Die patryspoort van die ‘Lusitania’

Die patryspoort van die “Lusitania”. (Foto: Verskaf)

Deur Pierre Massyn

Saterdag 11 Junie 1983. Die minute het verbygetik. Byna tien van hulle. Op daardie diepte kon jy nie langer as ses minute in veiligheid verkeer nie.

Jimmy Herbert en Peter Strydom het op die Naughty Boy vir Piet van Rooyen en Daan Struwig[1] gewag. Duikers duik nooit alleen nie. As jy alleen duik, sterf jy alleen, lui die gesegde immers. Toe breek die blou onstuimigheid oop en Piet en Daan se koppe verskyn bokant die seewater. Hul makkers gryp die manne aan hul nat duikpakke en sleeplig hulle tot binne-in die rooi skiboot.

Maar toe word Jimmy Herbert kwaad. Die voorwerp van sy misnoeë, Piet van Rooyen, was nou saam met hom op die skommelende dek van die Naughty Boy, Herbert se goed toegeruste rooi skiboot van 18 voet (byna 5½ meter).

“Maar Piet, het ek jou nie gevra om die patryspoort saam met jou boontoe te bring nie, man?” het die baasduiker Van Rooyen toegesnou.

Twee-en-veertig meter onder hulle was die wrak van die RMS Lusitania, die Portugese lynskip wat op 18 April 1911 naby Kaappunt gesink het[2].

“Maar, Jimmy, ek sê dan vir jou, die luik was nie daar nie!” het Piet teruggekap, net ná hy die mondstuk van sy akwalong uitgespoeg het.

“Maar ek het hom dan op die dek van die wrak vir jou gelos! Jy móés hom gesien het!”

Ja, Jimmy was sommer lekker omgekrap dié Saterdag. Want die patryspoort was weg…

En toe gebeur daardie ding op Sondag 12 Junie 1983 met Jimmy. Die ding wat duikers die meeste vrees. Borrelsiekte. Die gif van die dieptes wat in jou are vergaar.

Kyk, Jimmy Herbert kón duik. Hy was taai en sterk. Saam met Tubby Gericke en Charlie Shapiro was hy een van die legendes en baanbrekers van duik in Suid-Afrika[3]. Maar as jy 40 meter diep duik en lank genoeg onder water bly, bou die stikstof in jou are op. Jy kan net stelselmatig daarvan ontslae raak deur sistematies en stadig na die oppervlakte te styg. “Dekompressiestops”, word dit in duiktaal genoem. As jy te vinnig styg, sit dit die borreltjies stikstof wat in jou are opgebou het, uit, want die drukking word minder. En dis ontsettend pynlik. Slagoffers van dié siekte kan verlam word en selfs breinskade opdoen.

Jimmy Herbert het vir geen duiwel bokant of onderkant die water gestuit nie. Maar Piet-hulle sien voor hulle oë wat met Jimmy gebeur.

“Die borrelsiekte het hom soos ’n voorhamerhou getref. Jy kon dadelik die verlammende uitwerking van borrelsiekte sien. Dit was vreeslik om hom so te sien ly.”

In Engels sê ons die slagoffer kry die bends. Jy wil jou ergste vyand nie so ’n lot toewens nie

Ek kan nou vir die eerste keer eerstehands van Jimmy hoor hoe ’n duiker borrelsiekte ervaar.

“Eers was daar die verskriklike pyn in my nek. Dan is jy heeltemal verlam. Ek kon nie my bene roer nie. Ek kon nie eens my oë oopmaak nie”, vertel Jimmy. “Tot vandag toe kan ek ’n baksteen skop sonder om pyn te voel. Maar aan die ander kant, as jy net my been streel is dit ontsettend seer.”

Piet van Rooyen en Pierre Massyn. (Foto: Verskaf)

Piet van Rooyen en sy makkers het die enigste ding wat hulle vir die rukkende Jimmy Herbert kon doen, gedoen.

“Ons het Bellows Rock en die Lusitania net daar gelos, Jimmy so gemaklik as moontlik gemaak en soos die duiwel na die vlootbasis by Simonstad gejaag. Daar by die duikbasis het die vlootmanne hom in aller yl in die dekompressiebuis gesit. Dit het  ’n tydjie geduur omdat dit ’n Sondag was en almal nie aan diens was nie. Ons het handewringend gesit en wag dat die stikstof uit sy stelsel kom. Dis nooit lekker om ’n maat so te sien swaarkry nie en die verligting het oor ons gespoel toe die duik-bevelvoerder ons kom meedeel Jimmy is buite gevaar.

“Maar in daardie dae was die behandeling van borrelsiekte nog in sy kinderskoene. Hulle het my nie die volle dekompressiebehandeling gegee nie. Ek was net vir sowat 18 minute in daardie silinder,” onthul Jimmy.

Die amperse noodlottige duikery op die wrak van die Lusitania was die laaste keer dat Piet van Rooyen en Jimmy Herbert saam in die water was. Maar die saambindende passie vir die skatte van die see en die geheime van sy dieptes was altyd daar.

“Die artefakte, ja….”, mymer Piet, nou ’n bekende en bekroonde skrywer van ’n handvol Afrikaanse avontuurverhale en romans.

Jare gelede gaan woon ek ’n praatjie oor diepseeduik op L’Agulhas, die suidelikste dorp in Afrika by. Die forsgeboude spreker tree die saaltjie binne maar hy skuifel en sleep sy voet. Dit was Jimmy Herbert. En nou weet ek hoekom. Daardie dag by die wrak van die Lusitania. Die borrelsiekte kan die sterkstes onder ons knak…

So het Piet van Rooyen se duikverbintenis met Jimmy Herbert tot ’n byna tragiese einde gekom, maar die verhaal van Piet en die Lusitania eindig nie met Jimmy Herbert en sy borrelsiekte nie.

“Ek snuffel graag in oudhedewinkels rond, op soek na vreemde en interessante voorwerpe, elkeen met sy eie storie, amper soos jy! Toe gaan grawe ek mos eendag in 2018 in Underwater World rond. En toe sien ek hom. Die patryspoort. Die Lusitania se patryspoort. Ek het dadelik geweet dis hy – die een wat ek meer as 30 jaar gelede vir Jimmy Herbert moes boontoe bring. Gus Goble, eienaar van Underwater World, vertel my toe die storie van hoe hý die wrakstuk ontdek het.”

Volgens Van Rooyen het Gus die skeepsluik “per ongeluk” ontdek, maar nie op die wrak self nie.

“Gus het die patryspoort half begrawe onder die sand ontdek, so ’n honderd meter of wat weg van die wrak van die Lusitania af.”

Kon die sterk seestrome wat duik in die omgewing van Bellows Rock bemoeilik, die patryspoort van die wrak losskeur? Het ’n ander skattejagter in die omgewing van Bellows Rock later die waardevolle stuk brons laat val of verloor waar Goble hom “toevallig” ontdek het?

Die see het baie geheime. Party word bewaar saam met die wrakke wat die see in sy dieptes koester. Maar Piet van Rooyen het die trotse eienaar van die Lusitania se patryspoort geword, wettiglik gekoop van Gus Goble. Dié patryspoort wat Jimmy Herbert byna sy lewe gekos het…

Daar is ’n storie agter elke artefak; hierdie een het nou sy finale rusplek gekry in my ou skoolkameraad se huisie op Stilbaai…

  •  Pierre Massyn is ’n klas 2-oopwaterduiker wat in 1971 saam met Piet van Rooyen aan die Hoërskool Windhoek gematrikuleer het.

Voetnote:

[1] Die RMS Lusitania het die rotsbank Bellows Rock op 18 April 1911 om middernag getref. Die skip was onderweg van Lourenco Marques na Kaapstad. Daar was 774 opvarendes aan boord en elf het verdrink toe ’n reddingsboot in die ruwe see omgeslaan het. Die ramp het die owerhede genoop om ’n vuurtoring by Kaappunt op te rig.

[2] Daan Struwig was ’n opgeleide dokter en lid van die Suid-Afrikaanse Weermag se Spesiale Magte. Hy is in 2019 aan kanker oorlede.

[3] Sien: “’n Lewende skakel met die Birkenhead” (Maroela Media, 15 Februarie 2019).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sê Ook Maar Net ·

Ek was onder die indruk dit is onwettig om skepe wat langs ons kus gesink het te plunder. Miskien kan iemand lig werp op die onderwerp?

Santie Gildenhuys ·

Wat ‘n groot lekkerte! Die artikel oor die Lusitania vang eerste my oog vanoggend. Ek begin die eerste paragraaf lees . Puik skryfstyl! Ek staan op en gaan maak eers vir my ‘n groot beker rooibostee met ‘n lekseltjie heuning. Sak behaaglik in my Laziboy neer. Hierdie avontuur, vertel in so ‘n heerlike geselstrant, verdien immers my volle aandag. Ek drink elke beskrywing in saam met klein slukkies tee, wat nou ook deur ‘n all bran beskuitjie gekomplementeer word. Ai, hierdie skrywer, Pierre Massyn, het ‘n wonderlike slag met woorde! Dit voel of ek hierdie patryspoortreis saam meemaak. Die menslikheid van die verhaal verwarm my hart op hierdie koue herfsoggend in die Bosveld. Dankie, Pierre. Jy mág maar skryf!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.