Die varsgebak van vriendskap

Riana se vetkoek. (Foto: Verskaf.)

Vetkoek, viskoekies en kolwyntjies – stoom wat nog trek van pure varsheid. Keurig verpak in sellofaan met ’n kleurvolle strik en ’n kaartjie in kinderkrabbel aan die dankbare ontvanger: “Liewe Lizma”. Die lékker van lewe-in-afsondering.

Ek hoor so per bostelegraaf van baie sonde met die bure oor dié tyd, maar vir my was dit die begin van nuwe vriendskapsbande. Dit nogal op ’n nuwe dorp waar my huis al vir ’n paar jaar effens eensaam onder die Groot Boom staan met vreemdelinge se voete wat argeloos kom en gaan.

Ek het op die nippertjie, ure voor middernag 26 Maart besluit om my kar te pak en my honde in te laai. Die spanningsvolle, slakkepasrit op die N2 Overberg toe, vol vrees oor die toekoms, het my byna laat terugdraai na die bekende wat ek nou so impulsief in my truspieël agtergelaat het. Alles vir my hondekinders, gewoond aan hul twee bergstappe per dag, en wie se gees ek glo gebreek sou word, “vasgeketting” in die piepklein stadstuintjie.

Dus, eensklaps, begin ’n nuwe lewe op die platteland, tussen vreemdes. ’n Inkommer wat doekvoet stap en haar plek moet vind onder abnormale omstandighede.

Die sonsondergang oor Hermanus. (Foto: Verskaf.)

Maar dit was nie lank nie toe begin my selfoon piep en verskyn daar vriendelike gesigte op stoepe en balkonne om op ’n veilige afstand welkom te sê.

’n WhatsApp van buurvrou Riana sou my “muur” toe nooi waar haar en Hein se uiters kordaat kleinseun van Wallis kiertsregop op die muur sou sit, reg vir die groot oorhandiging van tuisgebakte lekkernye. (Hy sou dan ook trots vertel van sy aandeel in die gebak-en-brou hier in die kunstige hoekhuis.)

Die WhatsApp “thumbs up” elke oggend – op Hein se aandrang – sodat hulle weet ek is veilig. Sy aanbod om my dooie struike wat die munisipale vragmotor nie ná my swaar sleep wou oplaai nie, fyn te kap sodat dit in ’n vullissak sou pas, gaan nie ongesiens verby nie. Klein gebare. Groot waarde.

Dan is daar Tanya, twee huise van my, straatop, my wat erg verlang na haar man in Irak wat weens die reisverbod nie kon huis toe kom vir sy verjaarsdag nie. Teen sonsondergang waai ons vir mekaar – ek op my stoep en sy en haar dogter op hul balkon. Ons lig ons hande in ’n simboliese gebaar – ons drink op gesondheid en wys mekaar die oranje en pienk van die son se groet.

En af, regs in die pad, alleenloper Rod wie se bruingebrande gesig met die diep lyne ’n honderd stories vertel. Ek hoor die gebrul van sy grassnyer en soms, wanneer ek ook (begeesterd) aan die tuinmaak is, stap hy skrams nader vir ’n vinnige geselsie of grappie oor die muur. (Hy het beloof om my eersdaags in sy bakkie te laai en te gaan wys waar die varsste vis op die dorp weggesteek word.)
Ons het almal stories om te vertel oor hierdie vreemde tyd in ons lewe; ons is almal geraak en ek glo ons het almal tot ’n nuwe besef gekom wat méns-wees eintlik beteken.

Lizma van Zyl. (Foto: Jaco Marais.)

Baie dinge sal my bybly – the good, the bad and the ugly. En onder “good” staan Die Groot Uitreik as Nasie boaan die leer – deur ou én nuwe vriende. Maar ’n kortkoppie daaronder: die gerusstellende reuk van buurman Hein se braaivleisvuurtjie wat die seebries so vrolik inwaai.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.