Die sport van gewigoptel

Gewigoptel, die sport waarin ʼn mens probeer om met groot inspanning die swaarste gewig moontlik bo jou kop op te tel, is nie naastenby so oud soos Jesus se werk van gewigoptel nie!

In Matteus 11 lees ons Jesus se bemoedigende uitnoding aan elkeen van ons wat voel of ons knieë wil ingee onder die gewig van ons situasie of omstandighede of uitdagings. Hy sê as jou knieë wil knak onder al die probleme en verantwoordelikhede wat jy moet dra, kom na Hom toe en leer by Hom wat die sin van die lewe is en ontdek die geluk om nie net vir jouself te leef nie, maar nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê. Vers 30 lui: “My juk is sag en my las is lig.”

Jesus is die kampioengewigopteller en wil met ons ruil – sy sagte juk en ligte las vir daardie swaar gewig wat op jou lewe druk en jou laat voel of jy net nie kan regop kom nie!

Maar sy uitnodiging gaan verder as net ons eie las…. Hy nooi ons om as sy medewerkers en as sy hande en voete hier op aarde die ware sin en geluk van die lewe te ontdek deur met liefde en soms net ʼn bietjie ekstra tyd en moeite, iemand anders se las ook te verlig waar ons kan!

As ek dink aan my werkplek: Is ek iemand wat die swaar atmosfeer sal probeer verlig met hoop en positiwiteit of laat my woorde en opinies juis mense se skouers nog verder hang? Is ek ʼn spanspeler wat kyk hoe ek dit vir ander mense makliker kan maak – nie moeiliker nie? Ek het in my 12 jaar by Egoli geleer hoe belangrik dit is om in ʼn span jou kant te bring ongeag jou pos of posisie! As ek nie my woorde ken nie, hou ek die res van die span op wat die hele dag op hulle voete moet staan en eers vanaand as al die tonele klaar geskiet is, kan huis toe gaan.

As ek dink aan die skoonmakers in ons kantoor of by die huis, die man wat deur my vullis grawe op soek na papier en plastiek om te herwin, selfs die ou wat elke aand die blikkies op die rak moet regskuif voor die winkel weer môre sy deure oopmaak, die onderwyser voor in my kind se klas, die persoon wat die fliekteater moet skoonmaak voor die volgende vertoning, is daar nie dalk ʼn manier om hulle werk of verantwoordelikheid effens ligter te maak nie?

En vir mense wat dadelik met verskonings van “dis waarvoor hulle betaal word” of “ek het genoeg werk van my eie” probeer verdedig, herinner ek aan ʼn Jesus wat nie telling hou om te bepaal of ek sy hulp waardig is nie….

Hoe kan ek en jy vandag by Jesus aansluit as ʼn gewigopteller, sommer as ʼn gewoontesport waar ons heeltyd op die uitkyk is vir ander mense wat dalk swaar dra en vir geleenthede waar ons deur klein dingetjies iemand se las net so effens kan verlig?

Meer oor die skrywer: Lindie Strydom

Lindie Strydom is ‘n bekende radio- en TV persoonlikheid, skrywer en spreker met ‘n passie vir haar gemeenskap! Sy is getroud met Johann Strydom en die ma van drie kinders, Paul en ‘n tweeling, Hugo en Nina.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.