Dié verloofringe is tans in die mode

Lorean is mal daaroor om gekleurde edelstene met wit diamante te meng (Foto: Lorean Jewellery Design)

Om verloof te raak is ʼn baie spesiale tyd in ʼn mens se lewe, en deesdae is daar al hoe meer unieke verloofringe wat anders lyk as dié van vorige jare. Daar is ʼn neiging na meer persoonlike ringe wat iets oor die persoon self sê, eerder as ʼn tradisionele verloofring.

Maroela Media het by Lorean Britz van Lorean Jewellery Design gaan aanklop om te hoor hoe die giere tans vir verloofringe lyk.

Ten spyte daarvan dat mense meer geneig is om verloofringe te koop wat anders lyk as voorheen, is goud steeds ʼn groot treffer.

“Ons voel dat goud altyd klassiek en tydloos sal wees, dit is ons gunsteling-metaal om mee te werk en die meeste kliënte verkies goud. Geelgoud, roosgoud en witgoud is tans ewe populêr. Ons is ook mal oor ons eie sjampanjekleurige roosgoud wat ’n mengsel tussen roosgoud en geelgoud is. Ons meng ook self ʼn ligte roosgoud wat ʼn mengsel tussen roosgoud en witgoud is. Verder werk ons ook gereeld met platinum,” het Britz aan Maroela Media gesê.

Britz meen gekleurde diamante en kleurvolle edelstene is ook tans in die mode.

“Diamante sal altyd populêr wees, en deesdae is sjampanjekleurige, konjakkleurige en ‘sout-en-peper’-diamante gewild. ’n Unieke diamant met karakter en ’n spesiale kleur is altyd ʼn gunsteling omdat dit enig in sy soort is.

‘n Smaragsnit gekombineer met driehoekige diamante (Foto: Lorean Jewellery Design)

“Edelstene se kleure is ewe aantreklik, veral saffier en toermalyn. Toermalyn is beskikbaar in die mooiste skakerings van groen tot pienk en grys, met soveel unieke kleure tussenin. Party toermalyne is tweekleurig. Ek is verlief op die kombinasie van ’n gekleurde edelsteen met wit diamante, omdat dit die kleur behoorlik laat uitstaan,” het hy gesê.

Wanneer dit by snitte kom, meen Britz ʼn smaragsnit (reghoekig), markiesin-snit (oogvormig) en peersnit is besig om meer populêr te word. Britz sê hy meng ook graag snitte soos byvoorbeeld om ʼn smaragsnit te kombineer met driehoekige diamante of om ʼn ronde toermalyn met markiesin-snit diamante te kombineer.

Kyk hier na voorbeelde van ringe wat tans in die mode is:

ʼn Ontwerp waar die stene op ʼn unieke manier saamgegroepeer is

(Foto: Lorean Jewellery Design)

Gekleurde edelstene gekombineer met diamante

(Foto: Lorean Jewellery Design)

Minimalistiese enkelontwerpe

(Foto: Lorean Jewellery Design)

Botaniese motiewe en organiese lyne 

(Foto: Lorean Jewellery Design)

Indrukwekkende Art Deco-styl

(Foto: Frank and the Misses)

Drie-steen monterings in gemengde snitte

(Foto: Lorean Jewellery Design)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Santie ·

Was ek eerder maar ryk in plaas van beeldskoon. ……dan kon ek ook een van hierdie pragtige ringe koop!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.