Lesersbrief: Die Pannekoektannie word mondig

Pannekoek-Tannie-3-deur-Lyndie Pavier Fotografie

Die Pannekoektannie van Vinkostraat in Sinoville, Pretoria saam met Ian de Jager (Boggom). Foto: Lyndie Pavier Fotografie.

Boggom van Magalieskruin, Pretoria, skryf:

Dit het begin as ʼn manier om maandeliks ʼn ekstra geldjie te verdien. Jare later is “Die Pannekoektannie” ʼn instelling en ʼn baken in Vinkostraat, Sinoville, Pretoria.

Jy weet jy’s “op die map” wanneer iemand vir jou kom vertel dat hy onlangs vir vriende wat vanuit Noord-Wes kom kuier het, moes probeer verduidelik waar sy huis in Vinkostraat is – en ná ʼn horde aanwysings sê die vriend vir jou: “O! Jy moes net gesê het jy bly naby die Pannekoektannie se treiler!”

So gepraat van “op die map” wees – tik in “Pancakes, Vinko Street” in Google Search, of gaan loer gerus op Google Earth. Die Pannekoektannie is op haar pos.

Vir inwoners van Sinoville, Montana en omliggende gebiede voel dit sekerlik asof die Pannekoektannie maar altyd daar was, en dit is omtrent so. Tannie Magda Briel staan in Oktober vanjaar reeds 21 jaar op dieselfde plek, onder die boom met die mak voëltjies.

Ek en Boggompie het onlangs by haar gaan inloer, en sy vertel die heerlikste staaltjies terwyl sy tjoef-tjaf ʼn dosyn pannekoeke bak. Soos die man wat gereeld vyf pannekoeke bestel, en drie daarvan summier verorber terwyl hy met haar staan en gesels. Daarna huiswaarts keer met ʼn pannekoek elk “vir hom en sy vrou”.

Pannekoek-Tannie-5-deur-Lyndie Pavier Fotografie

Altyd op haar pos. Die Pannekoektannie van Sinoville in die noorde van Pretoria. Foto: Lyndie Pavier Fotografie.

Of die vrou wat op laerskool was toe sy haar eerste Pannekoektannie-pannekoek geproe het – en nou die dag met haar eersteling op die heup kom staan en gesels het.

Vir my was die mooiste storie dié van die pannekoeke wat die verste gereis het. Een van Magda se kliënte is al ouma, en haar kleinkind woon en werk in Londen, in Brittanje. Op ʼn dag laat weet kleindogter vir ouma in SA dat sy nou al so lus is vir pannekoek dat sy haar lag nie meer kan hou nie. Soos die geluk dit wil hê, ken ouma vriende wat daardie selfde aand na daardie geweste vlieg. ʼn Oproep of twee en ʼn vinnige draai by die Pannekoektannie, en die kleindogter word verras met ʼn dosyn pannekoeke vir ontbyt die volgende dag – in Londen!

Om vir 21 jaar lank pannekoeke te staan en bak, sit nie sommer in enigeen se voorskoot nie. Altesaam 21 jaar in ʼn treiler is ʼn leeftyd van wind en weer, van hittige somers en koue winters.

Gaan sê gerus hallo, of nog beter – gaan sê dankie, en baie geluk met die Pannekoektannie se mondigwording.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Goeie nuus, Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marisa ·

Dis ‘n positiewe en mooi storie. Dit gee my idee vir my pensioendae…….

Mornay ·

Ek gaan saterdag in daar die rigting sal se MM het my gestuur
Lekker om weer iets goed te lees

Groete

Ellisras ·

Dit is nou ‘n mooi. Goeie nuus storie. Kikker mens se dag sommer op.

Ria Greyling ·

Baie geluk aan Tannie Magda en wel gedaan vir Tannie se bydrae aan die gemeenskap – dink net hoeveel magies is al lekker volgemaak en lippe afgelek soos duisende mense oor twee dekades aan Tannie se pannekoeke gesmul het! Alles van die beste en Godseën vir die volgende 21 jaar! Baie groete van Ria en die Greylings.

Johan ·

Ek het groot geword n paar honderd meter van die “Pannekoek Tannie” af. Ek onthou as dit bietjie bewolk was het my ma een van ons kinders n R20 in die hand gestop en gese “kom terug met pannekoek!” Ek gebruik vandag nog haar sleepwa as n baken vir aanwysings… Baie geluk Tannie Magda!

Lettie ·

Lewer normaalweg geen kommentaar as koerant artikels op my Facebook verskyn, maar hierdie keer moet ek. Het gereeld by die pannekoekstalletjie gekoop toe ons in Sinoville gebly het. Na 18 jaar in die VSA is dit die een plek waar ons altyd stop as ons in daardie omgewing is, met die paar besoeke wat ons wel in SA gehad het. Heerlikste pannekoeke en baie geluk met die prestasie!

Adél ·

Lekkerste pannekoek ooit!!! Ry baie daar verby en kan amper nooit die versoeking weerstaan om te stop vir ñ paar pannekoeke nie. Net jammer die meeste maak dit nie tot by die huis nie, lol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.