Die winter is soveel meer

Die Pieke se sagte missilhoeeët. (Foto: Verskaf)

Ek wag al lank vir die winter se warm.

Dit wérk net vir my kop en lyf.

Navorsers sê die ideale leefruimte- en werkruimtetemperatuur vir die meeste mense is tussen 20 en 22 grade Celsius en vir ʼn slaapkamer is dit tussen 16 en 19. (Vat vir my drie grade weg in albei gevalle en ek is happy.) Daar is boonop gesondheidsvoordele verbonde aan koue weer: ons breinfunksie verbeter; ons hart kry ʼn kick-start; die veel laer temperature kan jou help om infeksies beter te beveg; mens slaap beter en laaste, maar nie die minste nie – dit kan help om gewig te verloor. (Die liggaam verbrand inwendig baie kalorieë om warm te bly terwyl somerkalorieverbranding meer klimaatsverwant is.)

ʼn Mens funksioneer op jou beste wanneer jy hitte maklik kan reguleer deur bloedvloei aan te pas – dus, wanneer ons nie hoef te sweet om af te koel of te bewe om warm te word nie.

Vir my is die winter egter veel meer. In die woorde van die Amerikaanse skrywer, Harry Sinclair Lewis wat die VSA se eerste Nobelpryswenner vir Literatuur was: Die winter is nie ʼn seisoen nie; dis ʼn roeping. Een waarna ek vir drie seisoene lank uitsien. Natuurlik het dit te doen met al die geykte lekkernye soos sielskos en ʼn glas wyn voor ʼn kaggelvuur, maar dis veel meer as dit. It’s a state of mind. En veral as jy jou vir die winter op die Bolandse kroonjuweel, Stellenbosch, bevind.

Dit was my studentedorp, maar dis na al die jare net ʼn vae herinnering met kolle se onthou van ʼn opwindende, sorgvrye paar jaar. Ek is nou terug in die Eikestad, as grootmens op ʼn oorwintering en van vooraf op ʼn ontdekkingsreis wat vanoggend met die honde in gelid langs die Eersterivier begin het. Gisternag se reën het die water oor die gladde rivierklippe vrolik laat kibbel en die Pieke se sagte missilhoeeët het my gedagtes na DJ Opperman se “Winter” laat trek.

Lizma het saam met haar honde aan die begin van die wintermaande op ‘n ontdekkingsreis by Eersterivier begin. (Foto: Verskaf)

Die Pieke skuil in mis of wit kapok

bo lensie-, ertjie-, spek-en-boontjiesop

wat damp teen vensters en wit gewelmure.

Bottels rooiwyn warm aan voor kaggelvure

en in houtbakke volgens die seisoen

staan koejawels opgestapel en soetlemoene.

Ons sal soms met intiemer tongval praat;

kerriekos eet, varkrib en bruin wildsbraad,

souskluitjies met kaneel, gesproete pannekoek.

Wanneer jou kop sy reglê op die kussing soek,

raas die Eersterivier harder en vol,

en in jou word die klippe ronder omgerol.

En dis juis wat my van die winter bekoor. Dis stiller, sagter en ons keer vir ʼn paar maande effens na binne. Ons verwerk. Ons herkalibreer. Ons sak terug in default settings. En so word ons klippe ronder omgerol en wanneer die lente skaam-skaam maar vol belofte oogknip, lê daar ʼn stapel gladde, blink rivierklippe.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Santie Gildenhuys

Lizna, ek deel jou lofrede aan die winterseisoen heelhartig. Ek voel dit eens met jou vele redes wat jy so gevoelvol en tekenend uiteensit. Wanneer die ouer mense begin wegskram van vuurmaak buite in die winter, reageer ek telkens verontwaardig met: maak die vure net groter! Mag jy en die res van ons winterondersteunersklub ook hierdie winter floreer!