Dié woord wen ontbyt op VTM se dak

Van links na regs: Natasha en Salomé Kruger saam met Marina en Marius Wiltersen op die Voortrekkermonument se dak. (Foto: Verskaf)

Probeer om “ghallaghielie” vyf keer ná mekaar te sê.

“Ghallaghielie” is die woord wat Marina Wilters, ʼn onderwyseres van Potchefstroom in Noordwes, ingeskryf het vir die Voortrekkermonument se gunstelingwoordkompetisie ter viering van Taaldag.

Wilters vertel sy is besig om ʼn webinaar oor woordeskat by Edublox, wat in lees- en leerklinieke vir kinders spesialiseer, by te woon.

“Toevallig is daar ʼn gedeelte op die webwerf met ʼn lys van vreemde woorde. Toe ek so deur dié lys gaan, toe kom ek op ‘ghallaghielie’ af.”

“Ghallaghielie” beteken “klein paddavissie”. Dié woord word veral gehoor in die Noord-Kaap langs die Oranjerivier en inwoners in Brits, Ganyesa, Hofmeyr, Humansdorp, Joubertina, Kareedouw, Langkloof, Piketberg en Uniondale gebruik dít ook graag.

Volgens die Virtuele Instituut vir Afrikaans se soekopsie is “ghaddeghielie”, “ghallagoetjie”, “kallaghielie”, “patterghielie” en “vispaddatjie” verwante woorde vir “ghallaghielie”.

Die prys wat Wilters gewen het, was ʼn ervaring van ʼn leeftyd: ʼn Piekniek vir vier mense bo-op die dak van die Voortrekkermonument. Die dak is gesluit vir die publiek en slegs ʼn handjie vol mense kan Pretoria so asemrowend beleef.

Wilters, haar man, Marius, en hulle vriende, Salomé en Natasha Kruger, het saam op die dak gekuier, waar hulle “Ons vir jou, Suid-Afrika” wat in morsekode as waarskuwing vir vliegtuie gesein word, eerstehands kon sien.

“Ons is heerlik bederf. Ons is op met die hysbak tot bo. Dankie tog, ons hoef nie al daai baie trappe te geklim het nie. Daar het ʼn heerlike ontbyt met sjampanje op ons gewag. Daar was vir ons kosblikkies gepak met ʼn jaffel binne-in. Ek het jare laas ʼn  jaffel geëet. Dit was ongelooflik lekker,” vertel Wilters.

Ander unieke woorde wat ingeskryf is, is “poelpetater” en “poelpetaan”, albei sinonieme vir “tarentaal”; “kampernoelie” (eetbare sampioen) en “laventelhaan”.

Die Voortrekkermonument het ‘n paar vrae aan Wilters gevra. Luister in dié video hoe sy probeer om “ghallaghielie” vyf keer ná mekaar te sê:

???????????????? ???????? ???????????? ????????????????????????????-???????????????????????????????????????? ????????????????????????!

Hier is ons Taaldag-kompetisie wenner! Marina Wilters het met die woord. ‘ghallaghielie’, gewen. Kyk gerus.

Posted by Voortrekkermonument on Saturday, September 11, 2021

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Estelle ·

MM, julle vier Taaldag, maar maak ‘n spelfout op die video: “vinning” in plaas van “vinnig”

Janice du Plessis ·

Dagsê Estelle
Baie dankie vir jou kommentaar.
Die video is aan ons deur die Voortekker Monument verskaf. Ons sal die fout onder hulle aandag bring.
Dankie! Groetnis
Janice
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.