helpende Hand nader om uit te vind of hulle die gebou sou kon benut.

“Theodora beteken geskenk van God, en ʼn groter geskenk kon ons nie voor gevra het nie. Ons droom van ʼn volwaardige kampus het danksy die Nel-egpaar se goedhartigheid baie vinniger ʼn realiteit geword,” het Noëth aan Maroela Media tydens die bekenstelling gesê.

Die tuisversorgerkursus is in 2021 deur Helpende Hand begin weens die kritieke tekort aan tuisversorgers en ʼn behoeftige aan bekostigbare en goeie opleiding in dié veld.

Johan Nel, wie se gesin dié sentrum aan Helpende Hand geskenk het, en Hannes Noëth. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Studente wat dit voltooi kan as tuisversorger of as versorgingshulp in tehuise of residensiële instansies in diens geneem word, of privaat werk onderneem as ’n au pair of ‘n doula, of selfs palliatiewe sorg verrig.

Klasse in Bloemfontein is voorheen by die plaaslike Siesta Tehuis aangebied, terwyl Pretoriase studente by die Helpende Hand Ons Sentrum-geriewe in Pretoria-Noord of aanlyn aangemeld het.

Bloemfonteinse studente gaan steeds ʼn fisieke programfasiliteerder in hul stad hê, maar gaan nou via Akademia se Vrystaat-satellietkampus by Pretoriase dosente kan inskakel. Volgens Danelle du Plessis, koördineerder vir operasionele en studentesake by die Helpende Hand Opleidingsinstituut, gaan die Vrystaatse studente steeds voel asof hulle dieselfde individuele aandag as Pretoriase studente ontvang.

“Hulle opleiding-ervaring gaan dus dieselfde as ʼn Akademia-student se afstandleer wees,” verduidelik sy.

Tot op hede is byna 105 tuisversorgers landwyd opgelei, en vanjaar se studente het reeds klas by hul nuwe spoggerige sentrum begin draf.

“Ons gaan nou veral met ons nuwe kampus ʼn standaard stel en net verder daarop bou. Hierdie is eintlik net die begin vir die Helpende Hand Opleidingsentrum,” voeg sy by.

  • Klik hier vir meer inligting oor dié kursus.
  • Voornemende studente kan ook hier aansoek doen vir Helpende Hand se studiebeurs.
  • Vir enige navrae, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.