Dié polsende, vrolike skakering is die kleur van die jaar

Die Pantone-kleurinstituut se nuwe polsende kleur van die jaar straal nie net opwinding uit nie, maar het ook ten doel om ʼn uitbundige en vreugdevolle nuwe begin te verteenwoordig.

Só sê Leatrice Eiseman, Pantone se uitvoerende direkteur oor Viva Magenta, ʼn helder rooipienk skakering wat as 2023 se kleur van die jaar gedoop is.

Pantone se kleur van die jaar beïnvloed wêreldwyd produkontwikkeling en aankope in verskeie groot bedryfsrigtings soos mode, meubels, verpakking en ontwerp.

“Met neigings wat oor die algemeen groter en meer ekspressief word, weerspieël hierdie energieke skakering mense se nuutgevonde lus vir mode,” sê Eiseman.

Viva Magenta se treffende vrolikheid is volgens Pantone deur karmynrooi, een van die kosbaarste kleurstowwe wat aan die natuurlike kleurstoffamilie behoort, geïnspireer.

“In hierdie era van tegnologie soek ons ​​inspirasie uit die natuur en uit dit wat werklik is. Viva Magenta is ʼn onkonvensionele skakering vir ʼn onkonvensionele tyd,” voeg sy by.

Pantone het Very Peri in 2022 as die kleur van die jaar vir 2022 aangewys. Dié vermenging van blou en ligpers is beskryf as ʼn kleur wat “persoonlike vernuftigheid en kreatiwiteit” aanspoor.

Inkorporeer Viva Magenta maklik in jou voorkoms

Lizel van der Westhuizen, voorkomskonsultant en eienaar van Full Circle Image Consulting, vertel dat dié skakering danksy sy veelsydigheid een van haar gunstelinge is.

Kate Middleton pronk in Viva Magenta by prinses Eugenie se troue in 2018. Foto: Gareth Fuller)

“Omdat Viva Magenta ʼn mengsel van warm en koue ondertone is, kan almal dit beslis in hul klerekas inkorporeer. Dit is ʼn treffende kleur wat impak maak.”

ʼn Ligter weergawe van dié skakering sal volgens Lizel mense met ʼn ligter vel en ligter hare beter komplementeer, maar sy benadruk dat niemand daarvoor moet skrik nie.

“As jou stylpersoonlikheid bold en helder is, gaan groot en dra dié kleur in ʼn broekpak. As jy skrikkerig is, begin eerder met bykomstighede soos skoene of handsakke. Dit is regtig vir almal.”

Sy stel kledingstukke in skakerings van donkerblou, olyfgroen, grys, swart, mosterdgeel, koraalpienk, rooi en smaraggroen voor om Viva Magenta te komplementeer.

“Vroue met donkerder hare en blas velle sal treffend in ʼn Viva Magenta- lipstiffie lyk en jonger vroue kan selfs oogskadu in dié kleur aankoop. Ouer vroue kan dit ook op hul naels en toonnaels dra of dit selfs in ʼn ligter lipstiffieskakering aanknoop.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.