Dié ‘skurk’ wil ’n impak maak

Jacques Gombault

Jacques Gombault se werklikheid is ver verwyderd van die skurk-karakters wat hy al vertolk het. (foto verskaf)

Die een vraag waarmee Jacques Gombault die meeste te doene kry, is hoekom hy altyd die rol van die spreekwoordelike “bad guy” speel. Die ironie is dat hy nie altyd die antagonis gespeel het nie, maar dit is die rolle waarvoor dié akteur en filmvervaardiger die meeste onthou word.

“My eerste rol wat my gevestig het as ʼn opperste skurk was die vertolking van Robert Gouws in kykNET se Song vir Katryn. Of moontlik was dit die rol van die duiwel wat ek as student in ʼn kerkdrama vertolk het en wat die voorblad van Rapport gehaal het! My mees onlangse rol as skurk, en wel in 2020, was dié van Jonas in Binnelanders,” sê Gombault.

Dit was reeds sy spel as Jonas wat hom ʼn nominasie besorg het as “Villain of the Year” met die sepie-toekennings.

Dit was ook die einste vertolking van die duiwel wat hom geïnspireer het om sy skripsie vir BA Drama (Hons) oor kerkdrama te doen. Is dit ʼn foefie, ʼn skoktegniek of is daar plek vir drama in die erediens? In ʼn stadium wou hy moed opgee en die tema van sy skripsie verander.

Tog het hy deurgedruk en die boek The God who communicates deur Eddie Gibbs het die geestelike been van sy skripsie gevorm.

Gombault vertel: “‘It’s not until you have asked the questions, until you have stumbled upon the answers that the solutions become obvious.’ Dit was ook die slotsom van my skripsie: ʼn Produksie, hetsy as film of verhoogstuk en veral ʼn Christelike produksie, moenie poog om vir jou die antwoord te gee nie. Dit moet jou eerder met ʼn vraag los, sodat jy honger na ʼn antwoord, wat dan kom deur prediking, getuienis of boeke en dít is wanneer daar ʼn impak gemaak word.”

Dit is presies die benadering wat hy volg met sy eie films wat hy vervaardig.  Hy wil ʼn impak maak wat die gehoor voed.

 simson-dvd-sleeve1.jpg

“Simson het nie “muscles” gehad nie” is ‘n hulpmiddel om jong seuns te help om ‘n eie identiteit te vestig.

Veral kinders lê hom na aan die hart. Vir baie jong mense het sosiale media  die plek ingeneem van die ouer en die opvoeder wat weer veroorsaak dat kinders se kompas in die verkeerde rigting wys.

Dit is vir Grombault ongelooflik belangrik dat ouers besef hoe daardie toegang tot sosiale media ons kinders se lewe op die verkeerde wyse beïnvloed.

“Dit kweek nie net ʼn behoefte aan onmiddellike bevrediging nie, maar skep amper ʼn ‘waardering’ vir dinge soos geweld en dit dra dan ook by tot boeliegedrag. Die samelewing beleef weer ʼn Romeinse era, of eerder ʼn hedendaagse Romeinse era.”

Dit is hoekom dit vir hom so belangrik is dat veral pa’s hul plek weer sal volstaan in hul kinders se lewe en hul kinders se helde en mentors word.

Afgesien daarvan dat hy gereeld skole besoek en motiveringspraatjies lewer, stort hy ook sy kreatiwiteit uit in die vervaardiging van films wat ʼn impak maak – nie net op kinders nie, maar ook op ouers. Sy films is gesonde Afrikaanse vermaak gerig op laerskoolkinders.  Die onderwerpe is van so aard dat dit lekker gesprek tussen ouers en kinders kan losmaak.

Impak-films

Lang gras is ʼn pa-en-seun-avontuur en die tema is: “Al wat ʼn seun het, is wat sy pa hom geleer het.” Die film handel oor ʼn groep seuns, Dirkie, Dawie en Pieter, wat op Veldskool agterbly het weens die feit dat die boelie hulle nie gaan roep het toe die bus opgedaag het nie. Dirkie en sy maats raak dan slaags met ʼn groep wilddiewe wat hulle ontvoer. Daardie aand by die kampvuur sê Dirkie vir sy maats: “Moenie worry nie, my pa sal ons kom haal!”

Simson het nie “muscles” gehad nie handel oor ʼn seun wat geboelie word by die skool – die boelietema word juis sterk aangeraak in die film, asook in die bonussnit op die DVD. Dit is ‘n hulpmiddel om jong seuns te help om ‘n eie identiteit te vestig

Poppielariteit fokus op boeliegedrag onder meisies, asook verhoudings met die teenoorgestelde geslag. Daar is ʼn hoërskool- en ʼn volwasse storielyn wat juis die verhoudingsaspek sterk uitlig. Vandaar die tema: “Elke vrou op aarde wil deur die lewe gedans word, maar nie elke man kan dans nie!” Die film is ‘n móét vir elke ouer met dogters en moet gekyk word voor “muisneste” begin kop uitsteek!

As jy graag van Jacques se films wil bekom of hom wil kontak, stuur e-pos na [email protected] of skakel 081 364-8945.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.