Dié SA leeuwelpies ʼn eerste ter wêreld

Foto: Verskaf

ʼn Leeuwyfie by die Ukutula-bewaringsentrum en -biobank naby Brits in Noordwes het die lewe geskenk aan twee welpies wat met nie-chirurgiese kunsmatige bevrugting verwek is.

Dit is die wêreld se eerste leeuwelpies wat op dié wyse verwek en gebore is.

Dr. Isabel Callealta, ʼn veearts van Spanje en ʼn doktorale student aan die Universiteit van Pretoria (UP), het gesê die prestasie is deel van ʼn navorsingstudie deur ʼn span wetenskaplikes aan die universiteit oor die voortplantingsfisiologie van leeuwyfies en die ontwikkeling van kunsmatige inseminasieprotokolle vir hierdie spesie.

“Tesame met die sukses van die kunsmatige bevrugting en gevolglike geboortes van die leeuwelpies, is dit nie net ʼn eerste ter wêreld nie, maar het dit ook die grondslag gelê vir effektiewe nie-chirurgiese kunsmatige bevrugting-protokolle vir hierdie spesie, met behulp van vars sperm en sperm wat gevries en toe ontdooi is.”

Volgens die navorsers kan die toepassing van die nuwe tegnieke ʼn vinniger en breër diversifikasie en verspreiding van genetika bied sowel as ʼn vermindering in siekteoordrag. Leeus hoef dan ook nie noodwendig geskuif te word vir teeldoeleindes nie.

Foto: Verskaf

Leeus plant gewoonlik goed voort in aanhouding maar die bevolking buite aanhouding is gefragmenteerd en sukkel toenemend met isolasie en inteling. Hulle word ook doodgemaak weens habitatverlies, te min prooi, siektes, stropery en trofeejag.

Die leeubevolking het van 1,2 miljoen in 1800 tot omtrent 25 000 in 2016 afgeneem en so veel as 18 000 in 2018. Dit is ʼn afname van meer as 98% oor 220 jaar.

Willi Jacobs, eienaar van die Ukutula-bewaringsentrum en -biobank, het gesê hulle is trots om deel te wees van die projek.

“Ons is dankbaar teenoor die span wetenskaplikes wat onverpoosd werk om toekomstige generasies te bewaar. Daar kan geen twyfel wees nie dat bewaring deur opvoeding en etiese navorsing die mees gepaste langtermynoplossing is vir die wêreld se bewaringsuitdagings en die dalende syfers van wildlewe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.