Die wonder van susterskap

WhatsApp-Image-2018-04-12-at-12.43.06.jpeg

‘n Groep “susters” wat die voorskou bygewoon het in Bloemfontein (foto: Amanda Prinsloo)

Ek het al so baie gehoor “my vriendin is soos my sussie” of “my sussie is my beste vriendin”. Vriendskap, susterskap.

My hele lewe lank was ek ʼn Gautenger. Ná ʼn paar jaar in die Kaap, het ons so ses jaar gelede weer teruggekom Gauteng toe. Ek het gedink die aanpassing gaan maklik wees, want ek ken mos dié wêreld en sy mense. Maar ek was verkeerd. My hart het nog vir jare lank bly terughunker na die Kaap. Was dit die see, die berg, die ongelooflike nabyheid van die natuur, die rustiger leefstyl waarna ek verlang het?

Ek dink ek weet nou wat een van die heel grootste redes was …

Só gryp Maroela Media die geleentheid aan om landswyd voorskoue van die gewilde en suksesvolle rolprent, Susters, aan te bied. Die uitnodiging word gerig aan vroue: kliënte, medewerkers, Maroela-lesers, luisteraars van Radio Helderberg (Wes-Kaap) en Radio Rosestad (Bloemfontein), en vroue wat hard en ondankbare werk agter die skerms doen – die welsyn- en gemeenskapwerkers. Ons vra hulle om hul eie susters, vriendinne, dogters of sommer hulle ma’s saam te bring.

DSC_0360.jpg

Annelize Brits van Maroela Media en Tammy Morey van die Helpende Hand-tak in Bloemfontein (foto: Amanda Prinsloo)

Die ding wat my die meeste oorweldig het, was van die terugvoer wat ek gekry het met die uitstuur van die uitnodigings:

“My sussie is my beste vriendin en verdien ʼn aandjie uit.”
“My vriendin is soos my sussie en sy het só nodig om bietjie bederf te word.”
“My niggie is my heel heel beste vriendin en ek wil haar graag saambring.”
“My kollega het my vriendin geword …”
“My liefste sussie was nog altyd daar vir my en ek wil vir haar dankie sê …”
“My vriendin gaan deur so moeilike tyd en het dit so nodig.”
“Ons is ʼn groep vriendinne wat almal saam deur skooleksamen is en het ʼn breek nodig …”

WhatsApp-Image-2018-04-12-at-12.49.45.jpeg

René Harmse , Mareli Rall en Jhua-Nine Wyrley-Birch tydens die voorskou in Irene (foto: Amanda Prinsloo)

Ons reis van Irene na Somerset-Wes en na Bloemfontein. Met die uittog na Bloemfontein besluit ons sommer dat ons susters dit behoorlik gaan doen in die vorm van ʼn “road trip” in ʼn splinternuwe Peugeot 208. Veral die manne by die kantoor se oë het behoorlik gerek (natuurlik verstaan ons vroue hoekom alles móét saam) toe hulle sien wat alles in dié motortjie ingepas moet word! Dit is geskenkpakkies, Lig-tydskrifte, Susters-bemarkingsitems, bokse Perdeberg-vonkelwyn en natuurlik ons bagasie! Vyf ure Bloemfontein toe en vyf ure terug, het my net weereens laat besef hoe kosbaar dit is om jou te omring met vroue wat jou oplig, met wie jy oor nonsens kan gesels, die wêreld se probleme kan oplos en sommer net laf wees.

Wat ek besef het, is dat susterskap jou nie net aanmekaar bind met dieselfde DNS nie, maar dit is ʼn hartsding. Daardie persoon met wie jy dinge kan deel wat net sy sal verstaan, saam met wie jy kan lag, en saam wie jy kan huil.

WhatsApp-Image-2018-04-12-at-12.43.05.jpeg

Foto: Amanda Prinsloo

Ná elke voorskou het die dankies ingestroom:

Dankie, ons het nou so lekker saam gelag en saam ʼn traan gepink.
Dankie vir die groot bederf.
Dankie dat ek die voorreg gehad het om my beste vriendin/my sussie/my ma kon saambring vir ʼn bietjie bederf. Dankie vir vriendskap.

Vriendskappe, of te wel, susterskap, wat goed is vir jou, moet gekoester word en opgepas word. Dit is kosbaar.

En nou weet ek sommer ook wat ek die heel meeste mis van my tyd in die Kaap … my susters wat ek moes agterlaat!

Susters is tans nog by verskeie teaters landswyd te sien. 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae