Dié sewe pak Ironman om seun te help

Ubuko Mphotulo (Foto: Verskaf)

Die tienjarige Ubuko Mphotulo van Oos-Londen was drie toe sy bene onder die knie geamputeer is nadat meningokokkale septisemie by hom gediagnoseer is.

Van sy vingers moes ook geamputeer word aangesien voering van sy bloedvate beskadig is en dit uiteindelik bloedvloei afgesny het. Intussen het sy prostese gekry waarmee hy kan loop.

Marissa Nel, ʼn prostese-spesialis, sê Ubuko se prostese sal soveel as 14 tot 16 keer verstel moet word voordat hy 18 jaar oud is aangesien hy nog groei. Binne die volgende ses tot agt maande gaan daar reeds aan dele van sy prostese verander moet word.

Ubuko se verhaal het sewe mans van Oos-Londen geïnspireer en hulle het besluit om op 27 Januarie die 70,3 km-lange Ironman-kompetisie aan te pak om vir Ubuko geld in te samel. Dié sewe het ʼn skarefinansieringblad op BackaBuddy begin en alle geld wat hulle insamel sal vir sy mediese onkoste aangewend word.

“Ubuko se karakter en volharding om homself te verbeter is ongelooflik. Hy pas nie bloot aan by sy prostese nie, maar hy maak die beste van elke geleentheid en maak seker dat elke oomblik saak maak. Hy neem groot treë in sy vordering en hy doen dit met entoesiasme,” het Ryan Baisley, een van die mans wat die Ironman gaan aanpak, gesê.

Vir die afgelope ses maande het die span drie tot vier keer per week van soggens vieruur geoefen vir die groot uitdaging wat voor hulle lê. Die Ironman-uitdaging sluit in 3,86 km swem, 180,25 km fietsry en ʼn marathon van 42,20 km sonder enige rustyd tussenin.

Ryan Baisley, Warren Bigara, Toby Nzuza, Ruan Jordaan en Darayn Rowe sal almal aan die Ironman-kompetisie deelneem (Foto: Verskaf)

“Uit die sewe atlete wat gaan deelneem is vier beginners in die driekamp-wêreld, en baie van ons het redelik onfiks begin. Maar op die dae wanneer ons bene pyn van 60 km se fietsry in die erge hitte, herinner ons net onsself aan hoe Ubuko elke dag voel en die ongemak waarmee hy sy hele lewe moet leef,” het Baisley gesê.

Ubuko sal die span die eerste keer by die Ironman Expo ontmoet. Baisley het gesê hy hoop dat die publiek sal aanhou om BackaBuddy te ondersteun omdat dit ʼn positiewe invloed op die wêreld maak.

“Ons kan dalk nie die hele wêreld verander nie, maar deur Ubuko se wêreld te verander, kan ons hom dalk inspireer om weer die volgende persoon wat hulp nodig het en wat dit verdien, te help,” het hy gesê.

Dié BackaBuddy- eldtog het tot dusver R13 166 van die R50 000-teiken ingesamel. Om by te dra tot dié saak volg hierdie skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

BS ·

Prysenswaardig! Net ‘n regstelling of twee: Ironman 70.3 vind plaas oor 70.3 myl (113 km), die helfte van die afstand van ‘n standaard “Ironman” en nie soos die berig dit uiteensit nie. Nogtans, ek haal my hoed af vir die manne wat dit aanpak.

Marinda ·

Baie baie dankie, julle gee my moed vir die toekoms wat onderlinge menseverhoudinge betref. Julle sal geseën word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.