Die Voortrekkers: Ná 85 jaar steeds relevant

Die Voortrekkers vier vanjaar hul 85ste bestaansjaar (Foto: Verskaf)

Die Voortrekkers vier vanjaar hul 85ste bestaansjaar (Foto: Verskaf)

Die Voortrekkers vier vanjaar sy 85ste bestaansjaar en is ná agt dekades steeds ʼn relevante organisasie wat die moderne Afrikaner-jeug bemagtig om suksesvol te wees in sy roeping tot diens. Dié beweging is ʼn plek waar die jongspan waardevolle vaardighede en Christelike waardes aanleer.

Maar hóé bly ʼn organisasie soos die Voortrekkers ná byna ʼn eeu steeds relevant?

Dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK en leier van die Voortrekkers, meen dié organisasie skep ʼn omgewing vir die jeug om steeds te kan deelneem aan buitelug-avonture en vergange tradisies.

“Die Voortrekkers is ’n plek waar kinders die natuur met ʼn avontuur kan geniet,” sê hy. “Waar anders sal hulle vandag die kans kry om knope te vleg, vuil te word, staproetes te verken, in branders te roei, deur riviere te swem, in skuilings te slaap wat hulself gebou het, rigting met sterre te vind of sommer net laataand om ’n kampvuur te kuier?”

Langner meen dié organisasie se sukses lê daarin dat hy soos ʼn familie is. Dit is ʼn beweging waarin vrywilligers in hul vrye tyd handleidings skryf, geboue en spankamers oprig en kampterreine ontwikkel. Die Voortrekkers is as’t ware ʼn organisasie wat sy lede onderrig omtrent deursettingsvermoë, toewyding, kameraadskap en opoffering.

Foto: Die Voortrekkers

Foto: Die Voortrekkers

“Dit gaan oor ʼn liefde vir ons taal, kultuur, ons kinders, en bo alles, ʼn liefde vir die Here,” voeg hy by.

Dié organisasie se sukses lê immers ook in sy boublokke soos onder meer geloof, trots, familie, diens en leierskapsontwikkeling. Kultuur, avontuur en natuur (KAN) en vaardighede, waardegedrewe antwoorde en praktiese toepassing (VAT) is ook van groot belang.

Dit is vanweë dié boublokke dat talle ouers steeds verseker dat hul kinders by die organisasie betrokke is.

Sanette Harvey, ouer van ʼn Voortrekker, meen dié organisasie skep ʼn geleentheid vir kinders om “soos destyds” in die buitelug te speel, te leer en te ervaar.

“Deesdae sit kinders die hele geslane dag voor rekenaars of met een of ander vorm van tegnologie. Die Voortrekkers leer hulle om goed te maak. Kinders leer baie waardevolle vaardighede aan wat hulle in ander aspekte van hulle lewe kan toepas,” sê sy.

Harvey meen dit is veral die grondslag van die Voortrekkers wat die organisasie bó ander laat uitstaan. “Godsdiens en ʼn diens aan jou land is die grondslag van die organisasie. Dit is ʼn geleentheid vir kinders om bemagtig te word.”

Yolanda van Niekerk, ook ʼn Voortrekker-ma, sê dié organisasie skep ʼn omgewing waar kinders weer kinders kan wees.

“Hulle neem deel aan aktiwiteite wat sommer deel van ons alledaagse speel was toe ons klein was, maar wat stadskinders glad nie meer ken nie: Hulle kamp, slaap oor op allerlei avontuurlike plekke, bou vlotte, stap in die veld, hou teepartytjies, braai stokbrood oor die kole en geniet sommer net die lewe, soos kinders veronderstel is om te doen,” sê sy.

Foto: Die Voortrekkers

Foto: Die Voortrekkers

Van Niekerk sê die kinders kry ook kentekens vir iets wat hulle bemeester, vir kennis of ʼn vaardigheid wat hulle nuttig te pas sal kom. “Die kentekens is sommer ʼn waardevolle bonus. Met dié kentekens doen hulle basiese kennis op oor onderwerpe soos sterrekunde, noodhulp, spoorsny, padveiligheid, geskiedenis en ʼn klomp ander onderwerpe wat nie deel is van die skoolkurrikulum nie. “

Derik Bruwer, offisier van die Meerkatte-Voortrekkergroep, sê die Voortrekkers leer kinders ʼn stel waardes waarin min ander instellings slaag. “Die kinders leer respek vir ouer mense, vir mense in gesagsposisies, vir hulself en vir hul geloof.

“Geloof speel ʼn rol in alles wat ons doen. Christenskap is een van die hoekstene van die organisasie, daarom glo ons dat ons die kinders op die regte manier grootmaak,” sê hy.

Benewens dié waardes en boublokke is die Voortrekkers ook ’n geakkrediteerde opleidingsinstelling wat verskeie Seta-geakkrediteerde kursusse, toerustingskursusse en persoonlike verrykingsgeleenthede vir naskoolse jongmense én volwasse lede aanbied.

Maar bowenal, meen Langner, is die organisasie ʼn familie. “Die Voortrekkers is ’n plek waar oupa en ouma, pa en ma saam met hul kinders in ’n gebalanseerde kultuuromgewing kan kuier, saam kan dien en saam kultuur met avontuur in die natuur kan geniet,” sê hy.

Die hoogtepunt van die Voortrekkerfeeste vind op Erfenisdag (24 September) by die Voortrekkermonument in Pretoria plaas. 600 nuwe Voortrekkers word ook tydens dié geleentheid ingelyf.

Vir meer inligting, besoek die Voortrekkers se se webwerf of Facebook-blad. Vir meer inligting oor die feesjaar, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JC ·

GOEIE NUUS!
Ditsem! (ek het toe ‘n behoorlike Afrikaanse plaasvervanger vir “awesome” gekry!

Relevansie ·

Dis baie waardevolle vaardighede wat die kinders leer, en ek beveel baie sterk aan dat julle kinders ook leer van vaardighede wat nie net in die bos nie maar in die moderne gevaarlike samelewing vanpaste is soos selfverdediging, “prepping”, moderne lanternbekruip en “paintball”. Dis nie net groot pret nie maar baie relevant vir vandag se jongmense.

Denina ·

Dalk sal u dat aangenaam verras wees om te weet dat daar verskeie kategorieë is waaraan kinders blootgestel word. In die lig van u kommentaar noem ek slegs ‘n paar, met die uitsluiting van Afrikanerskap, Diensbare leierskap en Christenskap. So word daar oa onder die kategorie, (positiewe) burgerskap vir hoërskool Voortrekkers die volgende spesialisasies of kentekens aangebied:
Brandweer
Burgerskap
Gevorderde Noodhulp
Paraatheid
Selfbehoud – Veld /See /Water
Selfverdediging
Tuisverpleging
Verkeersveiligheid
Vuurwapens
Waterredding
Waterveiligheid
In die kategorie Omgewing:
Jag en Wildbeheer
Kuswag
Omgewingskennis
Padda Identifisering
Riviere
Ruimte / Tegnologie
Seekunde
Sterrekunde
Strandvernuf
Tuinbou
Voëlidentifisering
Woestyne
Wynkennis
Onder die kategorie Vaardighede:
4×4 Veldry en Veldoriëntering
Bonsai
Bouwerk
Dansvaardighede
Fietsryer
Fotografie
Huishouding
Kommunikasie
Lewens- en Besigheidsvaardighede
Lewensvaardighede
Motorbootkunde
Nutsman
Skoonheid en Sjarme
Spyseniering
Verfwerk
Vliegkuns
Werktuigkunde
Onder die kategorie Tegnologie:
Elektrisiteit
Elektronika
Joernalistiek
Kaart en Satelietkompas
Radio Amateur
Radio Operateur
Radiospraak
Rekenaarkunde
Verskeie waardegebaseerde spesialisasies word nie eers gelys nie.

elize ·

Dit is net baie jammer dat die ouers van die Voortrekker kinders, veral die rondom Pretoria nooit die mense op die pad na die Voortrekkerkamp wat binne die hekke van die DGR gelee is, enige ander mense op daardie pad inagneem nie. Hulle jaag, ry onverskillig en het geen respek vir die inwoners wat daagliks daardie pad gebruik nie. Miskien moet die Voortrekkers vir die ouers ‘n kamp aanbied waar hulle die basiese dinge leer soos respek vir ander padgebruikers en hou by die basiese padverkeersreels.

As die Voortrekkers ‘n kamp het weet ons almal in die omgewing dit, want die manier hoe hulle ry met hulle nuwe pragtige 4 x 4 voertuie, duur duitse motors ensomeer……..is ‘n aanduiding dat ons rus en vrede op die pad weer verstoor word.

Dink tog bietjie aan ander padgebruikers ouers van die pragtige voorbeeldige Voortrekker kindertjies.

neelsie ·

Gryp hierdie geleenthede met albei hande aan.!
Lewensgehalte word verryk,.
Lekker en voorreg om aan so n beweging te behoort.
“Voortrekkers, hou koers”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.