Die Sonneblomsussies: ’n Storie van hoop

 sonneblom-002-pixabay.jpg

(Foto: pixabay.com)

Ons kinders word onskuldig in dié lewe gebore. Die kleinste voetjies en handjies – so broos en afhanklik van ons as ouers om hulle die paaie van die lewe te leer. Ons moet die rigtingwysers vir hulle wees. Soms is ouers egter net nie daar nie. Soms verdwyn die ouers uit ʼn kind se verhaal. Soms staan die kind alleen en hartseer. Sy pad kry kinkels en draaie en ʼn mens wens dat dit so ʼn kind eerder gespaar kon bly.

Daar waar die ouers nie is nie, moet ander hoopdraers van God intree. Dan is dit God wat sulke kindergevalle op Helpende Hand en Maroela Media se tafel plaas; hier waar ons en die gemeenskap saamstaan om sulke kinders se bruggie te wees. Hier, waar die ouers nie is nie, staan ons saam om ons kinders vooruit te neem.

Tanya Rossouw, maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand, Vrystaat-streek, sê: “Dis waarskynlik onnodig om op die redes te fokus waarom kinders nie noodwendig in hul ouerhuise bemagtig word nie. In dieselfde asem is elke kind wat by ʼn projek soos Bemagtig-ʼn-kind baat naderhand nie meer net ʼn naam wat aanvanklik vir bemagtiging goedgekeur is nie. Mettertyd volg daar gereelde boodskappies tussen die kinders en die oom of tannie van Helpende Hand. In eksamentye word hulle bemoedig en op hul beurt deel ons kinders weer hul rapporte vir lofprysing. Dit kom hulle dikwels toe en dit is broodnodig vir elke kind om te hoor, want elkeen is kosbaar, geliefd en wonderlik. Elke kind het ʼn plek waar hy of sy behoort (ja, iewers) … En ons bid dat elke kind dit sal glo en dit sal word. Ons kinders het elkeen sy of haar eie storie: party se ouers is intellektueel ingeperk en hoewel hulle getrou in hul onderskeie werksituasies is, is dit net nie finansieel moontlik om by al die uitgawes om werklik te LEEF uit te kom nie, al werk hulle ook al die ure wat een week bied.”

Die Bemagtig-ʼn-kind-inisiatief het onlangs ʼn aansoek om hulp ontvang. Elke aansoek word as ʼn kind en nie net ʼn nommer beskou nie. Elke aansoek het ʼn naam en ʼn adres. Elke aansoek word met liefde en moed aangepak en oorweeg. Daar word met elke aansoek diep gedelf om te kyk hoe ons kan help.

In my hande sit ek met die vorms van ʼn dogtertjie en haar sussie (om hul identiteit te beskerm, mag ons hul name nie bekendmaak nie). Vir die doeleindes van hierdie artikel noem ek hulle die Sonneblomsussies.

grootouers-oupa-ouma-pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

Die twee klein, skraal lyfies van die Sonneblomsussies woon by hul ouma en oupa op ʼn dorpie in die Vrystaat. Hierdie kinders lê my so na aan die hart omdat my eie dogtertjie se ouma en oupa ook in die Vrystaat woon, en hulle net so lief vir haar is. Elke keer dat ek met die aansoeke sit, dink ek aan my eie kind en huil my hart hardop in my borskas.

Ewenwel, die Sonneblomsussies se ouma en oupa is albei diep in hul 70’s. Ouma en oupa kry darem ʼn klein staatspensioen, maar albei werk nog hier en daar om geld in te kry om die beste wat hulle moontlik kan vir die kinders te bied. Die Sonneblomsussies se mamma het hulle vroeg al verlaat en hulle kan haar nêrens vind nie. Die mamma is glad nie in hul lewe nie en loop soveel mis in haar afwesigheid. Ek kan in my gedagtes net sien hoe daardie blou ogies van die Sonneblomsussies elke aand na haar soek. Pappa is al ʼn rukkie lank in die tronk en kan dus ook nie sy bydrae finansieel of as pappa van die gesin bied nie. Ouma en oupa is dus die enigste twee rolmodelle en hoopdraers wat hierdie kinders het.

Die klein dorpie waar die Sonneblomsussies saam met ouma en oupa woon, het nie ʼn hoërskool nie. Helpende Hand moes dus seker maak dat die sussies in ʼn koshuis geplaas word en dat die koshuisgeld betaal word. Met die Sonneblomsussies in die koshuis, kan hulle nou heen en weer tussen die koshuis en ouma en oupa se huis met die bus pendel. Hulle kan elke oggend, middag en aand ʼn bord gesonde kos ontvang. Daar is ʼn koshuisvader en -moeder wat kan aandag gee en aan die sussies die nodige hulp en raad bied. Hulle kan steeds by ouma en oupa, wat hulle ontsettend liefhet, kuier. Maar hulle kan nou groei en leef: sorgloos, soos kinders moet.

(Foto: Daiga Ellaby/Unsplash)

Heldergeel sonneblomme simboliseer die somer. Die blomkoppe volg die son. Dink dus aan waar jy jou sonneblomme plant. Vir die beste blomme en die stewigste stamme moet jy jou sonneblomme in volle son plant. Hul blomkoppe sal die hele dag draai en die son volg. Volle blootstelling aan die son sal hulle help om groot te word. Deur hulle gereeld nat te maak, help jy hulle om groot, gesonde blomme te laat bloei. In tye van droogte sal die blomme nie bloei nie. Helpende Hand en Maroela Media het die Sonneblomsussies se oupa en ouma ondersteun deur die sussies in die son te gaan plant waar hulle kan groei en tot hul volle potensiaal ontwikkel.

Hierdie verhaal kon ʼn ander uiteinde gehad het as die gemeenskap nie saamgestaan en geld aan die Bemagtig-ʼn-kind-projek voorsien het nie. Sonder die gemeenskap sou Helpende Hand nie kon intree en help nie. Dit is ʼn besonderse voorbeeld van ʼn gemeenskap wat saamstaan om mekaar te help.

Dankie weereens aan elke persoon wat aanhou gee vir die Bemagtig-ʼn-Kind-fonds.

As jy vandag hier lees, en jy wil en kan ook help, besoek gerus ons webwerf of sluit aan as ‘n ondersteuner. Jy kan vandag ʼn verskil maak; ʼn verskil wat ʼn leeftyd gaan voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.