Die soet sondaar

candy-1417645Wat is suiker? Dit is op stuk van sake nie net wit korrels in jou ma se suikerpot nie. Suiker is ʼn sambreelterm wat alle koolhidrate vervat en sluit vrugte, melkprodukte en alle stysels (soos pasta, brood en rys) in. Vandaar die term fruktose oftewel vrugtesuiker asook laktose, verduidelik dieetkundige Lize Snyman. “As ʼn mens dus na al hierdie kosse verwys, is suiker nie so sleg vir ons nie, maar reeds deel van ons alledaagse dieet. Indien ʼn mens egter na verfynde suiker verwys, is dit ʼn ander storie.”

Dié tipe suiker is die sondaar in ons dieet. Hoe meer verfynd die kos, hoe meer gekonsentreerd die suikerdeeltjies. Daarom kan die “suiker” in kossoorte soos brood of rys jou bloedsuiker net so laat styg soos wat tafelsuiker dit sal doen – al is dit die hoëvesel-opsie.

“Verfynde suiker word in bykans alle verwerkte produkte versteek, soos gebak, koeldranke en vrugtesap. Oortollige inname kan aanleiding gee tot vetsug, tandbederf en dies meer.”

Hoeveel suiker in jou gunstelinghappies?

Bar-One (55g) – 35g (7 teelepels)

Kit Kat (40g) – 25g (5 teelepels)

Volgraanbeskuit (1 klein) – 5 g (1 teelepel)

Karamelspringmielies (100 g) – 52 g (10 teelepels)

Rosyntjies (30 g) – 25 g (5 teelepels)

Bloubessie-muffin (1 klein) – 17 g (3 teelepels)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie se aanbevole suikerinname vir volwassenes per dag is  minder as 25 g of 6 teelepels “bygevoegde” suiker. Kinders moet minder inneem – ʼn vierjarige behoort minder as 3 teelepels “bygevoegde” suiker per dag in te neem.

Kan suiker tipe 2-diabetes veroorsaak? Ja en nee, sê Snyman. “Suiker gee nie direk diabetes nie, maar suiker as verfynde koolhidraat kan lei tot vetsug wat deel vorm van die metaboliese sindroom. Hierdie sindroom sluit vier risikomerkers, naamlik vetsug, hipertensie, hipercholesterolemie asook diabetes mellitus (DM) oftewel suikersiekte in. Indien hierdie probleme saam voorkom, voorspel dit ernstige gesondheidskomplikasies. Kortweg: dit is algemeen bekend dat suiker tot vetsug kan lei wat veral met die ontwikkeling van tipe 2-DM verband hou.

En wat gemaak met ʼn eter vol nukke of fiemies? “Dit is baie belangrik om ʼn moeilike eter by die beplanning en voorbereiding van etes te betrek. Betrokkenheid by die voorbereiding van ʼn gesin se etes bevorder kosaanvaarding. Dus moet Sussa saamgaan winkels toe en help om kos in die varsprodukte-afdeling uit te kies. Sy moet help voorberei deur hand by te sit met was, skil en opsny asook die opskep van die ete, tafel dek, ens.” En dan, bitter belangrik, die gesin moet saam aansit vir etes en gehaltetyd saam deurbring en nie voor die TV eet nie.

Dan is daar die debat van hiperaktiwiteit en suiker. “Die debat oor hierdie vraag is nog lank nie opgelos nie en daar is nie konkrete bewys dat suiker kinders wel hiperaktief maak nie. Wat ons wel weet, is dat verfynde suikers baie vinnig in die bloedstroom opgeneem word. Dit kan ʼn vinnige verandering in bloedsuiker teweegbring, wat daartoe kan lei dat ʼn kind meer aktief is.”

Gesond eet is die fyn kuns van balans tussen dit wat jou liggaam nodig het en dit waarvoor jy lus het. Dit is die groot geheim, sê Snyman. “Leer jou liggaam van kleins af dat gesond eet lekker is.”

Wenke vir jou kind se gesonde dieet

  1. Om jou dag met ontbyt te begin is kardinaal – die belangrikheid van ontbyt kan nie oorbeklemtoon word. Ontbyt verseker “petrol in die tenk” wat bitter belangrik is vir veral skoolgaande kinders. Konstante bloedsuikervlakke speel ʼn reuserol in volgehoue energie en konsentrasie.
  2. Kies waar moontlik die growwer kosopsies. Vesel bind suiker in die derm en speel ʼn rol in die stadige vrystelling daarvan in die bloedstroom – konstante suiker, konstante energie.
  3. Eet ʼn reënboog. Verskillende kosse verskaf verskillende vitamiene en minerale. Dus verseker ʼn kleurvolle dieet ʼn wye voedingstofinname.
  4. Vermy of beperk verwerkte kosse aangesien dit gewoonlik baie versteekte suiker bevat.
  5. Maak as gesin saam kos – sodoende leer kinders van kleins af kombuisvaardighede wat gesonde gewoontes as volwassenes verseker.

Lees ook hier van sjef en kosskrywer Vickie de Beer se pad na ‘n laekoolhidraat dieet.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakobus ·

Nou waarom maak die regering koeldranke alleen die sondebok van vetsug? Sodat hulle dit kan belas? (Hulle gee dit ‘n etiket wat daaraan kleef, dis soos drank en sonderbelasting wat nou al sinoniem geraak het.)

Charmaine ·

Ag dis nog niks,kom nou van supermarkte af. Wou lekkergoed koop om in mooi glasies te sit op die Kerstafel maar ……………… die pryse is belaglik hoog. Almal skep nou!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.